Terwyl Covid-19 en die gepaardgaande regulasies van ’n nasionale grendelstaat in 2020 die gewone gang van die ganse land ingeperk het, onthul navorsing interessante en verblydende tendense in die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, skryf NIOMA VENTER.
Trouens, die kerk se droom om teen 2030 oortuigend deel te wees van ondersteunende vennootskappe in die samelewing wat die werklike nood van mense aanspreek, het tydens Covid-19 vinniger in beweging gekom as wat ’n nasionale kerkvergadering in Oktober 2019 waarskynlik sou dink.
LEES OOK: #slypskool2021: Taakspan sit data neer voor storievertellers
Die gemeenskap van Citrusdal is ’n sprekende voorbeeld. Neem jy die N7, verby Piketberg en oor die Piekenierskloofpas, word jy begroet deur ’n vrugbare vallei, goudgeel van die sitrusvrugte in seisoentyd. Daar, op die oewer van die Olifantsrivier, staan die deure van die kerk figuurlik gesproke wawyd oop in die harde nuwe werklikheid van selfisolasie en grendeltyd in 2020. Sarel Eloff, maatskaplike werker in diens van die NG gemeente, getuig dat die pandemie die gemeenskap op ’n merkwaardige wyse verenig het. Die NG gemeente en die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) het ’n leidende rol hierin gespeel met ’n reeds bestaande inisiatief, Action for Community Transformation (ACT) Citrusdal. Dr Eugene Fortuin, tans dosent aan die Universiteit van die Vrystaat en voormalige leraar van die VGK op Citrusdal, verduidelik dat ACT ’n uitstekende basis vir samewerking tydens die pandemie gebied het. Hy verklaar voorts dat die pandemie die plekke van werklike armoede in die vallei nog duideliker uitgewys het. Plaaslike diensorganisasies, die polisieforum, die landbousektor, sakekern, plaaslike owerheid en natuurlik die kerke hier, het soos een mens saamgestaan en verseker dat nood geïdentifiseer word en behoeftes aangespreek word.
Citrusdal se verhaal korrespondeer met navorsing in die Wes-Kaap na die eerste maand van isolasie. Hierdie ondersoek toon dat 75% van alle NG gemeentes inskakel by uitgebreide netwerk-vennootskappe vir humanitêre ondersteuning in plaaslike gemeenskappe in dié tyd.
LEES OOK: #slypskool2021: ‘Die olifant in die kamer’ is nie só groot
Dit is goeie nuus vir die NG Kerk. Dié kerk het in 2019 ’n span aangestel om ’n scenariobeplanningsproses onderweg na 2030 te lei. Die opdrag was eenvoudig: Help ons om die droombestemming van die kerk oor tien jaar te visualiseer. Gerugsteun deur ’n omvattende proses van navorsing, kon die paneel uiteindelik in Oktober 2019 ’n droomscenario aan ’n algemene sinodale kerkvergadering in Johannesburg voorlê. Die vergadering aanvaar die 2030-visie van ’n kerk wat oor wye grense hande vat met ander. Prof Kobus Schoeman, dosent aan die Universiteit van die Vrystaat en een van die leiers van hierdie strategiese proses, verduidelik dat verskillende scenario’s as toerusting vir gesprekvoering oor keuses en opsies vir die kerk ontwikkel is. Insette oor ’n periode van twee jaar is gebruik om verskillende uitkomste te visualiseer. “Uiteindelik is die deelname van 840 gemeentes (76% van die totale aantal NG gemeentes), 6 080 aktiewe lidmate, 147 jong leraars, 27 meningsvormers vanuit die kerk en 316 indrukke uit ’n Kerkbode-peiling gebruik om ’n ideale toekoms vir die kerk te visualiseer,” verduidelik Schoeman. “Dit is duidelik dat die kerk van die toekoms minder op hulleself en meer op die plekke van die grootste nood in ons land wil fokus,” sê hy.

Dit is veral die stemme van jong geestelike leiers in die kerk wat die droom van betekenisvolle gemeenskapsbetrokkenheid onomwonde stel. “Geloof het alles te make met kwessies soos maatskaplike nood en regstellende geregtigheid,” verwoord dr Cobus van Wyngaard, medeprofessor in Sistematiese Teologie by Unisa, die stem van die grootste meerderheid (60%) leraars onder die ouderdom van 40 jaar in die NG Kerk.
LEES OOK: #slypskool2021: Jong predikante wys hulle raak ook maar sat vir skerms
Uit genoemde navorsing toon die reaksie van lidmate dieselfde sentiment. Kerkbode, die nuusdiens van die NG Kerk, het in die eerste week van die inperking (2020) ’n aanlyn meningspeiling onder lesers gedoen. Uit die reaksie van 219 lesers was dit duidelik dat die gemiddelde kerklidmaat nie primêr begaan is oor die ongerief van die inperking op hulleself nie. Daar is eerder die sterk behoefte om iets te doen vir kwesbares en diegene in nood.
“In die Paarl,” vertel dr Ryno Els, predikant by die Toringkerk, “het ons vroeg in die pandemie ’n reeks gesprekke tussen kerke en diensorganisasies gevoer om vas te stel watter bydrae elkeen het om te maak, sodat ons saam meer effektief by plekke van werklike nood kan uitkom.” Die Wes-Kaapse Sinode het binne die eerste weke van die pandemie ’n hulpmiddel, genaamd Hidden Treasures ontwikkel wat kon help met netwerkvorming tussen verskillende rolspelers in ’n dorp. Die proses is met groot sukses onder leiding van Els en gemeente-maatskaplike werker, Janneke Marais, in die Paarl deurgevoer.
LEES OOK: #slypskool2021: Bestaan die NG Kerk nog oor 20 jaar? Data wys: ‘Ja, maar …’
Die ironie ontgaan ’n mens nie. Terwyl die pandemie gekenmerk word deur isolasie van mense en sosiale afstand, word dít juis die tyd in die geskiedenis van die kerk wat sal uitstaan vir die verbreking van die kerk se self-isolasie. Terwyl die kerk nog besig was om te droom oor die toekoms, het die pandemie toegeslaan en al hierdie drome in versnelde werking gebring. Vir die kerk beteken dit dramatiese skuiwe, van selfsorg, oftewel selfisolasie in pandemietaal, na sorg vir die seerste plekke in die Suid-Afrikaanse samelewing. Terwyl die pandemie fisiese kontak tussen mense verhinder, kry die gedagte van omarming nuwe betekenis vir die kerk. Hoewel die NG Kerk ’n ryk geskiedenis van maatskaplike hulpverlening het, is die aanvoeling dat die toekoms groter klem daarop sal lê om hierdie betrokkenheid in goed georganiseerde vennootskappe uit te voer, eerder as deur afsonderlike of geïsoleerde betrokkenheid.
Die kerk kan nou net voortbou op die positiewe ervarings van samewerking wat tydens die pandemie feitlik spontaan gebeur het. Die nuwe geslag leierskap én die oorgrote meerderheid lidmate van die NG Kerk is gereed hiervoor.
- Ds Nioma Venter is die assessor van die Algemene Sinode en die Wes-Kaapse Sinode.
Hierdie artikel is gelewer as deel van ’n Slypskool vir skrywers wat van 1-3 Junie 2021 in samewerking met Kerkbode op Wellington aangebied is.
