Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
’n Filosoof van Stellenbosch het ’n onlangse gesprek oor korrupsie in die openbare sektor met hierdie woorde na ’n plek van ongewone weerloosheid gestuur: “Ek en my familie kom in die prentjie waar dit gaan oor korrupsie in die privaatsektor … Dit het gelei tot die koelbloedige moord op my seun Bouwer (’n insolvensieprokureur) op 5 September vanjaar.”


Indien prof Anton van Niekerk op meer voorspelbare wyse sy gasrede by Aristoteles se idee van die polis begin het (waar burgers saamwerk vir die welsyn, nie wel-váárt, van almal nie), het die bekende dosent en skrywer ten slotte vertel hoe die moord op sy seun sy eie geloofslewe beïnvloed. “Die een Bybelgedeelte wat dit by my oproep, is die verhaal van Absalom en Dawid in 2 Sam 18 … ‘My seun Absalom; my seun, my seun Absalom! As ek maar in jou plek kon sterf! Absalom, my seun, my seun!’ Dis my eerlike gebed,” het Van Niekerk by die samekoms van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) in November gesê. Sy teenwoordigheid was deel van ’n omvattende gesprek oor die aard van korrupsie in ons land met ’n oog daarop om teologies daarop te kan reageer. Afgevaardigdes is gevra om kerse aan te steek vir die slagoffers van korrupsieverwante moorde, soos in die geval van sluipmoorde op fluitjieblasers.


Hoekom Gasa?
Ná die ASM in Augustus vanjaar besluit het om kerke in die Midde-Ooste met ’n bydrae van R250 000 te ondersteun vir hul bediening van humanitêre hulp in Gasa het die wye reaksie en gesprek oor dié besluit ten minste twee praktiese uitwerkings op die NG Kerk gehad.
- ’n Opdateerde bestekopname van die plaaslike maatskaplike steun waartoe die kerkverband via sy nege samestellende sinodes in Suid-Afrikaanse gemeenskappe bydra.
- Die ontwikkeling van ’n riglyn vir hoe internasionale rampgeld bestee word.
“Die Goudlandse Sinode wys die grootste proporsionele bydrae toe (54% van die begroting), gevolg deur die Noordelike Sinode (30%) en die Noord-Kaapse Sinode (36%). Ander sinodes wissel tussen 6% en 35%, terwyl die Wes-Kaapse Sinode die grootste monetêre bydrae maak met meer as R6,5 miljoen,” lees ’n mens in ’n verslag wat by die jongste ASM-vergadering (11-13 November in Gauteng) gedien het.
Tesame met ’n verbandhoudende verslag kry die lesers ’n voller prentjie van die “impak van sosiale bediening”.

LEES OOK: NG Kerk gereed om skenking aan slagoffers in Gasa te maak
Wat die Gasa-skenking betref, is afgevaardigdes uit al die kerk se streeksinodes herinner dat skenkings na nood in die buiteland nie ’n eerste of die laaste was nie: In 2023 is in samewerking met die Wes-Kaapse Sinode R200 000 aan noodverligting ná die natuurramp in Turkye bygedra, om ‘n voorbeeld te noem. En daar sal nog hulp verleen word, as ’n mens na leiers luister.
Maar die nuwe verslag vermeld ook die volgende: “Ten opsigte van betrokkenheid by noodsituasies buite die gewone raamwerk van plaaslike of sinodale bediening bestaan daar tans geen riglyn van die Algemene Sinode vir optrede of deelname aan internasionale noodverligting nie.” Hierdie stand van sake is iets wat leiers aangespreek het. Die reaksie? Teen Februarie 2026 moet ʼn “werkgroep vir diakonaat” ’n konsep-weergawe van juis so riglyn ontwikkel en ter tafel lê.

Agtergrond vir skenkings
Die NG Kerk se Algemene Sinode verwoord al vir ’n geruime tyd in verslae ’n teologie wat werk met ’n “geïntegreerde verstaan van barmhartigheid (diakonaat)”. Die jongste verslae verwoord dit só: “Geloofwaardige getuienis is onvermydelik kontekstueel en geïnkarneerd (inkarnasie: beliggaming en woon onder mense). Die plaaslike gemeente verkry juis missionale geloofwaardigheid deur in die konteks relevant te wees (vgl. Paas & Knoetze; Nel; Bosch; De Beer).”
Bang vir boelies?
’n Gesprekspunt oor die tol wat digitale viktimisering op sinodale leiers en kerklike werknemers eis, het ’n verrassende wending geneem toe katvoet afgevaardigdes ’n voorstel vir hulp afgewater het tot die moontlikheid van pastorale gesprekke met diegene wat hulself aan boeliegedrag skuldig maak. Dit is goeie nuus vir plaagsugtiges en slegte nuus vir diegene wat hulle e-posse en Whatsapp-boodskappe ontvang.
LEES OOK: Leiers gee terugvoer van regoor die land: ‘Ons hoor baie identiteitsvrae onder lidmate’
Meer as kommunikeer
Die NG Kerk probeer hard om nuut oor kommunikasie te dink. Deel van die proses is om inhoudsvennote van meer passiewe rolspelers te onderskei. Venter nooi van meet af in haar termyn graag spesialiskundigheid van buite in. Die strategie wat sy en ander aan’t ontwikkel is, “verstaan dat kommunikasie nie net inligting oordra nie – dit skep ruimte vir ontmoeting.”
Venter het klaarblyklik ook die aanvoeling dat jy soms by die begin moet begin, soos deur ’n videograaf na ’n vergadering van die ASM te nooi en hom te vra om ’n video te maak wat verduidelik: Wat is die ASM? Sien onder.
