Om saam met gelowiges uit kerke in ander lande te bid, sing (ook in isiXhosa!) en gesels oor brandpunte soos ekonomiese geregtigheid, kommer oor militarisering en meer was vir hom verrykend. “Ons is ’n geskenk vir mekaar.” Dit is vir hom die waarde van deel wees van ’n ekumeniese netwerk,* vertel ds Jan Lubbe in hierdie aanlyn gesprek vir Heléne Meissenheimer.
Hy en dr Nioma Venter was deel van ’n afgevaardigde groep vanuit die NG Kerk wat in Oktober in Thailand was. Hulle het saam met ander uit Suid-Afrika die 27ste samekoms van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke bygewoon, ’n netwerk van meer as 100 lidkerke wat vanjaar 150 jaar oud is.
Die tema van hierdie samekoms was ‘Volhard in jou getuienis’.
Die moderator van die NG Kerk (soms ‘tjip sy worshond in’) en algemene sekretaris vertel meer oor die konferensie wat ’n besoek aan ’n kamp vir oorlogsvlugtelinge ingesluit het. Dit het ’n diep indruk gelaat. Hulle praat ook oor wie hulle daarna in Japan ontmoet het en wat hulle daar ontdek het oor volhard in jou getuienis in ’n land waar Christene minder as 1% van die bevolking uitmaak.
* Wat is ekumene?
EKUMENE kom van die Griekse werkwoord oikeo (“om te bewoon”) en is in die antieke tyd gebruik om die bewoonde wêreld aan te dui. Griekse skrywers het die begrip ingespan om na die beskaafde (Griekssprekende) wêreld te verwys. Eeue later het die Romeine die begrip “ekumene” vir die Romeinse Ryk wat oor die wêreld versprei was, gebruik. In die Nuwe Testament* verwys “ekumene” na die hele wêreld of die volkewêreld (vgl Matt 24:12; Luk 2:1; Hand 17:31; Op 12:9). Toe die Romeinse Ryk gekersten is, het “ekumene” die betekenis van die hele Christelike wêreld verkry. In die 19de en 20ste eeu is die woord algemeen gebruik om na die kerk* van die Here Jesus wat op al ses kontinente wortel geskiet het, te verwys. Die begrip word as indikatief én imperatief verstaan. As indikatief verwys “ekumene” na die feit van die bestaan van die kerk in alle lande van die wêreld, én na die eenheid* wat daar prinsipieel in die “gemeenskap van die heiliges” bestaan. As imperatief verwys “ekumene” na die Bybelse opdrag om aan dié eenheid gestalte te gee, en om die onenigheid en verskeurdheid wat daar tussen Christelike tradisies en denominasies bestaan, teen te werk. In ’n afgeleide sin verwys die woord “ekumene” ook na die verhouding (“ekumeniese betrekkings”) tussen kerke. Gedurende die 19de en veral die 20ste eeu het verskeie ekumeniese organisasies tot stand gekom, soos die Wêreldraad van Kerke, die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke, die Lutherse Wêreldfederasie, die Anglikaanse Lambeth Conference, die Gereformeerde Ekumeniese Raad* en talle ander, wat almal ’n rol gespeel het en speel om denominasies en kerklike tradisies nader aan mekaar te bring en om hulle in staat te stel om saam te werk. | Bron: https://kerkbode.christians.co.za/elektroniese-christelike-kernensiklopedie/ | Skrywer: PGJ Meiring
