Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Gunnar Samuelsson se studie, Crucifixion in antiquity, het sedert die publikasie daarvan in 2011 aansienlike gesprek onder navorsers ontlok. Marius Nel vertel meer.
In die studie argumenteer hy dat die Griekse en Latynse terme wat tradisioneel as “kruis” en “kruisig” vertaal word nie noodwendig ’n kruisvormige struktuur beskryf waarop iemand tereggestel word nie. Hulle kon na uiteenlopende wyses van teregstelling, soos om deurboor te word of om vasgebind te word aan ’n paal, verwys. Gevolglik argumenteer hy dat ons daarop bedag moet wees om nie latere Christelike voorstellinge van ’n kruisvormige struktuur terug te lees in antieke beskrywings van Jesus se dood nie.
LEES OOK: Verstaan die Nuwe Testament: Onbegrensde genade
So meld skrywers soos Seneca die Jongere dat persone op verskillende vorme houtstrukture gedood is. Sommige het eerder soos die hoofletter “T” of “X” gelyk as die kruis wat in latere voorstellinge van Jesus se teregstelling voorkom. Die Griekse term “stauros” en die Latynse term “crux” spesifiseer dus nie opsigself “om iemand op ’n kruis tereg te stel” nie. Die Griekse selfstandige naamwoord stauros is byvoorbeeld eerder gebruik om na ’n paal te verwys eerder as na ’n houtkruis. Die werkwoord stauróō kon ook na die oprig van palissades verwys eerder as die teregstelling van veroordeeldes. Historiese rekonstruksies van Jesus se dood moet daarom met versigtigheid onderneem word.
LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Mike en Megan Ribbens oor hulle passie vir die Here en vir Afrika se mense
Samuelsson bevraagteken nie dat Jesus tereggestel is nie. Hy vra egter of dié teregstelling ’n kruisiging op ’n kruis was. In antwoord op die vraag moet in ag geneem word dat die Evangelies nie een die struktuur waarop Jesus gedood is in detail beskryf nie.
Tog dui verskillende verwysings in die Evangelies gesamentlik beskou wel op ’n kruisvormige struktuur. Matteus 27:37 vermeld dat ’n aanklag bo Jesus se kop aangebring is, wat impliseer dat die paal waaraan Jesus vas was ’n lang een was. Die vermelding in Markus 15:21 dat Simon van Sirene die stauros (letterlik “paal” en nie “kruis” nie) gedra het, dui waarskynlik op ’n dwarsbalk (patibulum) waaraan die arms van veroordeeldes vasgemaak is. Tomas se verwysing na spykermerke in beide Jesus se hande in Johannes 20:25 impliseer dat sy arms uitgestrek was toe dit deurboor is en dus op ’n redelike wye dwarsbalk. Die spons wat op ’n riet omhoog gehou is dui verder daarop dat Jesus opgelig was (Johannes 19:29). Gesamentlik dui die verwysings daarop dat hoewel die Evangelies nie ’n tegniese beskrywing gee van die struktuur waarop Jesus gedood is nie, dit heel moontlik wel die tradisionele kruisvorm gehad het.
Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is assessor van die Wes-Kaapse Sinode.

Dankie. Ons kan ook Galeries 3 veral vers 13 lees. Deuteronomium 21:22&23 is ook insiggewend. Van meer belang as die vorm van die kruis is lyk my die betekenis daarvan. Dat Jesus vanweë ons sonde ‘n vervloekte voor God geword het. Sonder hierdie perspektief verloor die kruisdood van Jesus die wesenlike van sy betekenis.