Jaco Strydom gesels met Naudé Kritzinger

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

‘Die langer pad van kontemplatiewe spiritualiteit het my baie gehelp’

“Wie was daai weird ou?” vra iemand my nou die dag.

“Naudé Kritzinger,” sê ek. “Hy’s ’n dominee en ’n digter. En hy’s meer weird as wat jy dink, jy moet sy musiekvideo’s sien.”

Kort daarna kuier ons. Hy vertel van vroegste herinneringe, sy kinderjare op Maandagshoek-sendingstasie in die ou Oos-Transvaal waar sy pa, Dons Krit­zinger, ’n sendeling was. Later trek hulle Pretoria toe, hy was in Laerskool Meyers­park en Hoërskool Silverton. Na skool studeer hy teologie by Tukkies, waar sy pa aangestel is as professor in Sendingwetenskap.

Naudé vertel dat hy self eintlik ’n sendeling wou word. Hy was nog altyd lief vir die Here en die kerk, maar het veral ’n passie vir mense buite die kerk.

As ek aan Naudé Kritzinger dink, dink ek aan iemand wat dit regkry om met een voet in die kerk en een voet in die wêreld te staan. Iets wat eintlik be­langrik is as ons ’n verskil wil maak in hierdie wêreld. Soms voel dit of te veel kerkmense met albei voete in die kerk staan – en net deur godsdienstige vensters na die wêreld loer.

Naudé maak kontak. Hy leef in die paradoks.

LEES OOK: Brief uit Amersfoort: Soveelste plaasaanval ruk klein gemeenskap

Dalk kry hy iets reg, juis omdat mense buite die kerk voel dat hy een van hulle is, hulle is gemaklik met hom, want hy worstel saam, soek saam en gee regtig om.

Naudé en sy vrou Erna Jo skryf. Erna se digbundel Delirium het ’n paar jaar gelede verskyn en ses van Naudé se gedigte is in Tafelberg se saamgestelde bundel Nuwe stemme opgeneem.

Hy skryf ook liedjies en kan onder andere tromboon, mondfluitjie en kitaar speel. “Dit werk natuurlik lekker saam met my liefde vir digkuns. Iemand het vir Bob Dylan op ’n stadium gevra wat die verskil tussen sy songs en poems is, toe sê hy hy skryf iets, as hy dit kan sing, is dit ’n song, as hy dit nie kan sing nie is dit ’n poem,” sê hy.

Sy musikale gawes kom ook handig te pas in sy gemeentewerk, hy is onder andere verantwoordelik vir Sondae se musiekbediening.

Naudé was onlangs in die moeilikheid na hy en sy vrou, wat taalversor­ging doen vir ’n gay-roman-uitgewer in Amerika, op ’n kykNET-program was. Daar was ’n kerklike ondersoek.

Ek vra hom daaroor, want ek het ’n video op sosiale media gesien van die erediens na die ondersoek en by myself gedink: Dís nou ’n mooi getuienis van hoe ’n gemeente ruimte maak vir die verskillende stemme in die kerk.

“Die Here het my die genade gegee om op die ou einde te kon luister hoe mense dit beleef het. Die positiewe ding wat ek aan my lyf gevoel het, is hoe slegte dinge se effek soms soveel beter kan wees as wanneer niks sou gebeur het nie. Al is daar skade gedoen, kon ons voel wat versoening beteken en is baie verhoudings en sake wat my betref nou op beter grond.”

Ons gesels daaroor dat die Christen-gemeenskap slegs ’n eerlike plek van homecoming en genesing kan wees, as ons nie net konflik so gou moontlik probeer oplos nie, maar leer om dit toe te laat om uit te speel en in die spanning tussen uiteenlopende argumente te leef sonder dat die verhouding op die spel is.

Soms, veral in die kerk, is ons so versigtig dat diep gesprekke oor moeilike onderwerpe amper onmoontlik is en ons dit dan eerder los. Met die gevolg dat die gaping tussen mense net nog groter word.

Dit beteken nie net dat ons beter maniere moet kry om van mekaar te verskil nie, maar ook dat ons mekaar dit moet gun om werklik eerlik te wees.

Richard Rohr het gesê: “Before the truth sets you free, it tends to make you miserable.”

Naudé vertel van sy donker tye. Sy eie worsteling met depressie. “Ek is een van daai volop spesies wat anti-depressante drink. So, soms is ek maar net lus om te lê, en doen dit ook, met ’n no-brainer fantasieboek voor my neus. Die dominee-ding het nie altyd vir my na­tuurlik gekom nie – ek het baie druk ervaar omdat ek gevoel het ek moet almal tevrede stel. Ander groot gebeurtenisse het dit ook al vir my moeilik gemaak. ’n Draai wat ek in kankerland gemaak het, ’n egskeiding, spanning in die gesin … Ek dink die langer pad van kontemplatiewe spiritualiteit het my baie gehelp. Om nie bang te wees vir my emosies nie en om eerlik met God en myself te wees.”

LEES OOK: Verslaenheid ná Covid dorp tref

Hy is al meer as twintig jaar ’n predikant by die NG Gemeente Wonderboompoort en vandag is Naudé ook deeltyds ’n eiendomsagent, iets wat hy baie geniet.

Ek vertel hom van die ou wat gesê het hy is weird. Dit lyk of hy opreg verbaas is. Hy krap sy kop. “Ek is só ’n gewone ou,” sê hy, “eintlik erg behoudend, if anything, veral in my teologie?”. Ek knik maar net my kop, dis dalk beter as ons nie te bewus is van al ons vreemde gawes nie. Jesus was ook ’n weirdo – ver­al in die godsdienstiges se oë.

Teen die einde van die gesprek vra ek hom die groot vraag: Waarom wil hy steeds ’n dominee in die NG Kerk wees?

“Lyk my ek kan nie anders nie,” sê Naudé. “’n Mens het veral frustrasies met mense wat jy liefhet, en duidelik is ek lief vir die kerk. En ek is lief vir die mense in my gemeente. Jy ken mos daai quote van Augustinus.”

  • Ds Jaco Strydom is verbonde aan die NG gemeente Villieria in Pretoria en die Echo-Jeuggemeenskappe.
Word 'n vriend van Kerkbode

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Ons kommentaarbeleid

Lesersbydraes word goedgekeur voor dit verskyn en wel op grond van ons algemene gespreksriglyne wat kortweg as volg opgesom kan word: Meer lig as hitte. Verwag 'n vertraging tussen die instuur van jou kommentaar en die verskyning daarvan.