Die NG Kerk het vandeesweek in Gauteng besluit om R1,5 m per jaar (2025, 2026, 2027) aan die lidorganisasies van die Kerklike Maatskaplike Diensteraad* (KMDR) beskikbaar te maak “vir die onmiddellike aanspreek van maatskaplike behoeftes soos deur daardie organisasies geïdentifiseer.”
Die kerk het ook sy rampfonds versterk om beter op plaaslike nood te kan reageer. Kerkleiers uit al die samestellende streeksinodes het op Donderdag 13 November tydens die gereelde sitting van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) die rampfonds vergroot tot ’n bedrag van R4 m, “waarby die sinodes in geval van rampe of onvoorsiene noodtoestande op kort kennisgewing aansoek om ondersteuning kan doen.”
Dit volg ná ’n skenking van R250 000 vroeër vanjaar aan lydendes in Gasa.
Die voorsitter ds Jan Lubbe het op Vrydag 14 November, ná afloop van die ASM-sitting, aan Kerkbode meer konteks vir die besluite gebied: “Die opbrengs uit beleggingsfondse van die Algemene Sinode was hoër as verwag en die Algemene Sinode Moderamen het besluit om daardie addisionele opbrengs te verdeel.”

PODSENDING: Jan Lubbe en Nioma Venter oor hul onlangse besoek aan Thailand en Japan



’n Derde bedrag is vandeesweek bewillig om ’n saamtrek vir predikante van regoor die land in die Wes-Kaap aan te bied. Die geleentheid word vir Augustus volgende jaar beplan.
* Die KMDR is ’n nasionale netwerk van kerklike maatskaplike diensorganisasies, wat ook as ’n selfstandige nie-winsgewende organisasie geregistreer is. Lidorganisasies lewer professionele vakkundige en statutêre maatskaplike ontwikkelingsdienste aan alle mense in nood, ongeag ras, taal, kultuur, oriëntasie of geloofsoortuiging. Dienste word oor die volle spektrum van professionele dienste gelewer en sluit onder andere in gesinsorgdienste, kinderbeskermingsdienste, dienste aan persone met gestremdhede, luidens ’n verslag op die NG Kerk se webwerf.
Hou Kerkbode dop vir meer inligting rondom die besluite wat by die jongste ASM geneem is.
Elders gesien | Luister ook na ’n RSG-onderhoud met Lubbe waar hy meer hieroor gesels.
