Sy was al in Graad 2 toe kon sy nog steeds nie lees nie. Pouses het die kinders haar hieroor gespot, maar gelukkig vir klein Alicia is dit nou sy wat kan lag want sy kon smiddae by hulle buurvrou, Linda Hendricks, se Little Seeds-leesgroepie die wonderwêreld van lees en woorde in storieboeke ontdek.
Vandag as ’n mens hierdie 11 jarige graad 5-leerder vra hoe het sy so slim geraak, dan sê die fyn meisie met die mooi glimlag saggies dis oor tannie Linda en haar leesgroepie.
Alicia en haar vyf broers en susters word groot in Atlantis, ’n groot Weskusdorp op die rand van Kaapstad. ’n Gemeenskap geteister deur geweld, bendes, dwelmhandel, armoede en misdaad.
Dit is ’n omgewing waarin ’n kind maklik kan ontspoor, veral as dit ’n kind is wat met skoolwerk sukkel. Só vertel Graad 5-onderwyser Deliah Magaries van Saxonsea Laerskool, naby waar Alicia bly. Sy verduidelik dat kinders wat nie verstaan wat hulle lees nie, nie kan leer nie. As dit nie betyds opgevang word nie, gebeur dit dat hulle tot op hoërskool kom en dan skool wil los want hulle verstaan nie die werk nie.
Haar kollega, Veronica Nel, se werk as leerondersteuningsopvoeder is om kinders te help wat met lees en spel sukkel. Sy sê sy huil sommer van blydskap wanneer sy op ’n kind se gesig die blydskap sien van self ’n sin te kan lees en verstaan. Daar kan verskillende redes wees hoekom ’n kind met lees sukkel. Kognitiewe vermoë, disleksie (waar b’s en d’s omgeruil word) kan faktore wees maar huislike omstandighede speel ook ’n rol. Deliah verduidelik by die skool kan sy en haar kollegas kinders wat met lees en spel sukkel help om woordjies reg te spel en bou, maar dit is ewe belangrik dat die kind by die huis gemotiveer word om ’n liefde vir lees en boeke aan te kweek.
Christine Lewis is ook ’n storieverteller met ’n leesgroepie. Sy vertel op Atlantis word baie kinders aan bendes en dwelms blootgestel, soms deur hulle eie ouers. Nog ’n realiteit is dat baie kinders smiddae nie ’n volwassene het wat hulle met skoolwerk kan help nie. Die ouers werk dalk lang ure. Selfs al is die grootouers daar, weet hulle dikwels nie hoe om die kinders met leeswerk te help nie. Christine praat van “oupa-en ouma-kinders”.
Dit gebeur ook maar min dat kinders grootword saam met volwassenes wat vir hulle stories voorlees. Soos Linda en Christine noem, hulle sien dat die meeste kinders en volwassenes eerder met hulle selfoon besig is as met leesboeke.
Die skokkende realiteit is dat daar duisende kinders is wat met lees en dus ook leer sukkel. Die Covid-pandemie was ook ’n bydraende faktor. Luidens ’n onlangse verslag deur die internasionale program, Progress in International Reading Literacy Study (Pirls), kan sowat 80% van Suid-Afrikaanse kinders in graad 4 nie lees met begrip nie.
Op hierdie koue wintersmiddag wat ons met hierdie twee passievolle storievertellers gesels dra albei langmoutops met ’n neongroen T-hemp daaroor met die Little Seeds embleem daarop geborduur. Die Little Seeds Eenheid vir Vroeëkinderontwikkeling is ’n gesamentlike inisiatief van die Wes-Kaapse maatskaplike organisasie Badisa saam met Diaconia, die gesamentlike barmhartigheidsbediening van die NG Kerk en VGK.
Hierdie projek kom al ’n hele paar jaar aan wat ten doel het om vrywillige storievertellers op te lei wat veilige ruimtes kan skep waar kinders soos Alicia aan woorde en stories in die konteks van boeke blootgestel kan word.
Op Atlantis het Little Seeds al 17 storievertellers wat weekliks so hulle huis oopstel. Die aanvraag vir meer sulke groepe bly groei soos al meer ouers hoor hoe dit kinders help om beter te presteer op skool. Die resultate spreek vanself. So het het nie een van die kinders in Linda se leesgroepie byvoorbeeld verlede jaar gedruip nie. Daar is selfs ’n leesgroep vir tieners wat begin is deur Brandall Swartz, ’n lenige matrikulant en voorsitter van die VRL (verenigende raad vir leerders, die nuwe vorm van die ou leerlingraad) by Saxonsea Hoërskool. Hy vertel hulle kom op Sondagmiddae bymekaar om kortstories te lees en bespreek en ook hulle eie skryfwerk te doen, daar is selfs planne vir ’n eie roman.
Ons is by tydens een van die Little Seeds storievertellers se maandelikse samekomste in ’n klein agterkamertjie van ’n kleuterskool. Hier word ons herinner dat baie kinders ook uit huise kom waar daar nie altyd genoeg kos is om te eet nie. Die storievertellers self het dit nie breed genoeg om altyd vir iets te ete te sorg nie. Hierdie maand wil hulle springmielies en handwerk by ’n Kaapse mark verkoop om fondse in te samel om hiermee te help.
By elkeen hoor ’n mens passie vir hierdie vrywillige liefdestaak. Linda het self ’n oom wat nie kon lees nie en toe vroeg die skool verlaat het. Sy trane toe hy weens sy ongeletterdheid ’n goeie werk verloor het, is wat haar motiveer om ’n storieverteller te wees. Sy sê sy wil deur stories kleur in kinders se lewe bring en hulle motiveer om drome te droom wat groter as hulle omgewing is.
Leesgroepe bied kinders met ’n agterstand ’n kans
Oud-skoolhoof Nicola Vermeulen vertel sy is baie trots op die storievertellers van Atlantis. Dit is een van die grootste en mees suksesvolle Little Seeds-leesgroepprogramme. Haar werk behels om storievertellers op te lei en sy reis daarvoor so wyd soos Augrabies aan die Oranjerivier, Fraserburg en Sutherland in die Karoo, De Doorns in die Boland en George in die Suid-Kaap.
Saam met haar werk Melanie Thirion, ’n dominee in die NG Kerk getaak daarmee om kontak te maak met NG en VG gemeentes wat projekte soos die leesgroepe wil begin. Die oorkoepelende fokus is op vroeëkinderontwikkeling.
Melanie verduidelik dit is belangrik om te verstaan dat hierdie storiegroepe nie bedoel is om kinders te leer lees wat nog nooit geleer het om te lees nie. Die storievertellers is ook nie opvoedkundiges nie (hoewel daar onderwysers is wat storievertellers word). Sommige storievertellers is selfs ongeletterd. Sy sê die leesgroepe bied egter wel ’n manier om agterstande in te haal. Die storievertellers word opgelei hoe om kinders aan woorde bloot te stel binne die konteks van stories sodat die woorde vir hulle sin maak.
Dit gaan egter oor meer as lees
As ’n ma van jong kinders, vertel Melanie hoe baie dit haar bekommer om die omstandighede te sien waarin so baie kinders grootword. Sy meen tot 80% van kinders in ons land word groot in traumatiese omstandighede en dit belemmer weer hulle eie kanse om uit die siklus van armoede te kan breek.
Kinders wat sukses behaal ondanks traumatiese omstandighede, het dikwels ’n konstante volwassene in hulle lewe, volgens navorsing oor hierdie ingewikkelde veld. Iemand wat liefde en aanvaarding bied en by wie die kind veilig voel, ’n gesonde bord kos kry asook stimulasie op ’n ouderdomsgepaste manier. “Ons noem dit die vier boublokke, wat beskou word as nodig vir ’n kind se vroeë ontwikkeling”, verduidelik sy vir Kerkbode.
Die leesgroepe bied ’n manier waarop meer kinders toegang het tot iemand soos ’n tannie Linda in hulle lewe. Ons praat van sowat 160 storievertellers wat die afgelope sowat vyf jaar opgelei is en meer as 1 600 kinders wat op hierdie manier bereik word.
Little Seeds sal graag wil sien dat meer gemeentes betrokke raak. Melanie meen dit bied ’n manier waarop gemeentes iets kan doen om hierdie siklus van armoede in hulle gemeenskap te help breek. Om vir ’n kind soos Alicia ’n kans te gee.
Nou dat sy kan lees en so goed op skool doen, het Alicia ’n droom. Sy wil eendag ’n skooljuffrou word, vertel sy. Haar gunstelingstorie in haar Afrikaanse Graad 5-boekie is die een van die muis wat braaf genoeg was om die leeu, wat in ’n valstrik gevang was, te help om los te kom. En sy wil graag soos die muis wees. Iemand wat kinders soos sy help.
- As jy of jou gemeente belangstel om meer uit te vind of om bestaande leesgroepe te ondersteun, kontak vir Nicola Vermeulen (nicola@littleseeds.org.za) of vir ds Melanie Thirion (melanie@littleseeds.org.za).