Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In sy boek You need a better Gospel, wys Klyne Snodgrass – die Amerikaanse Nuwe-Testamentikus wat reeds 78 jaar oud is – daarop dat daar ’n onderskeid bestaan tussen die evangelie wat Jesus self verkondig het, en die evangelie wat in die Nuwe Testament oor Hom verkondig word.
Die fokus van die goeie nuus, of te wel evangelie, wat Jesus verkondig het, was die koms van God se koninkryk. Die koms daarvan was veral goeie nuus vir armes, siekes en onderdruktes (Lukas 4:16-21).
Die skrywers van die Nuwe Testament beklemtoon op hulle beurt sy dood en opstanding as die evangelie omdat dit die greep van die sonde en dood verbreek het (Romeine 5:6-21). Hulle het dus die kern van die evangelie wat die kerk verkondig het van die boodskap van Jesus verskuif na ’n belydenis oor Jesus.
Waar Jesus die skares opgeroep het om hulle te bekeer in die lig van God se komende koninkryk (Markus 1:15) nooi Johannes sy lesers om in Jesus self te glo (Johannes 20:30).
Lees ook: Marius Nel: Hoe lyk ’n lewe wat verbonde is aan die lewe, dood en opstanding van Jesus?
Dit is vanweë die klemverskuiwing dat sommige geleerdes Paulus as die stigter van die Christelike geloof beskou en nie Jesus nie. Geloof in Jesus as die gekruisigde was naamlik die kern van Paulus se verkondiging (1 Korintiërs 2:2) terwyl Jesus nie in die eerste instansie geloof in Homself verkondig het nie.
Volgens Snodgrass moet dié verskil tussen die kerk en Jesus se verstaan van die evangelie egter nie te ver gevoer word nie. Terwyl Jesus in sy prediking na sy komende dood en opstanding verwys het (Markus 8:31), het die belewenis daarvan ’n diepgaande indruk op sy volgelinge gemaak. Hulle het daarna radikaal nuut oor Jesus gedink. Ondanks die geweldige impak van die dood en opstanding van Jesus het hulle egter nie sy boodskap vergeet nie. Al vermeld die briefskrywers in die Nuwe Testament min van Jesus se aardse bediening gee die Evangelieskrywers uitgebreide weergawes daarvan. Dit is daarom belangrik om beide die verband tussen Jesus se eie verkondiging en die kerk se belydenis oor Hom in ag te neem wanneer daar oor die betekenis van die evangelie nagedink word. Nie alleen belig Jesus se verkondiging die betekenis van sy dood en opstanding nie maar gee dit ’n dieper betekenis aan Jesus se eie verkondiging (Johannes 2:22) deurdat dit duidelik maak dat Jesus nie net verstellings aan die wêreld kom maak het nie. Hy het gekom om dit volledig te verlos en vernuwe. Beide die evangelie verkondig deur Jesus, en die evangelie oor Hom is dus belangrik.
Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is assessor van die Wes-Kaapse Sinode.