Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Marius Nel: Hoe lyk ’n lewe wat verbonde is aan die lewe, dood en opstanding van Jesus?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Daar het die afgelope tyd ’n reeks publikasies verskyn oor wat geloof in Christus werklik behels.

In sy You need a better Gospel wys die Amerikaanse Nuwe-Testamentikus Klyne Snodgrass daarop dat geloof in Jesus in die Nuwe Testament nie omskryf word as om bloot op ’n bepaalde manier oor Jesus te dink nie. Dit gaan veel eerder oor om in verbondenheid met Jesus te leef.

LEES OOK: In gesprek met Marius Nel: Om Jesus te sien voor jy ‘eendag in die hemel kom’

So is daar meer as 164 verwysings by Paulus alleen na om “in Christus” of “in die Here” te leef. Dié klem om met Christus verbonde te wees bepaal hoe ons geloof moet verstaan. Sowel die Griekse selfstandige naamwoord vir geloof (pistis) as die werkwoord vir glo (pisteuein) het beide verskeie betekenismoontlikhede. Dit is egter opvallend dat in die Hellenistiese wêreld nie een van hulle noodwendig ’n religieuse betekenis het nie. Hulle is eerder gebruik om vertroue tussen partye in die politieke en ekonomiese sfere te verwoord.

Om hierdie rede is dit ’n fout om geloof en glo se betekenis te verskraal tot hoe jy oor Jesus dink. Hulle verwoord eerder hoe jy optree in jou verhouding met Jesus. Om te glo in Jesus is om lojaal aan Hom te wees en nie net op ’n bepaalde manier oor Hom te dink nie. Volgens die woorde van Snodgrass: “Faith is not what most people think it is, and it is not merely what you do with your brain. It is what you do with your life.” Die uitdaging vir die kerk is daarom nie net om ’n suiwer leer rakende Jesus te verwoord en te verkondig nie. Dit is ook om vir mense te wys hoe lyk ’n lewe wat verbonde is aan die lewe, dood en opstanding van Jesus.

LEES OOK: Nuwe Testament: Jesus se vriendinne

Die klem is belangrik want een rede vir die inkrimping van die kerk is dat dit dikwels geloof verskraal het tot die instemming van een of twee idees oor Jesus. Terwyl van die idees, soos dat Jesus my van die dood red, korrek is, vra dit weinig van gelowiges in hoe hulle moet lewe in die hede. Geloof is egter eerder om met verbondenheid aan Jesus te reageer op die verbondstrou van God. So skryf Paulus in 1 Korintiërs 1:9: “God is getrou, deur wie julle geroep is tot verbondenheid met sy Seun, Jesus Christus, ons Here” (Die Bybel 2020-vertaling).

Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is assessor van die Wes-Kaapse Sinode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top