Alkohol is ’n dwelm, vertel die verslawingspesialis Willie Pienaar. “Elke babelas is ’n mini-onttrekking. As jy een of twee het in jou lewe is dit orraait, maar as jy gereeld babbelas het, dan werk jy aan jou verslawing.” Kerkbode het met hom gaan gesels oor afhanklikheid, nugterheid en die boek wat hy glo ’n brug slaan tussen die twee.
’n Magdom mediese studente by Maties sal hom aan sy stem ken wat al sedert 1980 in lesingsale opklink. Nog meer sal hom ken as skrywer van bydraes soos hierdie hoofstuk in Universiteit Stellenbosch se Handboek vir Psigiatrie: Somatoforme steurings, malingering, faktiewe steuring en psigosomatiese steurings. Binne die sale van Stikland sal nog ander hom ken as bondgenoot in die stryd teen verslawing. In owerheidsgeledere sal die naam dalk herinner aan ’n breër stryd in die samelewing tussen waar alkoholafhanklikes “tuishoort” – onder die maatskaplike of psigiatriese dak … Ook daai fight het Willie Pienaar in sy lang loopbaan ge-fight. “Dit is korrek dat gesondheids-dienste kyk na afhanklikheid,” sê die skrywer van ’n nuwe boek wat op die mees toeganklike wyse haalbaar ’n gids probeer bied vir ’n reis waarlangs vele – oud en jonk – jaarliks in Suid-Afrika en die wêreld sterf, naamlik die pad na “vryheid van verslawing”.
LEES OOK | SOBER-Ressensie Feite oor verslawing met groot kundigheid toegelig
Die boek heet Sober (Lapa-Uitgewers) en hoewel daar twaalf hoofstukke is, is dit nie eksplisiet ’n wegwyser na die kamers van Alkoholiste Anoniem (AA) en die Twaalfstap-gemeenskap waar soveel alkoholiste wêreldwyd ondersteuning vind nie.
Pienaar, ’n emeritusprofessor wat vanjaar 74 word en in Bellville woon, is wel ’n groot ondersteuner van AA en vol lof vir dié en ander benaderings tot die verskynsel van magteloosheid teenoor drank. En, nes AA se medestiger Bill W, meen Pienaar deel van die oplossing tot spirits, is spiritual. Pienaar maak verder die punt dat alkoholafhanklikheid op ’n spektrum lê en dat vele mense betyds kan remme aanslaan voor die siekte ’n houvas op hulle liggaam en gees kry. Laasgenoemde dra egter by tot sy sin van erns met hierdie boek, eerder as wat dit bedoel is om mense op hulle gemak te stel. “Ek was so bewus dat daar derduisende mense is wat smag na daai kennis (oor alkoholverslawing). Soveel predikante, terapeute, dokters. Ek het met my opleiding as dokter nie daai kennis gehad nie. Ek het niks geweet nie! Uit ondervinding en self leer, moes ek dit opdoen. En so baie GP’s het min geweet daarvan. GP’s voel dikwels ongemaklik met die behandeling van pasiënte met ’n onderliggende alkoholprobleem. Toe dink ek, maar skryf die boek sodat die meeste mense dit kan vat en verstaan,” vertel Pienaar.

LEES OOK: Kerke in stukkende gemeenskappe: ‘Ons kan regtig nie meer net praat nie’ – Nioma Venter
So, die een groep lê aan die intreekant van die spektrum en kan uitklim as die gevaarligte betyds by hulle registreer. Ander moet verder gaan. Pienaar sê: “’n Persentasie van mense sterf (aan alkoholafhanklikheid), wat nooit hierdie siekte klop nie. En die groot hoop is, demmit broer, jy kan dit darem een dag op ’n slag klop,” sê hy op sy innemende manier van praat wat ’n driftigheid insluit wat ’n mens dalk nie verwag by iemand wat al ’n jaar of wat sy aftrede in is nie. Jy sou jou misgis. Hoewel hy hier in sy groot jaart timmer aan sy houtwerkprojekte (’n uilhok wat presies gemeet word om meer as 4 m bo die grond te staan, kindertelrame wat hy vir ’n kerkprojek aan ’t ontwerp en bou is en allerlei worse wat hy in sy vleiskamer stop) is Willie Pienaar steeds besiel met die ding wat sy CV oorheers en hom 46 jaar as klinikus geboei het: die mens en drank.
“Jy het nie ’n idee wat die krag is om die ontvlugting en intoksikasie te soek nie. Hoe kragtig daai stimulus is nie. Dis onlogies, dis onverstaanbaar, dis crazy. Jy sê vir die man, jy’s gesond, jy’s talentvol, jy het alles …” Pienaar dwaal af … Die menige terapeutiese doodloopstrate – hoewel daar ook hordes deurbrake en suksesse was – is duidelik nog met hom in die gemoed. “Motivering begin die dag wat jy op jou knieë val en sê ek is magteloos teen alkohol,” sê hy, weer terug in die soort folksy trant van ouer, raadgewende oom, eerder as afstandige dosent.
‘n Siekte wat lekker maak
Die boek is helder en logies. Hoofstuk 6: ’n Siekte soos enige ander siekte. Hoofstuk 7: Wanneer flikker die gevaarligte? Pienaar skud die hogere taal van die akademie af met die energie van ’n kolliehond wat uit koue water spring. “Soberheid is moeilik, maar moontlik,” is een van sy mantras. Nog een is: Alkohol smaak nie so lekker nie, hy maak so lekker. Hy brei uit: “Dis ’n etter, ou maat. Daai effek van alkohol. Hy vat die angs weg, die hartseer, hy vat die skuld wat ophoop weg, hy vat die kwaad weg, hy gee vir jou weer daai losraak, die wegkomslag. En omdat alkohol so lekker werk, kan jy sien hoe hardloop die sneeubal teen die heuwel af. Dis ’n wonderlike gemoedstabiliseerder. Hy werk vir jou anders as vir my, maar hy vat selfs moegheid weg,” vertel Pienaar.
Soos dikwels by wetenskaplikes wat met die breë publiek praat, is die boek deels feitesending, deels opvoedingstaak. “Alkoholafhanklikheid het die afgelope dekade met sowat 50% toegeneem, en dit kom by tot 10% van mense voor,” stel hy die konteks. Alkohol is die dwelm waarteen die meeste mense wêreldwyd hulp vir behandeling soek – maar dit is ook ’n totaal aanvaarbare en gekoesterde deel van ons kultuur, skep hy die konteks. Hy help die leser ook met taal – en stel alkoholgebruiksteuring eerder as alkoholisme voor. Veral wanneer daar na die persoon verwys word … “alkoholis” is te kwetsend.
Die invloed van ‘n pa se tuiskoms
Pienaar se insig en empatie vir die siek persoon, het dieper wortels as sy studies. Dit is ook dié van ’n seun wat sy pa se drankprobleem moes waarneem en die psigiese letsels daarvan dra, hoewel dit blyk dat hy op bewustelike vlak werk met die idee van ’n eenvoudige, aartsgoeie pa (hy’t vir my spykerskoene gekoop!) wat ’n swak gehad het.
As ’n mens Pienaar daaroor pols, kom dit: “Ek kon in my lewe nie vra vir ’n meer liefdevolle pa nie. En hy het by tye te veel gedrink en dan is dit nag in die huis, want my ma was baie gekant teen die drank – dit het my angstig gemaak en ook vir my verantwoordelikheidstuipe gegee … ek was die enigste seun (twee susters), dalk verantwoordelik gevoel vir te veel. En definitief het dit vir my maak besef dat alkoholafhanklikheid ’n siektetoestand is. Dit is nie sleg mense nie, dis wonderlike mense.” En toe word die senuagtige seun van Tiervlei (deesdae Parowvallei) wat op sy spoorwegwerkerpa se tuiskoms wag, ’n psigiater en later kliniese hoof van Stikland-hospitaal. Binne-in die loopgrawe van die stad se stryd teen nie net drankverslawing en die sosiaalmaatskaplike gevolg nie, maar alle verslawing.

Die maneuvers van ontkenning: minimaliseer, rasionaliseer, projekteer
“Jy kan sê, ja, dis ’n selfverworwe siekte. Hy het ’n oorsaak, hy het geestelike veranderinge, hy het fisiese veranderinge, jou brein, jou lewer, jou niere, jou testes, die hele ou works word aangetas … Maar die rede is nie moedswilligheid nie. Dit voldoen aan die definisie van ’n siektetoestand … Wat verander is, as jy kanker het, dan moet ek (as dokter) uithaal en wys … jy kyk in my oë en ek moet sny en ek moet chemo,” verduidelik Pienaar opgewek. Maar vir een of ander rede, as die diagnose van hierdie dranksiekte kom, skop daar dikwels ’n rits verdedigingsmeganismes in (hy lys dit ook in die boek). Maneuvers soos rasionalisering (as jy geweet het wat ek weet), projeksie (die probleem lê by ander), minimalisering (dit was nie so erg nie), intellektualisering (kom ons redeneer) en die grote: ontkenning (moenie praat, moenie voel).
Pienaar se eie verhaal het hom dalk bestem om veral die punt te benadruk dat die siekte ’n equal opportunity-siekte is, by wyse van spreke. Hy kan oral in die samelewing ewe hard tref. “Ek het vroeg in my lewe geleer, as kind in my eie huis, dit gebeur met God se wonderlike skepsels … dit gebeur oor die hele spektrum van ryk, arm, klein, groot. Daar’s niemand wat gevrywaar is van die ontwikkeling van alkoholafhanklikheid nie.”
Danksy ’n groot geleerdheid kan Pienaar ook die wêrelde van die laboratorium en die spreekkamer en selfs sitkamer versoen en gewoon die leser inlig rondom algemene vrae waaroor soveel wonder: “As jy ’n familiegeskiedenis het (is dit ’n risikofaktor). As jy as jong man of meisie agterkom dat jy alkohol beter kan verwerk as ander – jy kan meer bo ingooi – dan moet jy oppas,” sê Pienaar oor die volgende risikofaktor. “Ek sê dit baie duidelik in die boek, ek is nie ’n slagoffer van my gene nie; ek is kwesbaar, ja, maar as jy vir my sê, ‘oppas, daar is suikersiekte of oorgewig in my familie,’ gaan ek versigtig wees. Dit is ’n kwesbaarheid wat in die holte van my hand is.”
Ons stap deur die Pienaars se agterplaas, wat lê langs die Elsieskraalrivier. Wingerde oortrek ’n nabygeleë koppie en ’n gewilde wynroete warm hier op. “Ek is nie teen alkohol nie,” sê Pienaar. “As jy vir my sê, maar Willie, dit is ’n verskriklike ding, ons moet die wingerde uitkap, sê ek, ‘nee, nonsens man’. Omtrent 50% van mense geniet ’n glasie goeie wyn. As jy hulle vat, sal jy sien hulle drink redelik min. Maar daar is ’n perk wat jy oorskry. En daai perk het ons eers gedink is veel meer, maar dis veel minder.”
