Narsisme: Mense van die leuen

Vir die narsis bestaan ander mense nie. Ander mense is bloot verlengstukke van hulleself, verduidelik FRANCOIS PREISS.


Volgens ’n studie van Grijalva en Harms, Narcissism and leadership: A meta-analytic review of linear and nonlinear relationships (2014), is daar ’n toename in openbare belangstelling in narsisme. Imogen Tyler het narsisme die patologie van ons tyd genoem. Volgens navorsing is hierdie steurnis aan die toeneem. Die benaminge “narsisme” of ’n “narsisistiese persoonlikheid” vind sy oorsprong in ’n gedig oor Narsissus en Echo. Narsissus se selfverliefdheid het tot sy selfverwoesting gelei. Hy het eendag by ’n poel water verbygestap en gebuk om water te drink en verlief geraak op sy eie weerkaatsing. Daar het hy bly sit en op die ou einde gesterwe.

Die Britse sielkundige Havelock Ellis was in 1898 die eerste persoon wat die storie van Narsissus gebruik het om patologiese selfbeheptheid te beskryf. Freud het daarop voortgebou en narsiste beskou as sjarmante persone wat meesterlik in staat is om ander te manipuleer. Narsiste is uitgeslape in die sin van listig, skelm en altyd ingestel om te kyk hoe hulle hulleself kan bevoordeel.

Selfverliefdheid

Narsisme kom neer op selfverliefdheid. Dit gaan oor selfsug, egosentriese gedrag en selfingenomenheid wat die eie ek tot middelpunt maak. By sulke selfgesentreerde en selfbehaaglike mense draai alles om hulleself. Hulle kan konstant en aanhoudend oor hulleself praat en verstaan blykbaar nie dat verhoudinge nie ’n eenrigting-kommunikasie kan wees nie.

By narsiste is verhoudings nie regtig verhoudings nie. Hulle voer nie dialoog nie, maar hou monoloë, hulle gee lesings en besluit wanneer om ’n gesprek te stop. Verder is hulle geneig om te spog ten einde die applous en erkenning te kry wat hulle narsisme naarsigtelik soek.

Grandiositeit

Verder is die tipiese kenmerke wat jy by ’n narsis sal vind die volgende: grandiositeit of grootheidswaan. Grandiose gedrag vind jy by iemand wat baie daarvan hou om aandag te kry. Hulle wil oordrewe indrukwekkend en groots vertoon. Hoogmoedige mense kyk op ander neer. Hulle soek voortdurend na erkenning. Hulle sien hulleself as baie belangrik,en tog het hulle ’n chroniese lae selfbeeld.

Hulle maak nooit foute nie. As narsiste ’n fout begaan het erken hulle dit nooit nie. Inteendeel, hulle verplaas die skuld op iemand anders. Dit word gedoen deur die meganisme van projeksie. In hulle hart is hulle bo enige verdenking. Narsiste sal mense op die altaar van hulle eie selfbeeld van volmaaktheid offer.

LEES OOK: Help! My man is ’n narsis

Hulle hou daarvan as hulle aandag kry en soek na roem en selfverheerliking. Hulle meen hulle is geregtig daarop om dinge te kry. Hulle sal spog oor meevallers – ’n onverwagte geluk wat na hulle kant toe kom. Die aansprake, leuens wat hulle maak is niks anders as oordrewe nie. Hulle praat en dink baie keer in hiperboliese terme en laat hulle luisteraars met stomme verbasing oor die leuens en grootpratery.

Narsiste kyk voortdurend uit na iemand om uit te buit. Hulle dink altyd eerste aan eiebelang en ander mense se gevoelens laat hulle koud. Hulle toon selde berou en in sommige gevalle vertoon hulle geen teken dat hulle ’n morele kompas het nie. Hulle het eenvoudig geen kapasiteit vir verleentheid nie.

 Mense van die leuen

Net soos met sosiopate (vandag bekend as mense met ’n anti-sosiale persoonlikheidsteurnis) is hulle behep met ’n selfbeeld van volmaaktheid. Hulle is baie daarop ingestel om goed te vertoon. Verder is hulle ook behep oor hoe hulle uiterlik vertoon. Hulle het ’n gebrekkige motivering om goed te wees, maar hulle het ’n intense begeerte om goed te lyk. Maar dit is alles aanmatigend en pretensieus. Dit is eintlik in effek ’n leuen. “The evil are the people of the lie, deceiving others as they also build layer upon layer of self-deception” (Peck 1983:74). Die leuen is nie soseer gerig daarop om ander te mislei nie, maar hulleself.

Hulle kan nie en wil nie hulleself onder pynlike selfondersoek plaas nie. Hulle vrees is om blootgestel te word. Daar is ’n onwilligheid by hulle om enige teenstand te duld … “they will do anything possible to flee the light-shedding process of therapy.” ’n Narsis wat onder groot druk vir terapie moes gaan, het na die tyd gespog en gesê: ”Ag, ek vertel die terapeut net wat ek wil.” Daar is geen insig nie.

Sjoe, dit is erg – hierdie steurnis. “For the complete narcissist, others have no more psychologic reality than a piece of furniture.” Vir die narsis bestaan ander mense nie. Ander mense is bloot verlengstukke van hulleself. Solank jy na sy pype dans, is daar nie probleme nie, maar die oomblik as jy verskil, begin die poppe dans. “The blindness of the narcissist to others can extend beyond a lack of empathy; narcissists may not ‘see’ others at all” (Peck 1983:155).

Hoe kom jy uit so ’n toksiese verhouding?

Wanneer ’n mens tot die besef kom dat daar ’n kwaadwillige narsis in jou lewe is, moet jy ’n veiligheidsplan in werking kry om jouself te beskerm. Een of ander tyd sal jy ’n besluit moet neem. Wendy Behary het ’n boek geskryf: Disarming the narcissist, met die subtitel Surviving and thriving with the self-absorbed. Die gevoelens van ’n gesonde mens is om jou los te skeur. Dit gaan in hoofstuk ses in haar boek oor: “Making an exit: Escaping perilous narcissism.”

Weersin is ’n kragtige emosie wat maak dat ons onmiddelik die weersinwekkende situasie of persoon wil ontvlug … “to escape the revolting presence”. En dit is presies die mees geskikte ding vir ’n gesonde mens om te doen wanneer hulle gekonfronteer word met ’n bose teenwoordigheid: Maak jou uit die voete. Die bose is weersinwekkend omdat dit so gevaarlik is. Dit sal jou besoedel as jy te lank in die kring van die bose bly. Daarom is die beste ding om te doen om weg te hardloop. Onttrek jou aan so ’n toksiese persoon. Moet jou nie van stryk laat bring deur narsiste se leuens wat chaos en verwarring bring nie. Hulle hele lewe is een nare leuen.

Uit ’n morele perspektief maak hulle ’n mens so kwaad dat jy moedeloos voel. Soms word na hulle verwys as “moral imbeciles”. Aan die ander kant kry ons hulle jammer omdat hulle sulke tragiese figure is. Daar skuil ’n innerlike armoede en ’n leegheid binnekant hulle, ’n tekort, ’n swak gevormde ek, innerlik beseerde mense en ’n onversadigbare honger. Dit is wat die pastorale teoloog Donald Capps in sy boek The depleted self: Sin in a narcissistic age bespreek.

Daar is nog baie wat beantwoord moet word. Baie dinge wat gesê moet word. Wat veroorsaak hierdie steurnis? Is dit geneesbaar? Is daar hoop? Hulle is bejammerenswaardig, hierdie mense, “these people of the lie”.

Is daar hoop?

Geleerdes sien vroeë emosionele verwaarlosing as ’n moontlike oorsaak van narsisme. Die sielkundige Simon Baron-Cohen se teorie is soos volg: Wat die fasiliterende figuur (moeder of ander versorger) die kindjie in daardie eerste belangrike jare gee, is soos “an internal pot of gold”. Deur ’n kind op te vul met positiewe emosies is baie meer kosbaar as enige materiële ding.

Dit wil vir my voorkom dat voorsorg die sleutel is vir die ontwikkeling van gesonde, volwasse menswees en ’n stabiele samelewing waar mense nie net aan hulle eie belange dink nie maar ook aan dié van ander.

  • Francois Preiss, ’n konsultant by House of Learning, is in 2020 oorlede.