Sober: ’n Praktiese gids na vryheid van verslawing deur Willie Pienaar
Uitgewer: LAPA, 2023
Resensent: Christa Rudd
Sober: ’n Praktiese gids na vryheid van verslawing is ’n boek volgepak met feite en inligting oor verslawing, maar meer spesifiek oor alkoholafhanklikheid. Die skrywer verkies hierdie term bo die meer algemene term van alkoholisme. Hy verwys ook na ander vorme van verslawing en afhanklikheid en dit is spesifiek aan die begin van die boek waardevolle inligting. Met die lees van die boek is dit duidelik dat die skrywer ’n spesialis is wat maar hieroor mág gesels. Sy akademiese kennis en ervaring as psigiater en terapeut bied ’n agtergrond wat vertroue inboesem.

Die boek spreek ’n groot aantal onderwerpe aan. Sekere onderwerpe sal deur sekere mense meer aandag geniet as ander. Dit maak juis die boek baie waardevol. Wanneer ’n ouer byvoorbeeld oor ’n kind bekommerd is, is daar hoofstukke wat die “wat maak ons nou” aanspreek, terwyl ’n berader dalk meer oor die konsep van verslawing wil verstaan om die kliënt beter te verstaan. Die hoofstuk “Wanneer flikker die gevaarligte?” laat mense toe om te bepaal of daar regtig ’n probleem is en of hulle dalk oorreageer. Hoofstuk 12: “Soberheid is moeilik, maar moontlik. Ék dink jy kan” is ’n kritieke hoofstuk, veral vir die persoon wat ná ’n tydperk van behandeling, moet terugkeer na sy of haar ou wêreld. Die persone is angstig en begin soms weer aan hulleself twyfel.
Lees ook: Afhanklikheid, herstel en gidshonde … Jaco Strydom gesels met Michiel van der Merwe
Wie behoort die boek te lees? Dit behoort in die biblioteek van elke rehabilitasie- of sorgsentrum te wees. Elke ouer wat bekommerd is oor ’n kind, ’n eggenoot, elke individu wat oor hom- of haarself bekommerd is en die beraders wat saam met die persone stry om ’n nuwe lewe te begin en te handhaaf.
Beskikbaar by Lapa.
Dr Christa Rudd is ’n maatskaplike werker betrokke by verwysings na rehabilitasiesentrums, herintegrasie en berading aan middelafhanklikes.
