#slypskool2021: Die ‘olifant in die kamer’ is toe nie só groot

Luister ons werklik na al die stemme? Die NG Kerk het onlangs ’n jaartema ingerig as ’n “Seisoen van Luister”. Luisterpraktyke word oral binne kerkkringe aangemoedig op verskeie maniere. Van wandel-in-die-Woord oefeninge tot retraites word die idee van “luister” oraloor beklemtoon. Is daar nie egter dalk ’n paar stemme wat deur die vangnet van luisterpraktyke val nie? Is daar nie dalk ’n paar stemme wat blootweg geïgnoreer word nie?

Tydens die onlangse predikantekonferensie van die NG Kerk in Namibië op Swakopmund was die meeste van die leraars saam besig met ’n luisteroefe­ning. Die oggend begin met “veilig-trap” gesprekke van hoop vir ’n groei­ende toekoms vir die NG Kerk in Namibië. Te midde van onderliggende spanning staan Jan Theron (NG Pio­nierspark) op en vra: “Kan ons die oli­fant in die kamer aanspreek, asb?” Dit maak toe die deur oop vir die olifant om in te kom. Hierdie olifant is groot, hierdie oli­fant is kwaad, hierdie olifant storm. Hierdie olifant se naam is selfdegeslag­verhou­dinge (SGV), sy bynaam is Skrifgesag en sy skaduwee neem die vorm aan van “liberale” teologiese opleiding.

LEES OOK: #slypskool2021: Taakspan sit data neer voor storievertellers

En daar het ék gedink die regte dwaal-olifant wat so ’n tyd terug by Swakop konsternasie veroorsaak het, is veilig verskuif!

Maar dit kom voor of ons eie olifant (in die kamer) soos hierdie weghol-Swakop-olifant, moontlik groot skade kan aanrig as hy nie reg hanteer word nie. Die vraag wat ’n mens kan vra is, hoe groot is hierdie olifant regtig? Met die aanloop tot die Groeikonferensie het ’n paar verteenwoordigers van die Noorde Ring die moderamen besoek vir ’n opvolggesprek rondom die ope brief van die sogenaamde Sola Scriptura-groep:

Hierdie brief word ingelei met die stelling: “Dit is met groot hartseer, verslaendheid en gebrokenheid voor God dat ons, as leraars van die NG Kerk in Namibië, kennis geneem het van die Algemene Sinode van die NG Kerk se be­sluit (Benoni, 8 Oktober 2019) wat ruimte maak vir selfdegeslagver­hou­dings en self­degeslag­ver­bintenisse in die kerk.”

Die terugvoer van die gesprek met die moderamen was dat die verteenwoordigers voel dat hul­le, ten spyte van hulle ernstige brief, nie gehoor word nie.

LEES OOK: #slypskool2021: Pandemie verbreek kerk se selfisolasie

Die kuratorium het daarom die Groeikonferensie ontwerp as ’n ruimte waar almal gehoor kan word. Dit het ook toe so uitgespeel dat die briefskrywers van die Sola Scriptura die mees uitgesproke was. Daar is menigmale oor swak leierskap gepraat. Daar is geëis dat die NGKN se leierskap sterk standpunt moet inneem. Nog ’n sterk tema was dat Namibië moet wegbreek van die res van die NG Kerk. Na die konferensie het een van die briefskrywers nog steeds gevoel dat hulle nie gehoor word nie. In ’n video maan hy kerkleiers om nie “jellievisse” te wees nie.

Die verwikkeling van die olifant neem stadig maar seker ’n ironiese wending. Die ope brief is wyd versprei, die Groeikonferensie is spesifiek ingerig as ’n ruimte om na mekaar te luister. Aan die ander kant van die spektrum was daar iemand wat ’n anonieme brief geskryf het aan die Sola Scriptura-groep met die versoek om die bewoor­ding van “ons, as leraars van die NG Kerk in Namibië” te verander na “sekere le­raars van die NG Kerk in Namibië.”

LEES OOK: #slypskool2021: Jong predikante wys hulle raak ook maar sat vir skerms

Hierdie versoek is klaarblyklik geïgnoreer en die brief verskyn met die oorspronklike bewoording in Kerkbode se afdeling vir verklarings deur ringe en gemeentes. By die Groeikonferensie was daar ’n predikant wie se ­broer gay is, nog een se dogter het onlangs ver­klaar dat sy gay is. Hoekom word hierdie “anonie­me” stemme nie gehoor nie?

Wat sê die navorsing?

Die “Predikantepaneel opname 2020-2 (voorlopige verslag)” is deel van die Kerkspieël-navorsing van die NG Kerk. Hierdie navorsings­opname is in Oktober 2020 gedoen om te verstaan hoe predikante dink oor belangrike temas. Hierdie opname is gedoen met ’n 10% ewekansige steekproef met 131 predikante. Deel van die opname was vrae oor etiese kwessies (onder andere die 2019 SGV-besluit). Die een standpunt waarop kommentaar gevra is lui as volg: “Die NG Kerk behoort ’n eenvormige standpunt te hê wat vir almal geld”.

Wat die peiling duidelik wys, is dat daar tog stemme is wat nie voel dat daar sterk standpunt ingeneem hoef te word nie (46,88%), wat selfs groter is as diegene wat voel dat daardie standpunte wel belangrik is (37,51%). Daar is ook ’n ander manier hoe ’n mens die data kan verstaan. Met die eerste oogopslag lyk dit of die groep helfte-helfte verdeel is en dat een groep teenoor die ander staan. Die groep wat nie saamstem nie staan nie teenoor ’n ander groep nie. As ’n mens nader na die aard van die vraag en hulle antwoorde kyk, dui dit juis daarop dat hulle nie teenoor ander staan nie.

LEES OOK: #slypskool2021: Bestaan die NG Kerk nog oor 20 jaar? Data wys: ‘Ja, maar …’

Die mense wat ’n eenvormige standpunt wil hê, is dalk meer geneig om alleen hulle eie standpunt te steun. Diegene wat nie voel dat ’n mens nood­wendig ’n eenvormige standpunt moet hê nie, noem dit nie. Dalk juis omdat standpunte nie vir hulle belang­rik is nie. Die gevaar is dan, soos dit met die anonieme brief en die Groeikonfe­rensie duidelik geword het, dat hierdie anonieme stemme nie gehoor word nie.

Wat sê die gewigtige stemme?

Dalk is daar wel ’n paar stemme wat namens die anonieme stemme kan praat. Ds Schalk Pienaar (voormalige mode­rator van die NGKN) vra dat groepe­ringe daarteen moet waak dat hulle benadering dié van politieke partye weerspieël. Die taalgebruik van “ons eis” en “indien nie … dan sal ons …” is nie kerktaal nie, maar tipies die taal wat ’n mens van ’n politieke party sal hoor.” Prof Malan Nel (Universiteit van Pretoria) is van mening dat daar basies twee benaderings is rondom gewigtige etiese kwessies (SGV ingesluit): Hy sê “of ’n mens kan diversiteit vier, of ’n mens kan verdeeldheid bestuur”.

In ’n onderhoud met prof Nelus Niemandt (voormalige moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk) noem hy dat die Bybel vol verhale van diversiteit is. Verder vra hy ’n paar be­langrike vrae, soos: “Indien diegene wat so graag wil ‘afstig’ dan wel ‘afstig’, wat maak hulle met verskille binne hulle nuwe kring? Waar eindig die ‘afstigting’?” ’n Volgende belangrike vraag wat hy vra, is: “Wie is diegene wat die meeste skade gaan ly as daar ’n vorm van ‘kerkskeu­ring’ kom? Dit is die liefdadigheidsorganisasies, die kwesbares wat afhanklik is van die fondse van die onderskeie gemeentes se eweredige bydraes.”

Die pad vorentoe

Skielik, met hierdie navorsing, lyk dit of die verdeeldheid nie so groot is soos wat daarvan gemaak word nie. Die olifant moet bespreek word, ons moet hom hanteer, maar in ’n veiliger ruimte. Dit kan tog nie ’n onmoontlike taak wees nie. Wat ons wel weet is dat ’n olifant op sy gevaarlikste is wanneer jy hom in ’n hoek dryf. Dalk moet ons, met die naderende sinodesitting in Namibië, eer­der leun na getuienisse as besluite. Verhoudings is belangriker as sterk stand­punte. Die ‘olifant in die kamer’ is toe nie só groot nie.

  • Ds Marco Koch is leraar by die NG Gemeente Windhoek-Eros.

Hierdie artikel is gelewer as deel van ’n Slypskool vir skrywers wat van 1-3 Junie 2021 in samewerking met Kerkbode op Wellington aangebied is.

Word 'n vriend van Kerkbode