Sluimerende dood onder die Kersliggies

Dit is weer Oukersaand in die Kaap. Die stad, met al sy vrolike Kersliggies, is in ’n feestelike stemming. Op die agtste verdieping van ’n woonstelblok in Seepunt is ’n jolige partytjie in volle swang. ’n Klompie boesemvriende hang met mekaar uit. Daar is van alles te ete en te drinke. Die Kaapse wyn vloei. Dit gaan al te lekker. Almal lag en skerts. Die oujaar, met sy spanning en stres, lê op sy rug.

Hulle is salig onbewus van die eensame, donker figuur op die balkon reg onder hulle. Peter Langer kan hoegenaamd nie in hulle vreugde en uitbundigheid deel nie. Die lewe, met al sy teleurstellings, angs, pyn en stres, het hom in ’n donker, eensame hoek geverf. ’n Doodloopstraat waaruit hy geen uitweg sien nie. ’n Diep put van depressie en angs wat al erger word. Alle sin het uit sy lewe verdwyn. Hy het sy werk verloor, sy onontbeerlike inkomste en sy vrou. Sy familie het hom afgeskryf as maar net nog ’n Kaapse dronkie. Sy vriende het hom versaak. Hy eet ongereeld en kom selde onder die stort. Sy baard vertel ’n storie van boedel oorgee. Hy sien homself as ’n las vir die samelewing en oorweeg dit om sommer die donker in te spring en ’n einde aan sy “pyn” te maak.

Lees ook: ‘Treursang’ oor André de la Porte se selfdood

Peter, die gebroke man op die balkon, verteenwoordig duisende en duisende Suid-Afrikaners wat in Desembermaand in sak en as sit. In wanhoop en absolute moedeloosheid worstelend deur die nagtelike ure. Hulle rol rond, want die slaap wil nie kom nie. ’n Lewensmoegheid oorval hulle en niemand kan hulle buierigheid en geïrriteerdheid meer verduur nie.

Uit hulle aaklige werklikheid begin die dood ’n aantreklike opsie raak. Hy wink: Kom! Desember is die maand met die hoogste selfdoodsyfers in ons land. Ons het die agtste hoogste selfdoodsyfer in die wêreld. Sowat 230 mense probeer daagliks in Suid-Afrika hulle lewe neem! Drie-en-twintig sterf elke dag. Diegene bo 70, met ’n geskiedenis van geestelike en psigiese versteurings, soos depressie, skisofrenie, eetversteurings en dwelm- en alkoholverslawing, neem dikwels hulle eie lewe. Selfdood kan egter nie aan ’n bepaalde ouderdomsgroep gekoppel word nie. Die neiging onder jongmense om hulle lewe te beëindig, raak al hoe meer kommerwekkend. Navorsing deur die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (SADAG) onder 20 000 leerders, toon aan dat een uit elke vyf leerders al aan selfdood gedink het of ’n selfdoodpoging aangewend het. Onsekerheid, akademiese druk, ’n geskiedenis van mishandeling tydens hulle kinderjare, asook afknouery, druk hulle in ’n doodloopstraat van angs, wanhoop en magteloosheid.

Die grootste deel van die bevolking, in hulle gejaagde lewe, is salig onbewus van die trauma van selfdood. Nog minder verstaan hulle hoe ’n mens sy eie lewe kan neem. In die wêreld van die “supermens”, wat op die maan kan land, en in ’n materialisties-georiënteerde wêreld, met die klem op prestasie, sukses en produksie, is daar nie plek vir “losers” nie. Hierdie groep mense haal nooit die kalklig en koerantvoorblaaie nie, want hulle pas nie in in ’n moderne samelewing met al sy suksesse en prestasies nie. Vir hulle is daar baie min begrip in ons samelewing. Ja, selfs in ’n oorwegend Christelike land, waar lewe as ’n gawe uit God’s hand beskou word, wat nie geneem mag word nie (Eks 20:13).

Lees ook: Op ’n skryfreis ná trauma

Prof Lizette Rabe (stigter van die Ithembastigting wat bewusmaking van en navorsing oor depressie steun) sê ná ’n selfdood word geliefdes dikwels behandel asof hulle melaats is. “Vir ’n ouer is dit ’n daaglikse worsteling. Mense kyk na jou en is net dankbaar dat dit nie met hulle gebeur het nie. Jy sit tussen die splinters van jou lewe en moet dit weer optel. Jy staan op met die seer en gaan slaap weer daarmee, worstel daarmee dwarsdeur die nag,” sê sy.

Op ’n Woensdagmiddag in 2003 sny ’n buurvrou my hare in Stilbaai se pastorie. Sy is donker, maer en haar oë staan stokstyf van min slaap. Vir ses weke het sy omtrent nie ’n oog toegemaak nie. Terwyl sy my hare sny, verneem ek na haar welstand. Weer vertel sy my dat sy haar lewe gaan neem. Sy vertel my ook hoe sy dit gaan doen. Magteloos luister ek na die diep gegriefde vrou wie se man nie met een vrou tevrede is nie. Hulle beddens was lankal geskei. Daardie Vrydagoggend staan die polisiebakkie voor hulle huis oorkant die straat. Ek vermoed onraad en doen navraag by die konstabel wat uitkom: “Sy het ’n kussing oor haar kop gesit en haar met ’n klein pistooltjie in die slaap geskiet.”

Ons suksesmaatskappy kom teen ’n hoë prys. ’n Prys wat ons oënskynlik bereid is om te betaal. Maar raak die prys nie te hoog nie? Kerstyd met sy welbehae in alle mense is ’n goeie tyd om weer te besin oor ons medemenslikheid en deernis, want dié wat selfdood beplan, is tussen ons; hulle woon in ons huis; hulle werk saam met ons; hulle is deel van ons familie en vriendekring. Hulle smag na verstaan, begrip, omgee, liefde. Hulle kommunikeer dag na dag nie-verbaal een noodkreet: “Sien my raak. Help my.” Vir hulle het Psalm 69 vers 21 waar geraak: “… ek het gehoop op meegevoel, maar tevergeefs, op mense om my te troos, maar daar was nie een nie.”

  • Ds Kobus Smit is ’n emeritusleraar van die NG Kerk.
  • Kry hulp: Besoek www.sadag.org vir beradingsdienste.  
Word 'n vriend van Kerkbode