Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Tussenin vergaderings, e-posse, gesprekke met mense wat deur ’n moeilike tyd gaan, personeeluitdagings, preekvoorbereiding, begrotings, begrafnisse en ons kinders se programme, moet ek oefen.
Dit lyk nie altyd so nie. Maar ek probeer gereeld oefen. Ek kry weke waar ek vyf keer gaan oefen en ander weke waar ek glad nie daarby uitkom nie. In daardie weke voel ek dit aan my lyf. Alles voel “bloated”, klere sit nie reg nie en dit voel asof ek alles wat ek eet nie lekker verbrand kry nie.
LEES OOK | Zander van der Westhuizen oor die vreemde vrede van nie te weet nie
Vanoggend is “gym” in my dagboek neergepen. Geen ander afsprake in daardie tydsgleuf net voor middagete nie. Ek was 06:15 al op kantoor en teen 11:45 is meeste van my swaarste “to-do”-lysblokkies gemerk. Vandag ontsnap ek uit my gemeente-wêreld om vir ’n uur saam met die boksafrigter, NK, te gaan sweet.
Ek gaan in daardie tyd, want die gimnasium is stil, daar is min lidmate (dominees sal verstaan wat ek bedoel). Dan kan ek in ’n heel ander wêreld instap.
NK (kort vir Ngoako) verwelkom my soos altyd terwyl ek nog by die trappe oploop: “Mr Zander, my lovely character.” Mosi (kort vir Mosima) en KK (kort vir Khukhu) – die ander afrigters – terg mekaar oor die vorige aand se Manchester-wedstryd. Die een dra natuurlik vandag ‘n rooi hemp. Die stil, lang man, John wat altyd dieselfde tyd as ek oefen, skud net sy kop. Die jong Potch-ouens, wat oorkant die pad by die ingenieursfirma werk, is nog nie hier nie.
“Jammer, ek was nie gister hier nie. Mal dag,” sê ek.
“Jy werk te hard”, probeer NK eers in Afrikaans.
“I don’t know how you do it. It’s crazy!” – sê die ou wat 05:00 begin en soms ná 20:00 ophou.
Die musiek is hard in die oefensaal. Ek hoor eers van Philip en François (my vriende) se oggendroetines, wie die hardste geoefen het en wie die slee die verste kon stoot. Tussenin boksroetines, kondisie-oefeninge op die grond en die probeer om my asem terug te kry, vertel NK my alles. Ek hoor van die Afrikaanse persoonlike afrigters se streke in Silver Lakes, die nuutste nuus oor die sokker, ons deel politieke kritiek en ons praat oor sy kinders wat meestal by hom moet bly ná die egskeiding. Hy vra my raad oor ’n vriendin wie se man dood is en ek moedig hom aan om kerk toe te kom.
Skielik kan ek ontspan. Meegevoer na ’n ander wêreld. ’n Wêreld buite my gemeente, die Afrikaanse gemeenskap, my alledaagse roetine en al die dinge wat my kop besig hou. Ek sweet, voel beter oor my lyf en ek oefen harder as wat ek ooit op my eie sou. Hier is ek nie “die dominee” nie. Niemand gooi daardie voorspelbare grappies van “Pasop, hier is die dominee, gedra julle!” nie. Tussen die skerts, speelsheid, terg, aanmoediging en motiveringspraatjies vind ek iets belangrik: konneksie.
Op pad huis toe in die kar soek ek nog steeds na my asem, maar ek kan darem bid:
“Dankie, Here, vir NK.”
Tussenin is ’n rubriek oor die lewe in die middel van dinge – waar stories, mense, klanke en stilte mekaar ontmoet. Zander van der Westhuizen skryf as pa, getroude, skrywer, musikant, radio-omroeper en predikant oor die oomblikke waar sin en seën onverwags opduik tussenin alles wat ons doen en probeer wees.
