Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dinkstof | Verstaan die Nuwe Testament: Kersfees as openbaring van God

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die Duitse sistematiese teoloog Michael Welker vra in sy God the revealed ’n belangrike vraag oor die geboorte van Jesus, skryf Marius Nel.

Hy verwys eerstens daarna dat die kerk bely dat God Homself geopenbaar het in Jesus met sy geboorte voor hy vra of dit werklik as ’n openbaring beskou kan word. Maak die geboorte van Jesus werklik God meer verstaanbaar? Openbaar dit werklik God? Is die teendeel nie eerder waar nie? Om as ’n openbaring van God te tel moes die koms van Jesus ons bestaande kennis van God bloot verdiep het. Om dit te doen moes dit aansluit by wat mense in die eerste eeu van God verwag het. Dat God met mag en krag sou kom.

LEES OOK: Tussen verlies en vooruitskoue: Die ASM in November

As hulle egter daarna sou soek sou hulle Jesus as God misgekyk het. Nie net met sy geboorte nie, maar deur sy hele lewe. So kom Jesus nie as ’n magtige koning op ’n krygsperd nie. Hy word in Betlehem in ’n stal gebore en sou Jerusalem op ’n donkie nader. Hy kom nie met mag nie. Hy is net nog ’n nommer in ’n Romeinse sensus en een van talle veroordeeldes wat sterf op ’n Romeinse kruis. Hy sterf doodgewoon soos ons. Hy is ook soos ons uitgelewer aan magte wat ons nie kan beheer nie.

LEES OOK | Tussenin: Zander van der Westhuizen oor die krag van oomblikke van konneksie

Tog is Kersfees juis ’n openbaring van God. Dit berei ons daarom voor om met nuwe oë na God te kyk. God is volgens die Evangelies te vinde tussen die skares en die veroordeeldes. In dié sin is die geboorte van Jesus ’n besondere openbaring. Ons word daardeur gedring om nuut oor God te dink. Sou ons dus vir God herken het met die eerste Kersfees? Sekerlik nie as ons ’n abstrakte en onpersoonlike God verwag het nie. Die god van die filosowe. Of een met dieselfde drifte en drange as ons. Die god van die digters. Of die een wat sy vyande verwoes. Die god van die generaals.

Die geboorte van Jesus is daarom meer as ’n bevestiging van ons eie verwagtinge en idees oor God. Dit is die bekendmaking van die ware aard van God. Die een wat verlos en vergewe. Kersfees vra ons om God se selflediging raak te sien en om dieselfde gesindheid te openbaar wat in Christus Jesus was (Filippense 2:5-11).


Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is assessor van die Wes-Kaapse Sinode.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top