Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Tussenin | Zander van der Westhuizen oor die vreemde vrede van nie te weet nie

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Tussenin die aansit van die mikrofoon, die speel van die volgende lied op die speellys en die lees van ’n advertensie, wonder ek wie vanaand na my Sondagaand-radioprogram luister.

 

Is dit iemand in hulle motor op pad kerk toe? Of iemand in ’n gemakstoel met ’n koppie koffie in die hand? Miskien iemand in ’n hospitaalwagkamer wat op nuus oor ’n geliefde wag – en iewers in die dak bo haar kop speel die radio aanhoudend, dag en nag. Toevallig hoor sy my stem. Dalk is dit iemand wat alleen is. Of moeg. Of bang vir Maandag.

In die ateljee is dit net ek. Buite reën dit en die druppels loop stadig teen die vensters af. Voor my is rekenaars, ’n radio-beheerbord met baie knoppies, Excel-lêers, my Google Drive-voorbereiding en ’n klomp “clocks”, soos ons dit noem. Dit is ’n wêreld van tegniek en tydsberekening: wanneer die musiek moet inloop, wanneer die stem moet stilbly, wanneer die volgende inset gereed moet wees.

Praat sonder sien

Ek praat in ’n mikrofoon, en sonder dat ek dit kan sien, beland my stem iewers oor luidsprekers in motors, winkels of sitkamers. Dit is ’n vreemde soort gevoel – jy praat sonder om die gesig van die “ander” te sien. Soms wonder ek of daar nie iets baie eerlik daarin lê nie: om te leer praat sonder om beheer te hê oor wat gehoor word.

Snaaks genoeg, baie Sondae voel preek ook só. Ek kan wel die mense sien – bekendes en vreemdes, jonk en oud – maar ek weet nie altyd wat hulle hoor nie. Ek dink alles het mooi duidelik oorgekom, net om later te hoor hoe iemand my bedank vir ’n boodskap wat presies die teenoorgestelde was van wat ek eintlik bedoel het. Dit is dan wanneer ek besef dat woorde hulle eie lewe kry sodra hulle uitgespreek word.

Ek maak soms foute in ’n “link” (dit is wanneer omroepers tussen musiek praat). Ek spreek iets verkeerd uit of formuleer nie in die oomblik presies soos ek wou nie. Sondae stap ek van die kerk se liturgiese ruimte af en wonder: “Het die mense verstaan?”

Om eerlik te wees met jou – dikwels wonder ek of dit wat ek sê reg oorgedra is, of ek nie nog beter moes voorberei het en hoe op aarde die Here my – wat só sukkel – gebruik nie.

‘Net wat ek moes hoor’

Dit reën steeds. Die lewendige verkeerstroom, wat soos ’n webbladsy voor my oop is, wys darem geen ongelukke in Pretoria vanaand nie. Ek gebruik 49 sekondes om iets oor moeilike tye te sê. Dit was die tema van die vorige lied se lirieke – so ek sluit by dit aan.

’n Paar minute later verskyn daar ’n WhatsApp op die ateljeeskerm: “Ek het vanaand gehoor wat ek moes hoor.” Net voordat ek kwart oor agt ’n kunstenaarsfokus-insetsel doen is daar weer een: “Goeie naand. Ek sit op die bank en my trane loop net. Dankie vir hierdie. My storms is ook maar groot”.

Ek dink aan die tannie wat een oggend na ’n preek vir my ’n sms stuur: “Jy het vanoggend net met my gepraat”.

Tussenin die foute, die wonder of jy reg oorkom, korrek formuleer en duidelik artikuleer – ontvang jy ’n geskenk. Vir my is hierdie geskenk die diep vrede dat ek bloot die instrument is en die Here uiteindelik die werk doen. Dit is in sy hande (gelukkig!).

Jy het ’n stem. Gebruik dit. Soms hoor iemand dit.


Tussenin is ’n rubriek oor die lewe in die middel van dinge – waar stories, mense, klanke en stilte mekaar ontmoet. Zander van der Westhuizen skryf as pa, getroude, skrywer, musikant, radio-omroeper en predikant van Tygerpoort oor die oomblikke waar sin en seën onverwags opduik tussenin alles wat ons doen en probeer wees.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top