Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Cas Wepener: Oor ruimtes en rolle


“Moenie jou dominee-ding met my doen nie!” Dit is die woorde van ’n vriend se vrou. Waarna sy verwys, is wat ons handboek in pastorale berading die “empaties-liefdevolle luisterhouding” genoem het. Dit is ’n (hou)ding of rol wat dominees in verskillende ruimtes vertolk, selfs tuis.

Dit werk so: Jy sit in die studeerkamer van die pastorie en werk aan ’n preek. Kort tevore is ’n gesprek met die Van der Merwe’s oor ouma se begrafnis gevoer; oor ’n uur kom die voorsitter van die kerkraad; later sien jy ’n paartjie vir ’n huweliksvoorbereidingsgesprek – alles in die pastorie. Intussen het jy ook gehoor hoe die kinders na skool tuiskom en later weer vertrek na ’n sportoefening. Een het gevra of hulle jou gou iets kan vra en jy het “moenie hom nou pla nie, wag liewer tot vanaand” gehoor. Jy werk verder aan jou preek.

LEES OOK: Kerkleiers oor Dag van Verootmoediging op 13 Augustus: ‘Ons wil na Here se wil vra’ 

Na ’n ruk staan jy op om vir jou ’n beker tee te gaan maak. In die gang tref jy jou vrou aan en jy sien iets is nie pluis nie. Jou gesigsuitdrukking skuif vanaf klein nadenkend-vertikale preekmaak fronslyne op jou voorkop, na die uitnodigend-horisontale en meer pastorale plooie. Jou oë skreef nou sag terwyl jy na haar kyk; jou wenkbroue vorm treurige glooiings terwyl jou kop ’n aks na die een kant kantel, lippe berekend teen mekaar geposisioneer – iewers tussen blydskap en hartseer – want haar woorde en die omvang van die ongelukkigheid sal bepaal hoe ver afwaarts jou mondhoeke moet beweeg. Jou hande hou jy soos gebreekte nagmaalbrood voor jou, oop en uitnodigend. ’n Repertoire frases wat hierdie empaties-liefdevolle luisterhouding vergesel, word in gereedheid gebring: “Wil jy daaroor praat?”, “Hoe laat dit jou voel?” of, net die sag fronsende stilte, terwyl jy natuurlik heimlik voortgaan om die gedagtegang van die preek verder te neem. Jy doen dus, in kort en trefseker opgesom deur my vriend se vrou – “die dominee-ding”!

En, daar is niks fout met die dominee-ding nie. Elke beroep het so ’n (hou)ding. Elke beroep het ’n hoed wat jy moet dra, of ’n toga of ’n beret of ’n wit jas. Die verskil is egter, dis my vrou, nie my lidmaat nie. Boonop is ek tuis en nie op die preekstoel, in die hof of in die hospitaal nie. Haar versoek om nie die “dominee-ding” met haar te doen nie, getuig van insig dat ek besig is om ruimtes en rolle te verwar. Die gang is huis, nie spreekkamer nie en ek is haar man, nie haar dominee nie.

LEES OOK: Christina Landman se stem (en credo) klink op uit die hart van ons land se baie pyn

Ruimtes bestaan nie sommer net nie, ruimtes word voortdurend geskep. Neem as voorbeeld ’n leë saal. Maak dit vol stoele, kry ’n band, sing lof- en aanbiddingsliedere, bid, en saal is omskep tot kerk. Spreek die seën uit en verdaag die kerkdiens, maak dieselfde saal vol skoolkinders en sit die personeel in rye op die verhoog en jy’t nie meer kerk nie, maar skool. Sing die skoollied, verdaag die personeel en vervang die personeel op die verhoog met ’n DJ en laat die kinders die stoele by die sydeure uitgooi … en skool is lekkerder. Of jy nou bid, luister of dans, daardie saal is, wat fisiese ruimte aanbetref, steeds een en dieselfde saal. Dit is die mense wat in die saal inbeweeg het wat met hulle teenwoordigheid en die rolle wat hulle daar vertolk telkens die ruimte herskep het.

So is ek onlangs by mense waar die man nou post-pandemie sy prokureursfirma van die huis af bedryf. En jy tref hom nie net in sy studeerkamer aan nie, maar dikwels ook in ander dele van die huis: voor ’n oop yskas in die kombuis; uitgestrek op die bank op die stoep; in die voortuin. Maar maak nie saak waar in die huis of op die werf hy is nie, hy dra ’n kraaghemp en das; het sy selfoon se mikrofoontjie in die oor en is immer pratende besig om die “prokureur-ding” te doen. Die “prokureur-ding” is baie anders as die “dominee-ding” – die liggaamshouding en gebare is saakliker, die woordeskat getuig van kennis en beheer, die toonaard effens aanvallend in diens van die kliënt, die waarheid is beskikbaar teen ’n vasgestelde bedrag per uur. En so word die huis as ruimte met hierdie rolvertolking herskep tot firma.

Vele huise is post-pandemie herskep tot meerdoelige ruimtes sodat die private domein van huis en publieke domein van werk vervloei. Jy is dus nou in een en dieselfde ruimte pa en prokureur, ma en makelaar, ouer en ouditeur, eggenoot en entrepreneur. Dit is ’n nuutjie vir baie huise. Dit is ’n uitkoms vir vele met heelwat voordele. ’n Huis kan inderdaad meerdoelig wees. ’n Huis kan ook, wanneer ruimte so geskep word en vervloei, eintlik eendoelig verword tot tydlose tyd en ruimtelose ruimte en uiteindelik net een ding – werkplek.

LEES OOK: ‘Drankverslawing is onlogies, onverstaanbaar, crazy’ sê nuwe boek oor die voorkombare verwoesting van alkoholafhanklikheid

In die verlede was die prokureur-ding beperk tot die kantoor en het dieselfde prokureur hoofsaaklik die ma-ding en eggenote-ding tuis vertolk. Wat ons waarneem kan nog beter gesien word in die lig van die werk van die Amerikaanse sosioloog Irving Goffman. Goffman gebruik dramaturgiese teorie om te wys “all the world’s a stage and all the men and women merely players”. Ek beweeg daagliks van die verhoog van my slaapkamer na die eetkamer, na die garage na die lesinglokaal, na die vergadersaal, na die koffiewinkel, na die wandelpad, na die TV-kamer. En in elkeen van hierdie ruimtes het ek ’n rol wat ek vertolk – eggenoot, ouer, dosent, kollega, vriend, flaneur. En elke rol vereis ’n sekere vertolking van die rol. Ek kan nie dosent vir my seun, kollega vir my vrou, of ouer vir my student wees nie. Ja, ek kan, maar ek moenie. En dit is belangrik om dit te weet in tye waarin ruimtes begin vervloei, waar daar nie meer sterk grense tussen werkplek en woonplek is nie. Elke ruimte is ’n unieke verhoog met ’n ander toneelstuk wat daar afspeel en vra dus vir ’n bepaalde vertolking van jou rol op daardie spesifieke verhoog. Wanneer jy Hamlet speel in Macbeth, wel, dit kan en gaan die gehoor verwar en selfs ontstel.

Hierdie vervloeiing van ruimtes is dalk nuut vir sommige huise, maar dis niks nuut in ’n pastorie nie. Inteendeel, pre-pandemie, pandemie, post-pandemie, in ’n pastorie is dít “business as usual”. Die wysheid van die vele pastorie-moeders en pastorie-vaders, naamlik “moenie die dominee-ding met my doen nie”, kan dalk in ons dag goedskiks uitgebrei word na ander huise en na “moenie die prokureur-, terapeut-, boer-, makelaar-, of juffrou- of meneer-ding met my doen nie.” Natuurlik is dit nie altyd moontlik om dit nie te doen nie, maar om daarop bedag te wees, word wel deur al die ander akteurs op die verhoog van die huis waardeer.

Prof Cas Wepener doseer Praktiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Cas Wepener: Oor ruimtes en rolle”

  1. TIAAN VAN NIEKERK

    Altyd interessant hoe ons ons spasies perceive en soms vir mense moet sê: “Ek is nie nou wie jy dink/verwag/vrees ek is nie.” ‘n Ruk gelede het familielede deur ‘n ernstige krisis gegaan en ek het haastig deurgery om te gaan ondersteun. Toe ek en my een neef later op ‘n bank sit, sê ek vir hom: “Ek is nie hier om dominee-dominee te speel nie. Ek het net kom ondersteun.” Sy antwoord was: “Ek is bly, want anders sou ek jou gem**r het.” So, dit het soms waarde om die mense met wie mens te doen het te verseker: “Ek is met jou as jou vriend/ouer/familielid. Jy kan nou maar jouself wees.”

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.