Michiel van der Merwe is ’n dominee, ’n skrywer en die uitvoerende hoof van Stabilis, onder andere. Hy is een van daai rare mense wat ’n enorme klomp lewe in een leeftyd inpak – het byvoorbeeld al drie en twintig keer die Argus-fietswedren gery. Én hy ken van klim, hy was al tot by die base camp van Mount Everest, het al twee keer Kilimandjaro geklim en een keer Mount Kenia, die tweede hoogste berg in Afrika.
Nog elke keer doen hy dit om geld in te samel vir een van sy grootste passies in die lewe, gidshondopleiding, maar hy vertel ook graag van die lewenslesse wat ’n mens leer wanneer jy bergklim. Sy boek hieroor met die titel, Klim die berg in jou lewe – vir die uitsig én die insig, verskyn eersdaags. “Ek gebruik die verskillende ervarings in my bergklim as metafore vir die wyse waar
op ’n gelowige behoort te leef. Elke mens het berge in sy/haar lewe om uit te klim en berge leer ons dat ons die onmoontlike kan regkry,” sê hy.
Dit is reeds Michiel se vyfde boek. Sy vorige skrywes gaan oor kanker, Jesus se kruiswoorde, gebed en ’n verskeidenheid ander teologiese temas.
Vra jy hom uit oor gidshonde, blink sy oë. Hy en sy vrou het die afgelope tien jaar tien gidshonde opgelei.
Lees ook: Jaco Strydom gesels met Erick du Toit oor dominee-wees in Skotland
“Ek is ’n bietjie hondemal,” sê Michiel. “My terapiehond is my beste terapeut om my daagliks te help ontspan! Om ’n hond wat jy opgelei het met ’n gesiggestremde vir die eerste keer te sien loop en daardie persoon se dankbaarheid te sien, het my al in snot en trane gehad.”
Sy day-job is nie minder opwindend nie.
Stabilis is ’n rehabilitasiesentrum vir middelafhanklikes in die Moot in Pretoria en is gekoppel aan die NG Kerk. Hulle fokus veral op dwelm-, alkohol- en medikasieverslawing. Michiel is die uitvoerende hoof en werk daagliks saam met ’n multiprofessionele span bestaande uit dokters, psigiaters, sielkundiges, maatskaplike werkers en ’n predikant.
Daar is dikwels onkunde en ontkenning wanneer dit kom by substansafhanklikheid. Verslawing het ’n groter destruktiewe effek op ons samelewing as wat ons dink. Een uit drie mense in Suid-Afrika word hierdeur geraak. Michiel sê hy wens gemeentes en kerkleiers wil groter verantwoordelikheid neem in die ondersteuning van afhanklikes en hulle naasbestaandes. Hy tree graag op as spreker by kerke, skole en ander instellings oor temas rondom verslawing en rehabilitasie, en mense kan hom gerus nooi.
Lees ook: Jaco Strydom gesels met Marinda van Niekerk
Ons gesels oor die ondersteuningsgroepe wat gereeld in die kapel by die sentrum bymekaar kom, ’n byeenkoms waar vorige pasiënte, gerehabiliteerde substansafhanklikes en hulle naasbestaandes, mekaar ondersteun. Michiel sê hulle kan soms besonder hard en reguit met mekaar wees, maar dalk juis omdat hulle soveel deernis het, ’n lang pad saam stap, mekaar ondersteun en nie opgee met mekaar nie.
“Daar is iets van ware kerkwees wat ’n mens tussen hulle beleef,” sê hy. “My werk by Stabilis het my oë oopgemaak vir wat werklik in die lewe aangaan. Hier het ek geleer wat dit is om waarlik kerk te wees – uit te reik na mense vir wie die samelewing dikwels nie meer hoop of lus het nie. Stabilis is vol verhale oor wonderwerke en God se genade. Die mooiste ding wat ek gehoor het is: ‘Julle het nie my kind genees nie, maar ons as gesin!’” vertel hy.
Michiel het in ’n heel ander wêreld grootgeword, op ’n plaas buite Ceres in die Wes-Kaap. Hy was die jongste van vier kinders, een van ’n tweeling. “In die koshuis op Ceres moes ek baie gou leer om op my eie voete te staan,” sê hy. “Ons was ’n baie hegte gesin, my ouers was betrokke in ons gemeente en ek het by hulle geleer wat dit beteken om in afhanklikheid van die Here te leef – boere met geen vaste salaris nie – en om uit te reik na mense in nood. Gemeenskapsbetrokkenheid was deel van ons daaglikse lewe.”
Na skool het hy teologie op Stellenbosch gaan studeer. Aanvanklik gespesialiseer in missiologie, maar later al meer in praktiese teologie.
Ek vra wat hy anders sou doen as hy weer die kans kon kry om teologie te swot? As hy weer voor kon begin en ’n student was, maar geweet het wat hy vandag weet oor Suid-Afrika, die kerk en die wêreld?
“Ek sou by nog meer aktiwiteite betrokke wou wees!” sê hy. “En dalk iets ervaar van ’n groter betrokkenheid by nie-kerklike aktiwiteite ter wille van ’n aanvoeling vir wat in die wêreld aangaan.”
Michiel vertel dat sy dienspligjare op die grens en in 1 Militêre Hospitaal besonderse vormingservarings was. Sy werk was onder andere om mense wat erg en selfs permanent beseer is, weer te help om sin te vind in die lewe.
Sy gunstelingvers is Filippense 4:13: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee”.
Lees ook: Jaco Strydom gesels met Ansa van Geest
Waaraan hou hy vas as dit rof gaan?
“Die feit dat die Here sal voorsien (Gen 22:14). Ons moet ons oë oopmaak om te sien hoe die Here antwoorde gee. Dit is ons groot uitdaging, ons roeping, om as gelowige vanuit moeilike situasies vir God te dien en op Hom te vertrou.”
Hoe lyk Michiel se droom vir die kerk in Suid-Afrika?
“’n Geloofsgemeenskap wat ’n verskil maak in die omgewing met ’n positiewe ingesteldheid ten spyte van al die negatiewe dinge. Wedersydse omgee vir mekaar, passievol vanuit die hart.”
- Ds Jaco Stydom is verbonde aan die NG gemeente Villieria in Pretoria en die Echo-Jeugbediening.
