As jy vanaand sou doodgaan, is jy seker dat jy hemel toe gaan? Dit is ’n vraag wat in die verlede moes lei tot jou bekering. Jy kon selfs ’n kursus loop wat jou sou leer hoe om hierdie vraag aan ander mense te stel en so die evangelie te verkondig. Prof Marius Nel meen egter dat die evangelie nie net gaan oor die hiernamaals nie, maar baie te sê het oor jou lewe hier en nou. Dit is dan ook waarop sy en dr Coenie Burger se nuwe boek fokus – Ons wil Jesus sien. Doret Niemandt vind meer uit.

Hierdie boek gaan oor Jesus, vertel Nel, maar dit is nie ’n teoretiese boek waarin die historiese Jesus bespreek en verduidelik word nie. Dit is ’n boek wat geskryf is na aanleiding van twee gelowiges se gesprekke en hulle behoefte om ‘Jesus te sien’. Burger was Nel se studentepredikant en hulle ken mekaar al vir jare. Die afgelope tyd is hulle ook saam betrokke by ’n nagraadse kursus waar hulle elkeen uit hulle verskillende studievelde en perspektiewe gesels oor Jesus. In hierdie gesprekke het hulle opnuut ontdek dat teologie en menswees nie van mekaar losgemaak kan word nie.
Lees ook: In gesprek met Coenie Burger: ‘Ons dink ons verstaan vir Jesus … Dit is waar ons die fout maak’
Jesus is natuurlik die middelpunt van ons geloof, sê Nel. Dit gebeur egter dat ons dikwels so fokus op Jesus se kruisiging, dood en opstanding, dat ons vergeet van Jesus se lewe hier op aarde. As Jesus bloot net ’n offer vir ons sondes is, hoekom het Hy dan soveel jare gelewe en nie reeds as baba gesterf nie, vra Nel. Daar is meer wat ons moet sien. Nel vertel dat hy as jong teologiese student altyd hierdie idee gekry het van ’n ‘gedistilleerde’ Jesus. ’n Jesus wat gereduseer is tot iemand wat jou siel gaan red. Maar as ons fokus net is op die ewige lewe – die eendag – dan is daar soveel aspekte van Jesus wat ons mis – in die hier en die nou. “Jesus is meer as wat jy dink,” sê Nel.
Jesus se lewe het ’n groot impak op die samelewing gehad. Nel vertel dat Jesus se woorde en dade in vier biografieë opgeskryf is (die vier Evangelies) en dat dit eintlik ongehoord is. Jode het nie sulke goed gedoen nie, dit was ’n Romeinse gebruik. Maar op ’n manier het hierdie Jesus so ’n groot impak gehad dat sy storie vasgevang en bewaar is. Hulle boek word dan gebaseer op al hierdie Bybelse getuienisse van Jesus. Dit is daarom so belangrik om die Bybel ernstig op te neem én om die historiese konteks ernstig op te neem, meen Nel.

Jesus se dade en woorde is vir gelowiges belangrik omdat Hy vir ons iets kom demonstreer. Deur sy lewe kom wys Hy vir ons wie God is – ons God is bereid om teenwoordig te wees in ons wêreld. Nie met mag en dwang nie, maar deur weerloos te wees, mens te wees, en selfs bereid is om vir ons te sterf. En deur sy lewe kom gee Hy vir ons leidrade oor hoe om ook “anders” te lewe in hierdie wêreld en hoe God se teenwoordigheid in hierdie wêreld ’n verskil maak in ons lewe.
In hulle boek word daar verwys na ses stasies, of ses fasette, van Jesus se lewe. Dit is ’n poging om juis aan elke aspek van Jesus se lewe aandag te gee. Elkeen van hierdie aspekte, vertel Nel, het vandag nog waarde. Elkeen van hierdie aspekte kan aansluit by een van die vrae waarmee mense deur die eeue heen worstel. Hy beskryf dit as daardie tydlose eksistensiële vrae:
Jesus se menswording – en ons verlange na God
Jesus se aardse lewe en bediening – en ons gesukkel met die lewe
Jesus se kruisiging – en ons vrae oor lyding, boosheid en skuld
Jesus se opstanding – en ons vrees vir doodloopsituasies en vir die dood
Jesus se hemelvaart en heerskappy – en ons soeke na ’n betekenisvolle lewe nou
Jesus se beloofde tweede koms – en ons angs oor ’n onseker toekoms
Hoe meer ek van Jesus weet, vertel Nel, hoe meer verwonderd is ek oor wie Hy was en is. En dit is dan ook die doel van hierdie boek. Dit gaan nie net oor verstaan nie, dit is nie ’n klomp navorsing nie, dis nie ’n finale antwoord nie, maar dit kan dalk net help om hierdie verwondering in Jesus te ontwikkel. Daar is ’n verskil tussen om iets van iemand te weet (om inligting of feite oor iemand se lewe te hê) en om iemand te ken (om iets van iemand se menswees en hart te verstaan). Ek dink dít is waarby hierdie boek wil uitkom: Ons wil Jesus ken, ons wil Jesus sien …
Bestel die boek (R200 by Bybel-Media) aanlyn via hierdie skakel.
Marius J Nel is professor in Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch. Voor sy aanstelling as dosent by die Teologiese Fakulteit in 2012 was hy 18 jaar lank predikant in Pretoria. Marius is tans die voorsitter van die Nuwe-Testamentiese Werksgemeenskap van Suider-Afrika en mederedakteur van Scriptura. Hy is gekoppel aan die NG Gemeente Oostersee as leraar met die opdrag teologiese opleiding.
-
- Dr Doret Niemandt is predikant van die NG Gemeente Valleisig.
- Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).
