Jaco Strydom gesels met Erick du Toit oor dominee-wees in Skotland

“Ek’s altyd keen vir ’n avontuur!” sê Erick du Toit toe ek hom uitvra oor sy besluit om ’n dominee te wees in Skotland. Van die grootste hoogtepunte in sy lewe was nog altyd om ongewone mense op ongewone tye, onbeplan, te leer ken.

Hy beleef tans iets hiervan in Skotland, maar het dit ook destyds beleef as student op Stellenbosch, later as jeugwerker op Worcester, toe hy saam met Global Challenge vir ’n jaar lank Suid-Amerika getoer het en veral daarna toe hy predikant was in Johannesburg en saam met ’n klomp mense van uiteenlopende kulture in Melville in ’n missionale gemeenskap gewoon het.

Erick en sy vrou Suzaan is op hulle eerste besoek aan Suid-Afrika in meer as drie jaar. Ons gesels terwyl hulle vakansie hou saam met sy ouers op Hermanus.

Hulle woon in Kirkliston net wes van Edinburgh. Erick is ’n predikant by die plaaslike gemeente van die Church of Scotland en Suzaan is ’n arbeidsterapeut by die NHS.

“Die plek is prentjiemooi vol riviere en valleie. Almal praat met so ’n vreemde Engelse aksent, dra soms rokkies en elke tweede girl het rooi hare. Net soos in die fliek Brave”, sê hy. “Ons kerkgebou is so om en by 800 jaar oud. Die Knights Templar het dit op ’n stadium gebruik as slaapplek! Wat uniek is, is dat gebed ’n groot rol speel in die alledaagse lewe van gemeentelede. Die spanne hou so baie van gesamentlike gebed dat ek as predikant soms skaam kry oor my ongewillige hart om deel te neem!” sê hy en voeg dan by: “En begrafnisse! Sjoe, ek het al baie gedoen … as iemand my weer vra ‘wat is jou versteekte talent?’ gaan ek sê ‘om mense te begrawe!’”

Alhoewel daar baie Suid-Afrikaners is om mee te kuier – daar is glo meer as vyftig NG dominees tans in Skotland – het Erick en Suzaan doelbewus besluit om soveel moontlik te probeer inskakel en vriende te maak met die plaaslike mense.

Lees ook: ‘Ons besit nie die Waarheid nie … Ons behoort daaraan’

Ons gesels oor die uitdagings tans in die Church of Scotland waar die gemiddelde predikant tans 58 is, en daar toenemend druk is op die paar jonger leraars om kreatief na te dink oor wat nodig is om die ‘verlore generasies’ terug te trek kerk toe. Kerke sit vol bejaardes en die jonger geslag toon weinig tot geen behoefte aan die kerk as institusie. “Ek seg, ‘Preach Jesus, and the rest will follow!’” lag Erick. Hy wonder soms of dieselfde tendense nie dalk ook iewers voorlê vir die NG Kerk nie. Dit is dalk die moeite werd om kennis te neem van wat tans in Skotland aangaan. Die groot verskil is natuurlik die veel groter diversiteit in die kerk en samelewing in Suid-Afrika.

Erick is gebore in Johannesburg, maar het grootgeword op Wellington. Hy vertel dat hy vroeër in sy lewe dikwels na Andrew Murray se standbeeld op Wellington sou kyk of iets sou raaklees oor die Skotse predikant se lewe. Vandag het hy nuwe waardering vir hoeveel daardie ou sendelinge en predikante opgeoffer het om maande lank op ’n skip te reis na ’n vreemde wilde wêreld om die evangelie te verkondig.

Deesdae gebeur die omgekeerde, vandag gaan reik mense vanuit Suid-Afrika uit in Skotland. ’n Al groter groep Suid-Afrikaanse predikante bedien tans in die land. Erick sê daar is byvoorbeeld twee NG dominees met wie hulle bevriend is wat minder as ’n halfuur se ry van hulle af woon.

Lees ook: Sluimerende dood onder die Kersliggies

Erick is duidelik lief vir die kerk, maar ook dikwels gefrustreerd. Wat frustreer hom van die kerk?

“Ons onvermoë om te wil verander, ons halfhartige pogings om diversiteit na te streef. Ons vashou aan valse vorme van sekuriteit soos geld en geboue … Deesdae raak ek kwaad omdat ek nie genoeg kwaad raak oor issues rakende sosiale ongeregtigheid nie. Wanneer jy in ’n eerstewêreldsland soos die VK is het almal genoeg. Oorgenoeg. Te veel, om die waarheid te sê. Die afgelope vier weke in SA het my weer herinner dat welvaart nie noodwendig voorspoed beteken nie. Binne die konteks waar ek nou dien is daar baie minder fisiese nood en swaarkry, maar die mense beleef geestelike armoede soos ek nog nooit vantevore gesien het nie. So dalk is dit wat my tans kwaad maak. Dat mense se lewe so vol stuff kan wees dat hulle die inherente behoefte om te connect met iets buite hulleself heeltemal kan onderdruk. Dit maak my dalk meer hartseer as kwaad.”

Waaraan hou hy vas as dit rof gaan?

“Wanneer dit rof gaan herinner die Woord my dat absoluut niks my van God se liefde in Christus kan skei nie. Dat ek nooit alleen is nie. En dan reik ek vinnig uit na ’n vriend om hierdie waarheid te bevestig oor ’n bier of koppie koffie!”

Sy gunstelingvers is Johannes 15:13: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.”

Dit is duidelik dat die Here vir Erick en Suzaan gebruik in Skotland, maar hulle het ook deur die jare diep spore in mense se hart hier getrap en ek vra die vraag wat almal wat hulle goed ken wil vra: Hoe lyk julle toekomsplanne, gaan julle nog lank in Skotland bly? Wanneer kom julle terug?

“Ons gaan vir nog ’n seisoen terug Skotland toe en dan kom ons terug na Suid-Afrika. SA en sy mense is darem maar net te mooi. Daar’s in elke geval heeltemal te min moeilikheid in die UK na my sin!” sê Erick.

Ds Jaco Strydom is verbonde aan die NG gemeente Villieria en die Echo-Jeugbediening.

Word 'n vriend van Kerkbode