MARINDA OOR HOOP BRING EN SWEPE VLEG | JACO STRYDOM GESELS MET MARINDA VAN NIEKERK

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dr Marinda van Niekerk is deesdae ietwat van ’n legende in die middestad van Pretoria. Sy en haar man Wilhelm het letterlik die grootste deel van hulle lewe gegee vir die stad, en doen dit steeds.

Dit was by ’n fontein waar Marinda destyds haar groot ontnugtering gehad het. ’n Tipe ontwaking wat uiteindelik sou bydra tot haar passie vir die weerlose mense van die middestad van Pretoria.

“Ek onthou ek het een dag in Vermeulenstraat afgestap. Daar was ’n fonteintjie en ek het gaan sit en afkyk in die water. Op die meeste plekke in die wêreld het mense die gewoonte om muntstukke in die water te gooi en ’n wens te wens of ’n droom te droom, maar daar was nie ’n enkele muntstuk in die fontein nie.

“Die pennie het gedrop somewhere tussen my ore in my kop en ek het hierdie diep ervaring gehad van: ‘Oh my word, die kinders en die mense in ons stad sukkel om te droom.’ Ek dink ek het amper in trane uitgebars en die pyn van die droomlose kinders van die stad het my onherroeplik aangeraak. Ek dink ek sal die res van my lewe gee om daai prentjie te verander,” sê sy.

Marinda is een van daai mense met voete in baie wêrelde. Sy werk byvoorbeeld elke dag in die middestad van Pretoria, maar sy is ook op die moderamen van die Noordelike sinode. “My fokus lê by die Taakspan vir Missionale roeping, om die kerk te help om haar roeping in ’n veranderende konteks uit te leef. Om die koninkryk van God te laat kom in Suid-Afrika,” sê sy, en ’n mens kan nie aan iemand beter dink vir die taak nie.

Pen, die organisasie waarvan sy die uitvoerende hoof is, bedryf die afgelope dertig jaar ’n enorme klomp projekte om mense in nood in en om die middestad van Pretoria te bedien. Hulle fokus veral op vroeëkinderontwikkeling, tieners en volwasse weerloses in en om die stad.

LEES MEER: Nie mense of rommel is weggooigoed

Pen het aanvanklik as ’n gemeente-aksie begin. “Een van die mooi stories oor Pen se begin, is van ’n groepie ou tannies. Bejaarde gemeentelede, wat destyds in hulle omgeegroep gebid en besef het ons moet relevant wees in ons konteks. Hulle droom was dat ons gemeente relevant sal wees lank na hulle weg is,” sê sy. Pen se storie is gebore in die hart van ’n klomp uiteenlopende mense wat regtig ’n passie gehad het om die koninkryk van die Here sigbaar te maak in ’n nuwe konteks.

Wat is die grootste uitdagings tans by Pen?

“Almal is gedaan. Baie kinders in ons stad kry regtig ekstra swaar, emosionele uitdagings is baie, skole is in chaos. Meer en meer mense is werkloos, desperaat. Vroue is die slaansakke van die samelewing. Tradisionele inkomstebronne is toenemend onder baie druk. En ons worstel met die verstaan van etiese leierskap en hoe om ware ‘community’ aan te help,” sê Marinda.

“Van ons teorie of beginsels raak partykeer ’n bietjie akademies of filosofies, dan vergeet ons dit moet op die sypaadjie sin maak waar ek saam met iemand sit en ’n broodjie breek. Die laaste paar jaar, ook onlangs met Korona, is ons weer herinner om seker te maak ons is relevant. Dinge moet sin maak op die grond, in mense se lewe wat swaarkry, mense wat met geestesgesondheid sukkel … nie net in boardroom conversations wat lekker en veilig is nie.”

In die ergere Korona-inperkingstyd het Pen sewentien verskillende skuilings vir haweloses op die been gebring saam met ander organisasies en kerke. “Ek het opnuut besef ons het mekaar nodig, in die nieregeringsorganisasie- (NRO) en ekumeniese omgewing, krisisse bring ons bymekaar,” sê sy.

Woorde in ’n fliek wat sy onlangs gekyk het, “it takes broken people to heal broken people,” het haar weer wakkergemaak vir hulle rol in die stad as mense wat self weerloos is. “Ons is almal ’n bietjie stukkend en daai bietjie stukkend help ons om sagter na ander te kyk met minder oordeel,” sê sy. Ons het meer Marinda’s in die kerk nodig, dink ek.

Waar het alles begin?

Sy is op Cullinan gebore, hulle het baie rondgetrek as kind, dikwels in klein myndorpies gewoon, maar sy word uiteindelik ’n Pretorianer en skryf matriek aan Hoërskool Patriot.

“My kinderjare was eintlik heel onbeduidend,” sê Marinda, “maar my lewe het drasties verander in graad tien. Ek het baie ernstig tot bekering gekom, en regtig die roeping van die Here af beleef om ’n sendeling te word. Ek het vir my pa gesê ek gaan ’n sendeling word, en hy was glad nie impressed nie. Hy het gesê, oor sy dooie liggaam sal sy engeltjie-dogter ’n sendeling word. Toe’s ek hande in die heupe en wip ek myself vreeslik en sê: ‘Dan word ek ’n dominee!’”

Ek vra oor die mense wat die grootste invloed op haar lewe gehad het?

“My ouma, prof Johan Heyns en vele ander dosente, en mense wie se boeke ek gelees het, onder andere Ray Backey en Mohammad Yunus,” sê sy en vertel van die keer toe sy Mohammad Yunus, die Nobelpryswenner en stigter van Grameen Bank, se projekte in Bangladesj besoek het.

Wat sou sy anders doen as sy die kans kon kry om oor te begin met wat sy nou weet oor Suid-Afrika en die kerk?

“Ek sou meer betrokke geraak het by politieke bewegings en probeer het om vroeër ons konteks beter te verstaan, veral die konteks van ons swart vriende en kollegas,” sê sy.

Marinda is iemand wat tasbaar hoop bring en vrede maak, maar sy word ook kwaad en moes al dikwels soos ’n profeet die ongewilde ding doen en opstaan teen ongeregtigheid in die kerk en die gemeenskap. Die goed wat haar die meeste ontstel is: magsmisbruik, mense wat onregverdig behandel word, veral kinders wat te na gekom word.

Marinda sê sy het al baie gewonder wat in Jesus se kop gebeur het in die tyd wat dit moes vat om die sweep te vleg toe hy die geldwisselaars uit die tempel verjaag het. Dalk moet ons nou en dan toelaat dat iets daarvan ook in ons kop gebeur?

  • Ds Jaco Strydom is verbonde aan die NG Gemeente Villieria en die Echo- Jeuggemeenskappe.
Word 'n vriend van Kerkbode