’n Dokter wat sing en skryf oor hoop | Jaco Strydom gesels met Ansa van Geest

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

“Die vrou het die regte van vir die geleentheid!” was my eerste gedagte toe ek Ansa van Geest vroeër die jaar ontmoet tydens ’n Pinksterreeks by NG gemeente Helderberg in Somerset-Wes. Sy het kitaar gespeel en gesing as deel van die aanbiddingspan. Later sou ek uitvind dat sy ’n mediese dokter is, én ’n skrywer.

“Ek sing al van kleins af,” sê Ansa. “Ek het klavier geneem en later informeel leer kitaar speel. Ek het op skool ’n worship leader geword en dit het later deel van my mondering geword. Oral waar ek gebly het, was ek nog altyd deel van die lofprysingspan, selfs in Engeland. Kitaar en sang stap hand aan hand in my belewenis met die Here.”

Ansa en haar man woon saam met hulle vier kinders in Somerset-Wes. Sy vertel van haar liefde vir die natuur en dat sy erg bevoorreg voel om letterlik tussen die berge en die see te wees, twee plekke in die natuur wat nog altyd besonderse betekenis vir haar het.

LUISTER DIE PODSENDING HIERONDER

Sy en vier ander vroulike dokters het ’n mediese praktyk in die Strand. Ansa spesialiseer veral in sonar en vrouegesondheid, maar sy sien dikwels ook ander pasiënte.

Die gemeente waar sy betrokke is het ’n Agapé-ondersteuningsfonds wat mense help wat dringende mediese sorg nodig het. Maatskaplike werkers verwys ook dikwels mense in mediese nood.

Lees ook: Ontdek nuwe hoop op ou plekke | Jaco Strydom gesels met De la Harpe le Roux

Ek vra haar oor die uitdagings te midde van die Covid-19-pandemie. Is dit so erg soos almal sê?

“Dit gaan rof,” sê sy. “Ek doen redelik baie Covid-toetse. Net gister was vyf van die ses mense wat ek getoets het positief.” Sy vertel van die hartseer van pasiënte wat oorlede is en die uitdagings van pasiënte wat tuis versorg moet word omdat die hospitale oorvol is.

“Ek het ’n pasiënt wie se drie sussies dood is, sy ma is tans in die hospitaal en sy dogter is pas opgeneem en dit alles in ’n kwessie van minder as drie weke se tyd. Dit het my nogal geruk. Die man sit verslae voor my, dit is baie erg,” sê Ansa.

Waaraan hou sy vas as dit rof gaan?

Lees ook: Jaco Strydom gesels met Naudé Kritzinger

“Ek hou stiltetyd en soek dinge wat my herinner aan God se grootheid. Ek maak seker dat ek stilwordtyd vir myself kry. Die natuur is die plek waar ek die naaste aan die Here voel. Soms stoei ek met Hom wanneer dinge verkeerd voel. Dan skryf ek my hart uit of hardloop teen die berg op. Ek hou vas aan sy beloftes, veral die wete dat sy genade nuut is elke môre,” sê Ansa.

Filippense 4:8 is een van haar gunsteling-teksverse: “Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – daarop moet julle julle gedagtes rig.”

Ansa van Geest is ook ’n skrywer. Haar boek Klippies van hoop, uitgegee deur De Novo Boeke, verskyn eersdaags. ’n Klomp van die stories en observasies in die boek is aanvanklik geskryf vir haar blog. Deesdae lees sy dit weekliks as ’n insetsel op Radio Kansel.

Ek het die nuwe manuskrip onder oë gehad. Dit is ’n lekkerleesboek wat ’n mens diep laat dink. Soos ’n goeie koppie koffie op ’n besige dag, dit maak jou oë oop, gee jou nuwe krag en laat jou sommer net weer beter voel oor die lewe.

“Ek skryf graag oor dinge wat my inspireer of wat die Here op my hart kom druk. Covid-19 het baie uitdagings gebring. Ons was almal in dieselfde storm, maar nie noodwendig in dieselfde boot nie. Keer op keer het ek ontdek hoe die Here my gedagtes lei en dit omswaai in stories van hoop. Die doel van hierdie stories is uiteindelik om mekaar te bemoedig en rimpels van hoop te maak,” skryf sy in die inleiding van die nuwe boek.

Lees ook: Jaco Strydom gesels met Melodie van Brakel 

Die meeste van haar skryfwerk ontstaan laat in die nag in haar gedagtes as sy wakker lê. “Die Here vleg stories bymekaar en praat deur sy Woord met my. Daarna word dit ’n klippie van hoop,” sê sy.

Ansa maak aangrypende observasies en skryf met ’n eerlike kreatiwiteit wat ’n mens wakker maak, inspireer en uitdaag om self te begin soek na die groot geestelike lesse wat dikwels verskans lê agter die gewone dinge wat elke dag gebeur.

Sy vertel dat die mediese beroep dit vir haar moontlik maak om op ’n diep vlak by mense uit te kom. Sy is lief vir die Here en lief vir mense, en mense se stories inspireer haar.

Ansa skryf: “Terwyl ek oor baie dinge worstel is dit die stories tussenin wat die prentjie inkleur. ’n Klavierspeler te midde van ’n oorlog, vrede te midde van ’n verwoestende brand, ’n getuigskrif te midde van Covid-19.

Soms moet ons ver kyk om oor die toekoms te besin, maar so nou en dan moet ons dalk besef dat die sin van die lewe in die dinge rondom ons gevind kan word. Ander se stories help ons om weg te kyk van onsself en ons eie begeertes.

Lees ook: Podsending: ‘Ek vind ’n geestelike familie in Rusland’

Ek glo dat ons ons gedagtes moet vol maak met mooi dinge en dat ons mekaar se stories moet hoor. Saam kan ons ’n verskil in mekaar se lewe maak. Dit is my gebed dat ons rimpels van Hoop in ons land kan bring. ’n Klein klippie van hoop het groot trefkrag. Ons moet dit net begin gooi.”

  • Ds Jaco Strydom is verbonde aan die NG gemeente Villieria en die Echo- Jeuggemeenskappe.
  • Regstelling: Hierdie berig is ná publikasie aangepas om aan te dui dat die boek Klippies van hoop se uitgewer De Novo Boeke is.
Word 'n vriend van Kerkbode