Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In die Evangelies is Jesus deurgaans in konflik met die Fariseërs oor hulle verstaan van die wil van God. Só noem Hy hulle “witgekalkte grafte” (Matteus 23:27) en beskuldig Hy hulle daarvan dat hulle mense van God se koninkryk uitsluit (Matteus 23:13).
Op hulle beurt het die Fariseërs so ver gegaan as om saam te sweer om Jesus te vermoor (Johannes 11:47-53).
In kontras met die meeste Fariseërs is dit armes, siekes en gemarginaliseerdes wat met geloof op Jesus se bediening reageer. Hulle verdwyn egter dikwels van die toneel sodra hulle genees is. Jesus gee dan ook dikwels aan hulle die opdrag om na hulle huise terug te keer (Markus 5:19; Lukas 8:39; Matteus 9:6-7; Markus 8:26). Dit is byna net Maria Magdalena, bevry van sewe demone (Lukas 8:2), waarvan ons weer lees na sy begenadig is wanneer sy die eerste getuie van die opstanding word (Johannes 20:11-18).
Dit is nie net die ontvangers van Jesus se genade wat verdwyn nie. Die meeste van die dissipels, met die uitsondering van Petrus, word nie vermeld in Handelinge se vertelling van die optrede van die apostels nie.
Handelinge getuig egter drie keer (9:1-19, 22:3-16, 26:2-18) oor die verrassende wending wat plaasgevind het na Jesus se opstanding: die roeping van ’n oortuigde Fariseër as apostel. Paulus vermeld self dat hy nie net ’n Fariseër was nie, maar ook die seun van ’n Fariseër (Handelinge 23:6). Hy was dus deur-en-deur ’n Fariseër. Dit is egter juis sy opleiding as Fariseër en skrifgeleerde tesame met sy ontmoeting met die kerk se leiers in Jerusalem na sy bekering (Galasiërs 1:18-19) wat hom toegerus het om die fondament van die kerk te lê. As voormalige Fariseër was hy egter nie net die onwaarskynlikste apostel nie. Hy het ook ’n onverwagse leermeester gehad. Hy is naamlik deur Gamaliël, ’n gerekende Fariseër, opgelei as skrifgeleerde (Handelinge 22:3). Die moontlikheid bestaan dat sy leermeester dieselfde Gamaliël was wat ingetree het vir die Christene in Jerusalem (Handelinge 5:34-39).
Die Gees van God is dus inderdaad vry om te roep wie Hy wil stuur of om ander vir hulle taak toe te rus. Die toerusting kan op verskillende wyses gebeur. So kan dit in ’n dramatiese Damaskusoomblik gebeur of oor jare se doelgerigte studie soos tydens Paulus se Jerusalemjare. Die Gees bemiddel God se guns onbegrens.
Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is assessor van die Wes-Kaapse Sinode.
