LUISTER: So leef (en verduidelik) Melodie van Brakel haar ‘daaglikse brood-beginsel’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

“Ek het ’n tronksakkie saam met my gedra vir ’n hele ruk met drie dae se pille, ’n tan­deborsel, tandepasta en ’n mus, just for in case ek gearresteer word,” vertel Melo­die van Brakel en ek dink aan Shane Claiborne wat gesê het, hy was nog nooit soveel in die moeilikheid as vandat hy besluit het om vir Jesus te volg nie.

Melodie is die stigter en HUB van Cradle of Hope in Krugersdorp, ’n maat­skappy sonder winsbejag wat in 2007 tot stand gekom het. Hulle bedryf tans vyftien projekte om hoop te bring aan die mees weerlose mense in hulle gemeenskap, onder andere skuilings vir vroue met kinders en ’n gemeenskaps­kleuterskool. Cradle of Hope se sopkombuis voorsien 600 etes per dag en le­wer ’n horde kospakkies weekliks tuis by mense in nood se wonings af – dikwels shacks in die informele nedersetting.

“Dis niks vreemds om vieruur in die middag ’n ma te kry met drie kinders wat by jou opdaag wat van iewers af geryloop het nie. Hulle is getraumatiseerd, hulle is honger, hulle is verslaan. Dan help ons hulle, ons neem hulle in, ons kyk wat hulle onmiddellike behoef­tes is. Ons maatskaplike werker assesseer hulle die volgende dag en ons kyk maar hoe ons onmiddellik kan help. Baie van hulle kom uit baie ernstige domestic violence, die kinders moet kleuterskool toe gaan, partykeer moet hulle by ’n dokter uitkom, baie van hulle is verkrag. Dit is ’n baie emosionele plek waar ons hulle ontmoet,” vertel Melodie.

Ek vra haar waar alles begin het.

Daar was twee groot draaipunte in haar lewe.

Die eerste een was in 2003 toe haar blindederm gebars het en sy baie erge septisemie gekry het. Sy was weke lank in die hospitaal en het letterlik by die dood omgedraai.

LEES OOK: ‘Ons wil die swaarkry ontwrig’

“Ek was 38 jaar oud, ek het daar gelê en gewonder, wat beteken my lewe? Wat is die legacy wat ek los? En toe het ek God ontmoet in daardie bed.

Toe ek uit die hospitaal uit kom, besef ek dis vir ’n doel dat my lewe ge­spaar is en ek het begin soek na daai doel. Ek het almal om my mal gemaak,” lag sy, “almal het vir my gebid, want hulle het gedink ek het totaal van my kop af geraak, maar ek het net aangehou sê, die Here het my lewe vir ’n doel ge­red en ek wil uitvind wat dit is.”

Naby haar kinders se skool was ’n plak­kerskamp. Sy het betrokke geraak, aan­­vanklik bloot as ’n vrywilliger.

“Ek het onder andere gehelp om ’n klein kleuterskooltjie te begin, en daar het my pad gekruis met mammas wat daar gebly het en wat prostitute was, want hulle moes kos op die tafel sit, of wat getroud is met ’n man wat aan dwelms verslaaf is, hulle verniel het, met ’n mes gesteek het, in die vuur gegooi het, die kinders verkrag het … Dit was verskriklike omstandighede.”
Sy het soms tot veertien uur per dag in die plakkerskamp deurgebring.

Melodie vertel dat dit eintlik ’n besondere goeie tyd vir hulle as gesin was. Almal het saam begin omgee. Haar man, ’n geoktrooieerde rekenmeester, het gehelp om ’n maatskappy sonder winsbejag te stig, haar kinders het soms na skool gehelp. Sy onthou hoe haar oudste dogter die mense se voete verpleeg en dorings uitgehaal het, en haar jonger kind die kleiner kinders rondgedra het.

En toe gebeur die tweede draaipunt.

“In Oktober 2008 was my matriekdogter op ’n kerkkamp op die Suidkus. Sy en ’n klomp vriende het gaan swem by die lagune, sy het ’n draai gaan loop agter ’n duin, hawelose mans wat in die bos gebly het, het haar gegryp, weggesleep en verkrag …”

Ek weet nie wat om te sê nie. Vra of sy dink ek moet dit noem in die artikel. Sou haar dogter nie ’n probleem hê nie?

Sy help my om te besef dat stilte oor dié tipe dinge, juis die probleem is. Haar dogter is vandag ’n ISE-suster en het al dikwels op televisie, radio en ander forums haar storie vertel.

Melodie vertel hoe hulle gesukkel het om hulp vir haar dogter te kry en hoe juis dít haar oë oopgemaak het. Haar man is ’n CA , hulle het ’n mediese fonds en is bekende mense op die dorp en hul­le het steeds gesukkel om gespesialiseerde hulp te kry. Wat doen die hordes vroue wat arm en alleen is, geen medie­se fonds het nie, geen ondersteuning, wat totaal weerloos is?

Dit is asof Melodie elke keer negatiewe energie kon omswaai in iets goeds. Sy was nou meer as ooit tevore gemotiveer om die wêreld ’n beter plek te maak!

LEES OOK: Luister: Die passie en frustrasie van Rudi Swanepoel

Die heel eerste ding wat ons mos van God lees in die Bybel, is dat Hy iets maak uit niks, lig uit duisternis, goeie goed uit chaos.

Sy sê sy is nogal ’n fighter. En ek glo haar!

Nou die dag was daar ’n program oor haar op Carte Blanche oor hoe hulle opstaan vir kinders in nood en sy het onlangs ’n groot hofsaak teen die regering gewen – die owerhede was kwaad omdat hulle kos gegee het vir van die mees weerlose mense in die Covid-tyd.

Melodie het in 2019 ’n toekenning gekry as besigheidsvrou van die jaar – en dít vir iemand in ’n nie-winsgewende organisasie.

Daar is baie mooi goed wat haar opgewonde maak, maar elke nou en dan word sy moedeloos en dikwels kwaad. Een van die dinge wat haar ontstel is rassistiese mense wat na haar toe kom en sê hulle wil net witmense help.

“Dan sê ek vir die oom en tannie, jammer, dan kan ons nie julle skenking vat nie, want ons help almal wat in nood is, ongeag hulle kleur,” sê sy.

Ek verduidelik dat Kerkbode onder andere deur baie dominees gelees word en vra wat sy vir húlle sou wou sê?

Melodie sê sy het baie empatie met dominees en pastore. Sy besef hulle het dit nie maklik nie en werk onder baie druk. Die een ding wat haar wel pla, is dat dit dikwels lyk of gemeentes en sinodes veilig speel en “save for a rainy day”, terwyl dit duidelik besig is om reeds te stortreën.

Sy vertel my haar ‘daaglikse brood’-beginsel: “Ons vertrou die Here vir vandag, ons deel uit wat ons het. Want die mense is vandág honger. As hier vanmiddag ’n ma aankom wat geryloop het van Klerksdorp af, met drie getraumatiseerde kinders, en daai kinders het nie skoene nie, en dis winter en dis koud, sal ons nóú geld vat en PEP Stores toe ry en vir hulle skoene gaan koop, want hulle voetjies is nou koud, nóú, vandag …”

Hel, ek pink amper ’n traan weg. Hier­die vrou verstaan die hart van die evangelie beter as die meeste goeie teo­loë wat ek ken!

As ek Jesus reg verstaan, word “goeie teologie” nie net gepraat, beredeneer, geskryf, gebid en gesing nie, dit word gelewe. Veral teenoor die mees weerlo­ses in die gemeenskap.

Kan jy dink hoe die wêreld sou lyk as die meeste kerkmense die evangelie soos Melodie van Brakel sou verstaan?

  • Ds Jaco Strydom is verbonde aan die NG gemeente Villieria in Pretoria en die Echo-Jeuggemeenskappe.
Word 'n vriend van Kerkbode