Kerkleiers het vandeesweek kerkrade en leraars van die NG Kerk versoek om op 13 Augustus die oggenderediens in te rig met die oog op verootmoediging.
“In hierdie tyd wil ons as kerk voor die Here buig. Ons wil na sy wil vra. Ons wil ons aandeel aan die verval rondom en in ons bely. Ons wil ons kleingeloof blootlê. Ons wil ons wend tot God as die Een van wie ons afhanklik is vir alles wat ons nodig het. Ons wil ons hoop op Hom vestig,” lui ’n uittreksel uit die brief wat aan gemeentes gestuur is deur die Dagbestuur van die Algemene Sinode Moderamen.
- Die skrywe sluit liturgiese voorstelle en besonderhede van ’n aanlyn diens in.
- Lees die volledige brief hieronder en laai die liturgiese voorstelle HIER af.
- Laai ‘n grafika HIER af (in PNG-formaat)
NG Kerk
H/v Jan Shoba- (Duncan-) en Pretoriusstraat
Hatfield
Pretoria
31 Julie 2023
Beste Kollega en Kerkraad
Die Dagbestuur van die NG Kerk se Algemene Sinode het, ná oorleg met die voorsitters van die 10 samestellende sinodes van die Algemene Sinode, besluit om op Sondag 13 Augustus ’n Dag van Verootmoediging te hou. Ons versoek daarom die kerkrade en leraars van ons kerk om op 13 Augustus die oggenderediens in te rig met die oog op verootmoediging.
Waarom nou?
- Ons beleef ’n tyd van ekonomiese ontwrigting. Werkloosheid is buitengewoon hoog. Armoede neem toe. Dit raak ons intens.
- Ons beleef ’n tyd waarin misdaad toeneem. Moord, roof, korrupsie en wetteloosheid bedreig ons.
- Ons beleef ’n tyd waarin die dienste wat deur owerhede aan ons mense gelewer word baie ontoereikend is. Onvoldoende gesondheidsorg, vervoerdienste, opleiding, veiligheidsdienste en maatskaplike sorg is net enkele van die terreine waar mense in die steek gelaat word. Dit veroorsaak onnoembare lyding. Ons word daagliks daarmee gekonfronteer.
- Verreweg die meeste kinders ontvang nie goeie skoolopleiding nie. Hulle toekomsdrome is gevolglik beperk. Só word hulle deel van ’n vernietigende armoedesiklus. Dit maak ons hartseer en bekommerd.
- Die verlies aan en die verval van die infrastruktuur van ons land (paaie, water, elektrisiteit, hawens, en so meer) is uiters ontmoedigend.
- Ons beleef ook ’n tyd van morele verval, sekularisering, karakterloosheid, afsydigheid teenoor mekaar en stryd. Dit beroof ons dikwels van vreugde, vrede en ware geluk.
In hierdie tyd wil ons as kerk voor die Here buig. Ons wil na sy wil vra. Ons wil ons aandeel aan die verval rondom en in ons bely. Ons wil ons kleingeloof blootlê. Ons wil ons wend tot God as die Een van wie ons afhanklik is vir alles wat ons nodig het. Ons wil ons hoop op Hom vestig. Ons wil ons lewenskrag by die Bron van lewe vind. Ons wil met geloofsmoed die toekoms tegemoettree. Ons wil ons opnuut verbind om die evangelie te verkondig en lewende getuies van God se trou en liefde te wees. Ons wil, soos die Bybel ons leer, goeie en aktiewe landsburgers wees wat elke geleentheid aangryp om ander te dien en ’n opbouende verskil te maak. Ons wil deelneem aan die demokratiese prosesse en nie net op die kantlyn staan en kritiek lewer nie. Ons wil hande vat en saamwerk sodat die wêreld sal sien aan Wie ons behoort. Ons wil mense in die Naam van Christus met mekaar versoen met ’n bediening van versoening. Ons wil beweeg van moedeloosheid na hoopvolheid omdat Christus die Here van ons lewe is.
Meegaande is liturgiese voorstelle wat prof Cas Wepener en ds Marileen Steyn geskryf het met die oog op 13 Augustus as Dag van Verootmoediging. Dit help ons om te praat oor die lyding wat ons verduur, maar ook om te beweeg na nuwe denke oor ons drome en toekomsverwagtings. Julle kan uiteraard julle gemeente se diens inrig soos die Gees julle lei, maar mag ons almal saam in nederigheid voor die Here buig en na sy wil vra.
Ons wil ook versoek dat julle julle lidmate sal herinner aan die aanlyn uitsending op 13 Augustus om 15:00 op die NG gemeente Stellastraat in Pretoria se YouTube-kanaal. Dit word aangebied deur die Dagbestuur van die Algemene Sinode.
Met groot dank en waardering
Dagbestuur van die Algemene Sinode Moderamen

Hierdie artikel is ’n mediavrystelling of storie wat aan Kerkbode gestuur is. Dit is geredigeer vir lengte, maar basies gepubliseer soos dit ontvang is. Sien bronverwysing onderaan die artikel.
- Bron: Algemene Sinode Moderamen
- Het jy nuus? Kontak ons gerus per Whatsapp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.
- Hierdie artikel is ’n mediavrystelling of storie wat aan Kerkbode gestuur is. Dit is geredigeer vir lengte, maar basies gepubliseer soos dit ontvang is.
