“Ek was die afgelope jaar gelukkiger as mens toe ek direk by armoede betrokke was. Dit was vir my beter as om op ’n afstand daarvan bewus te wees.”
Dít het die 29-jarige Michiel de Villiers, voorheen ’n prokureur in Kaapstad, na ’n paar maande in Calitzdorp besef.
Sedert 1 April verlede jaar het hy die regsberoep vir die jeugwerkerbedryf verruil. Hy is deur Echo-jeugontwikkeling na dié dorp in die Klein-Karoo gestuur om onder jongmense te werk.
Hier het hy talle stories aangetref. Sommige laat ’n glimlag op jou gesig. Soos die tienermeisie wat graag wou gaan swot. Michiel het haar gehelp met die aansoekproses van ’n NSFAS-beurs en sy het sopas haar studiejaar in sielkunde aan die Nelson Mandela Universiteit (NMU) begin. Deurentyd bly hy steeds help om borge te soek vir finansiële behoeftes indien die beursgeld nie betyds beskikbaar is nie.
’n Graad 9-seun se “innerlike motivering” verstom Michiel elke dag. “Die tiener is in die jeuggroep wat ek begin het. Amper alles in die lewe is teen hom. Hy is met fetale alkoholsindroom (FAS) gebore en sy pa is laasjaar oorlede. Boonop is hy een van ses kinders en die enigste een wat skool toe gaan. Twee van sy boeties is in die tronk en een is onder andere met kriminele aktiwiteite besig. Maar hy wil regtig ’n beter lewe hê en daarom gaan hy élke dag skool toe. Ons ondersteun hom met kos en klere om sy moeilike pad effens makliker te maak.”
Maar daar is ook stories wat jou ruk. Soos die 6-jarige dogtertjie wat ’n groot indruk op hom gemaak het. “As jy haar vra of daar kos in die huis is sal sy byvoorbeeld sekere tye van die week antwoord: ‘Ja, want Mamma was nugter’. Ander kere was die antwoord weer nee. Dit verstom my dat so ’n klein dogtertjie weet wat die woord nugter beteken.
“Die patroon onder alkoholiste hier werk so: Maandae, Dinsdae en Woensdae is daar gewoonlik kos in die huis want die ouers drink nie. Maar vanaf Donderdag tot Sondag word daar gedrink en is kos laaste op die prioriteitslys. Ek probeer dan help met kos.”
Die dogtertjie het hy ontmoet tydens “huisbesoek”. “Ek het begin om by van die kinders se huis te gaan kuier om die omstandighede te probeer verstaan. Eers het ek Vrydae net saamgery wanneer die skoolbus die plaaskinders huis toe neem. Nou weet ek min of meer waar hulle woon en gaan ek Saterdae bietjie kuier. Die reaksie op my besoek is baie interessant. Die kinders en ouers is só verbaas as hulle my daar sien. Maar hulle vra áltyd die Maandag wanneer ek weer gaan kom.”
Volgens 2011 se sensusdata het Calitzdorp en omgewing ’n inwonertal van sowat 7 450. Die gemiddelde jaarlikse huishoudelike inkomste is slegs R29 400 in Kannaland se Wyk 2, volgens sensusbron Wazimap.
Vra jy hom om sy Echo-pad op Calitzdorp op te som antwoord hy met sekerheid: “Ek was die afgelope jaar meestal besig met verhoudingbou. Maar dit vat lank en mense vertrou jou nie maklik nie.”
Hy het ook vinnig agter gekom die Echo-konsep soos dit in ander dele van die land werk, werk nie noodwendig daar nie. In Table View in Kaapstad woon daar byvoorbeeld jong werkendes wat as mentors optree en jongmense wat die verblyf benodig in ’n huis. Aanvanklik het Michiel in ’n huis gewoon en jongmense genooi om by hom te kom woon. Hy lag. “Maar ek het gou besef álmal hier het blyblek, al is dit by ’n tannie. En hier is ook nie baie jong werkendes wat as mentors kan optree nie. Hier is eenvoudig net nie werk nie. Hier is eerder jong werkloses.”
Michiel het later vanaf die huis na die skool se koshuis verhuis. Hier het hy gereelde kontak met die jongmense. Dis ook hier waar hy ’n jeuggroep op die been gebring het, vertel hy.
Ek wonder hardop hoe hy besluit het om so ’n reuse-loopbaanverandering te maak en ’n gemaklike leefstyl in die stad vir ’n koshuiskamer te verruil?
“My meaningfulness-barometer moet gereeld klok. En dit het glad nie as prokureur gebeur nie. Ek het gevoel ek maak nie ’n verskil nie en dat die persoon met die meeste geld dikwels die regsgeding wen. In die Kaap was ek in ’n glashuis,” verduidelik Michiel.
Maar, erken hy, hy raak dikwels oorweldig met die Calitzdorpers se moeilike sosiale omstandighede.
“Maar dan fokus ek maar weer op die 12 jongmense in my jeuggroep.”
Hy het ook baie geleer. “Mense soos ek is baie bekommerd oor môre. Laasjaar het ek soveel arm mense ontmoet wat baie gelukkiger is as ek in my middelklasbestaan. Dít tref ’n mens.”
Sy doel vir 2019 is soveel moontlik aktiwiteite om jongmense se kontak met alkoholisme en dwelmgebruik vir ’n tydjie te “disrupt”. Hy en ’n onderwyser van die skool het reeds ’n sangroep en toneelgroep begin.
Daar was ook ligte oomblikke. Soos die man wat gesien het daar staan ’n klomp Bybels op Michiel se stoep. Hy het kom vra vir drie Bybels wat Michiel toe vir hom gegee het. Toe Michiel later na die Bybels op die stoep soek is dit skoonveld. “Iemand sê toe vir my dieselfde man het dit kom haal en verkoop dié Bybels vir R10 stuk. Ten minste het die Bybels nou hulle pad gevind na mense wat dit graag wou gehad het,” lag hy.
