Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Christina Landman se stem (en credo) klink op uit die hart van ons land se baie pyn

Christina Landman – ’n Lewe

Uitgewer: Lux Verbi

Resensie deur Le Roux Schoeman

 

Hier het ons die pakkende verhaal van ’n dominee, dosent, ma, navorser, narratiewe terapeut, rubriekskrywer, historikus van mondelingse oorvertellings … Iemand wat deur haar lewe, soos die digter Rilke ons almal aanmoedig, haar vrae gelééf het en nou haar insigte met vernuf en waagmoed deel.

Vernuf want die sinne is kort, die beelde vars. Karakters leef op die blad. En leef vóórt ná ’n mens omblaai. Waagmoed want sy praat oor sukses én seer. ’n Prof, kerkleier en voorloper wat wroeg met wat sy as ’n “identiteit van mislukking” beskryf.

’n Mens sou seker die onlangs afgetrede Christina Landman, wat destyds ’n “teoloog tussen die manne” geword het, ’n buitestaander kon noem en hierdie teks onder so ’n lens plaas. Maar breër perspektief toon iemand wat met haar intellektuele gawes en met toewyding tot haar eie belangstellings die pyn van ander gevolg het tot reg in die brose middel van ons samelewing en land.

In sisteme sit sy soms vas, maar in die terapeutiese konteks bied sy die soort empatie wat ontelbare mense in ons land letterlik nêrens in die hande kan kry, blyk dit. Vir mense met pyn, bied sy ’n oor en wanneer haar instink sê haar ingrype hertraumatiseer van die mense, dan neem sy kennis en slaan ’n nuwe koers in – van langer luister, meer companionship. Só daag sy implisiet ook joernalistieke praktyk tesame met akademiese praktyk (tafelnavorsing, noem sy dit!) en teologiese praktyk uit. Sy vertel: “Wat glo jy wanneer jy MIV-positief is? vra ek honderde plaaswerkers in Hoedspruit. Wat bid jy wanneer jou man jou slaan? vra ek Venda-vroue in Thohoyandou. Word jy getraumatiseer as die kerk sekulariseer, oftewel verwêrelds en wegmaak met sy liturgieë en sy preekstoel? En sy orrel? Dit vra ek mense in Afrikaanse hoofstroomkerke.” Dit is die vrae wat prof Landman al vir dekades leef.

LEES MEER: Kerkbode se boekeblad

In hierdie boek praat sy as ’t ware “bo-oor” haar werk, ’n bietjie soos Francis Ford Coppola sou praat bo-oor Apocalypse Now. So ’n mengsel van groot trots en ligte weemoed. En Landman se loopbaan was gefokus maar omvangryk. Uiteenlopende tonele – van ’n tronksel waarin ’n vrou geboorte gee, tot ’n sinodesaal waar een of ander funksionaris moeilikheid gee. Haar vertelstem is soms no nonsense, soos iemand naby aan die einde van ’n lang skof.

“Ek het die kans gehad om in die binneruimte van mense wat pyn het te praat oor geloof wat sterk maak,” skryf Landman. “En hulle het my net altyd en aanhoudend self gesonder gemaak.”

“Ek het die pad na dominee-word begin stap toe die konsep vrouedominee nog nie bestaan het nie,” skryf sy na die einde van ’n boek wat hou by die onderneming om nie ’n terrein van score settling te word nie. Haar verhaal sluit ’n credo in … Enkele paragrawe gewy aan wat Landman glo. Vir dit alleen is die boek ’n moet.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top