‘Treursang’ oor André de la Porte se selfdood

“André se hart is nou heel en hy is vry van die depressie wat hom gevange gehou het.”

Só sê Annette de la Porte, weduwee van dr André de la Porte, op die voorafopgeneemde gedenkdiens van André, wat op 30 Mei 2020 homself by hulle huis in Bellville om die lewe gebring het.

De la Porte, ’n voormalige predikant in die NG Kerk, medestigter van PEN, ’n middestadbediening in Pretoria, en stigter van HospiVision,’n organisasie wat pastorale sorg in hospitale gee, was volgens Annette vir 35 jaar ’n kroniese depressielyer. “Ons het geweet dat die lewe kosbaar is en dat dit iets is wat enige oomblik deur ons vingers kan glip,” vertel Annette oor André se worsteling met depressie.

Prof Daniël Louw, emeritusprofessor aan die Universiteit Stellenbosch en goeie vriend van De la Porte, het die prediking tydens die diens waargeneem. Hy het begin deur te sê dat dit nie ’n gewone preek is nie, maar eerder ’n treursang oor André se dood te midde van ’n treursang van die huilende Christus. Louw het De la Porte geprys vir sy roeping om sorg en bystand vir gebrokenes en siekes te gee.

In die diens, wat ook op 12 Junie op HospiVision se webtuiste gelaai is en teen 2 Julie sowat 225 keer via YouTube gekyk is, lees Annette voor uit haar boek, Hold unto Him, waar André in die voorwoord oor sy stryd met depressie geskryf het: “In die 33 jaar wat ek met depressie geworstel het, het ek telkens gewonder of die son weer sal skyn. Depressie is vir my nie die teenwoordigheid van iets nie, maar eerder die afwesigheid van lig en liefde. Ek het in die pikdonker tye baie daaraan gedink om my eie lewe te neem. Depressie was meestal vir my ’n donkergrys leemte wat my telkens uitgenooi het om net oor te gee en in die grysheid te versmelt. Dan sal die pyn net ophou,” skryf André.

Annette vertel dat hulle lewe gereeld tot stilstand gekom het tydens die groot depressiewe episodes wat André beleef het. Sy beklemtoon dat depressie ’n siekte is wat dikwels op neergekyk en verkeerd verstaan word. Annette vertel dat depressie, as die pandemie van die tyd, ’n stil pandemie is waaroor mense dikwels skaam voel en nie hulp voor kry nie. Sy brei uit: “Gee André se selfdood nou vir ons die toestemming om ons eie lewe te neem? Nee. Elkeen van ons het die verantwoordelikheid om lewe te kies. Selfdood moet nie op ons spyskaart van opsies wees nie. Ek en André het dikwels oor selfdood gepraat om dit as ’n opsie uit te skakel. Ek weet nie wat daardie Saterdagmiddag gebeur het nie. Ek weet nie wat André se gees en siel op daardie oomblik gebreek het nie. Ek respekteer sy keuse. Wat ek van jóú vra, is om die verantwoordelikheid te neem en léwe te kies. Om die verantwoordelikheid te neem om nie onnodig te ly nie. Om nie jouself te beperk deur te glo dat jy nie medikasie kan neem nie. Dit is ’n leuen. Net soos jy medikasie vir hoë bloeddruk, ’n hartprobleem of ’n ystertekort sal neem, moet jy medikasie vir depressie neem omdat dit ’n fisiese tekort in jou liggaam is wat geestelike, fisiese, sosiale en mediese aandag verg,” sê Annette.

André word deur Annette, hulle twee dogters Githa en Danica, skoonseuns Simon en Sean, en een kleinkind, Lucy-Antoinette, wat drie dae voor André se dood gebore is, oorleef.

2 thoughts on “‘Treursang’ oor André de la Porte se selfdood

  1. Chris Odendaal says:

    Sterkte Annette! Andre was die een wat my van die narratiewe benadering geleer en my hele lewe daarmee verander het!

  2. Johannes Petrus Beukman says:

    Ons innige meegevoel met die familie. Mag hulle vertroosting vind by ons Hemelse Vader. Mag Hy hulle ly in die tyd van rou. Riv Ds. Andre.

Comments are closed.