Op ’n skryfreis ná trauma

Om tot verhaal te kom – ’n Praktiese skryfgids
Lizette Rabe
Uitgewer: Lapa Uitgewers, 2019


Lizette Rabe, professor in joerna­listiek aan die Universiteit Stellenbosch, gebruik haar jarelange liefde en kennis vir woorde om ander te inspireer om te begin skryf. Skryf, of “journaling”, het haar help sin maak van haar wêreld na haar seun se selfdood in 2009. Dis hierdie self-terapie, wat binne ons elkeen se bereik is, wat sy oopsluit.

Dit maak nie saak deur watter trauma jy is nie – misdaad, egskeiding, finansiële stres, siekte of verlies – om te skryf daaroor bring heling. Jy moet net begin, een sin op ’n slag.

Hierdie boek is ’n praktiese gids vir die leke-skrywer. Verskillende onder­werpe word behandel om jou skryfreis makliker te maak. Van die temas bespreek is onder andere: Hoekom ons moet skryf en hoe om te begin skryf; Die plek waar jy skryf; asook die verskillende vorme wat jou skryf kan aanneem, bv memoires, dagboek hou, blogs, e-posse, gedigte, Facebook of selfs net ’n gekrabbel op ’n stuk papier. Al hierdie mediums help jou om sin te maak van jou wêreld en om “tot verhaal te kom” binne jou storm, binne jou eie storie.

Hierdie praktiese skryfgids sal beslis beraders weer attent maak oor die effektiwiteit van journaling vir hulle kliënte.

Ds Quinette le Roux Weitsz is ’n berader en mediator in privaatpraktyk in Oos-Londen.

Word 'n vriend van Kerkbode