Nioma Venter praat met Heléne Meissenheimer oor vroeëkinderontwikkeling en die ontstaan van die Little Seeds VKO-eenheid, “netwerkbediening” en haar eie lewenspad tot hier.
In Augustus is dit een jaar sedert ds Nioma Venter tydens ’n naweek, wat die kwik snags onder vriespunt gaan draai het, ’n nagmaalsdiens gelei het by die Karoodorp Fraserburg se NG gemeente.
Sy was daar as predikant in sinodale diens (PSD) vir diakonale diens (voorheen diens van barmhartigheid) saam met spanlede van die Little Seeds Eenheid vir Vroeëkinderontwikkeling (VKO). Hulle was by hierdie gemeente om onder andere te gesels oor VKO as strategie om die armoedesiklus in hierdie plattelandse gemeenskap te breek. Saadjies is gesaai oor maniere waarop lidmate betrokke kan raak by storievertelgroepe om deur die vertel van stories vroeë geletterdheid by klein kinders aan te moedig.
Die gemeente se predikant is beroep kort na die span se besoek, so toe die Little Seeds-span in Junie terugkeer, het hulle gewonder of daar iets gebeur het met “die saad wat (die vorige jaar) in die Karoogrond geplant is”, soos Nioma oor die Junie-besoek geskryf het op haar Facebookblad. Sy het ook vertel die span is toe ingewag deur ’n opgewonde groep VKO-onderwysers en assistente, vrywilligers, maatskaplikedienswerkers, die biblioteek en grondslagfase-onderwysers vanuit die gemeenskap. Almal byeen gebring deur die inisiatief van een van die gemeente se lidmate.
Fraserburg se nuwe groep storievertellers vorm deel van ’n groter netwerk van sowat 198 vrywilligers (waaronder onderwysers, ouers, biblioteekpersoneel) oor drie provinsies heen wat reeds opgelei is om “storievertellers” te word, volgens Little Seeds se statistieke.
As aanhef bo haar Facebook-plasing skryf Nioma, “Die NGK, VGK en Badisa is ernstig oor ons strategie om armoede en ongelykheid te beveg.” Kerkbode het onlangs met haar gesels om meer uit te vind hoe ’n program wat fokus op die begin van storiegroepe vir klein kinders dan kan help om armoede in ons gemeenskappe te beveg.
Ons gesels op ’n wintersoggend terwyl ons rooibostee drink uit die fyn koppies van haar porseleinteestel met die blommetjies op. Dit is haar “pastoriestel”, spot sy. Op die mat in ’n sonkol lê die gesin se sewejarige Bostonterriër, Fiela, salig en snork in droomland.
Dit voel alles so huislik en gemaklik. Niks aansit by hierdie kerkleier in haar groen denimbaadjie en jeans wat hoop om eersdaags die titel van doktor voor haar naam te skryf nie. Haar doktorale tesis gaan dan ook oor die Little Seeds-inisiatief en die samewerking tussen kerk en maatskaplike diensorganisasies in dié verband.
“Dit is eintlik so logies,” vertel hierdie ma van twee wat eers ’n maatskaplike werker was voor sy haar hart gevolg het om NG dominee te word. Twee loopbane wat in haar woorde perfek bymekaar kom in haar pos as PSD.
Ons gesels begin by Nioma se grootwordjare op Upington waar haar kosteroupa haar die NG Moederkerk se klok laat lui het tot by haar vertwyfeling na skool of sy maatskaplik of teologie moet studeer. Dit was 1988 en vroue is nog nie toegelaat op die kansel in die NG Kerk nie. “Toe kies ek maar die veiliger opsie al het ek in my hart die oortuiging gehad dat ek bitter graag in die bediening wil wees,” onthou sy waar ons in haar en haar man Leon se voorstedelike meenthuis sit waarheen hulle laasjaar getrek het. Hulle twee kinders, Nickus en Esté, woon steeds by hulle, maar is besig om hulle eie lewe te begin lei.
Dit was Leon wat haar na hulle troue in 1996 oortuig het om tog haar hart te volg om predikant te word. Sy vertel selfs toe het dit haar nog ’n paar jaar geneem om hierdie besluit te neem. Hulle oudste was ’n kleuter en die tweede op pad toe sy in 2003 eindelik die stap neem om voltyds teologie te studeer op Stellenbosch.
Hierna volg vele eerstes. Sy was Prieska se eerste vroueleraar, daarna in 2019 die eerste vrou om as ondervoorsitter verkies te word op die bestuurspan van die Wes-Kaapse streeksinode. Later dieselfde jaar word sy verkies as assessor (ook ondervoorsitter) op die dagbestuur van die Algemene Sinode Moderamen, ook die eerste vrou in hierdie pos.
Lees ook: #slypskool2021: Pandemie verbreek kerk se selfisolasie
Op die vraag oor of sy dink dit is belangrik vir die kerk om vroue in posisies van leierskap te hê, antwoord sy filosofies dat dit wat belangrik is, is wat iemand na die tafel bring. Sy het nog nooit aan haarself gedink as ’n kwotaspeler nie. Dit moet gaan oor verdienste, maar voeg dan by dat groter diversiteit bydra tot meer sukses vir enige organisasie.
Dit was tydens die Algemene Sinode van 2015 dat besluit is die NG Kerk sal by vroeëkinderontwikkeling (VKO of ECD in Engels) betrokke wil raak, want wêreldwyd dui navorsing aan dat dit die mees effektiewe beginpunt bied om die siklus van armoede in gemeenskappe te breek.
Soos sy verduidelik: “Ons kan nie dieselfde goed op dieselfde manier bly doen en ander uitkomste verwag nie,” en voeg dan by, “ons kan rêrig nie net meer praat nie”.
Nioma vertel dit was in reaksie op hierdie besluit dat die Wes-Kaapse sinode die Little Seeds VKO-eenheid begin het as ’n vennootskap wat Diaconia namens die NG Kerk saam met die Wes-Kaapse NG Kerk se maatskaplike hulporganisasie, Badisa, aangepak het.
Oor hierdie vennootskap is sy diep dankbaar, want die NG Kerk en haar kerklike maatskaplike organisasies soek glo al vir jare om volhoubare maniere te kry om met mekaar saam te kan werk. Sy meen die sukses van Little Seeds kan ’n prototipemodel bied vir ander om te volg.
Daar is elders in die land ook NG gemeentes en kerklike maatskaplike organisasies met ’n fokus op VKO, maar die Wes-Kaapse sinode sal steeds graag die lesse wat met Little Seeds geleer is wil deel. ’n Baie spesifieke model en gemeentestrategie is gevolg wat blyk by te dra tot effektiwiteit en volhoubaarheid.
Sy noem hierdie manier van handevat tussen verskillende kerke, organisasies en beroepe soos nou in Fraserburg gebeur het “netwerkbediening”. Sy verduidelik dit is ook “eintlik so logies”, want kerke beskik oor die regte sterkpunte om die proses vir die bou van goeie netwerke in hulle gemeenskappe te laat ontkiem: Hulle kry mense bymekaar, bou verbintenisse en is goed met kommunikasie, want predikante is mos in die woordebedryf.
(Vir meer oor kerke en die bou van netwerke kyk ook Nioma se aanbieding as spreker by die jaarlikse Winterskool van die Fakulteit Teologie by Universiteit Stellenbosch: Nioma Venter | Winter School 2023)
Ons gesprek skuif na hoe haar belangstelling in netwerke vir haar sin maak uit haar geloof. Sy verduidelik soos sy dit verstaan dat God ons deel maak van sy eie besorgdheid oor mense en ons dan in beweging bring, presies soos ’n liggaam in beweging kom. Geen deel van die liggaam kan in isolasie van die res funksioneer nie; ons het mekaar nodig om saam daartoe mee te werk dat mense die volheid van ’n lewe in God kan geniet.
Buite in die natuur, selfs in haar klein agtertuin, sien sy iets van netwerkfunksionering raak, ’n “interafhanklikheid tussen dié wat plant en dié wat natmaak en dié wat oes”. As kerk moet ons saam met ander onsself vir die langtermyn verbind om diep en volhoubare verandering in Suid-Afrika mee te bring.
Ons kuier sluit af met ’n stap deur die agtertuin, want Nioma wil graag ’n ryp blomkool saamstuur vir aandete.