Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Ds Maartje van der Westhuizen (links) was in Oktober deel van ’n afvaardiging vanuit die NG Kerk wat ’n saamtrek van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) in Chiang Mai, Thailand bygewoon het. Kerkbode het met haar gesels oor haar ervarings tydens die besoek. Hier is sy met mede-afgevaardigde ds Johan Botha. Foto: Verskaf

Toe sing elk in eie taal: “O Heer, my God” – ds Maartje deel staaltjies en insigte vanuit ekumeniese saamtrek in Thailand

“Ek het besef dat die NG kerk nooit op ’n plek moet en mag kom waar ons nie in ekumeniese verhoudings* met ander kerke staan nie.” Só vertel ds Maartje van der Westhuizen, ondervoorsitter van die NG Kerk se Moderamen.

 

Sy was in Oktober deel van ’n afvaardiging vanuit die NG Kerk wat ’n saamtrek van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) in Chiang Mai, Thailand bygewoon het. Dit was die eerste keer wat sy so ’n byeenkoms van gereformeerde gelowiges uit meer as 100 lande bygewoon het. (Hou Kerkbode ook dop vir ’n Kollig-podsendinggesprek.)

Maartje van der Westhuizen saam met die res van die NG Kerk se afvaardiging in Thailand, van links: drr Johan Botha en Nioma Venter, ds Lerisa Meyer, dr Daniel de Wet, moderator Jan Lubbe, dr Henco van der Westhuizen en dr Nico Mostert. Foto: Verskaf

 

Lees ook: Die rol wat die kerk speel in die verhouding tussen die Christelike geloof en kultuur

Kerkbode (KB): Die tema was ‘Volhard in jou getuienis’. Vertel wat het jy hieroor ontdek.

Maartje van der Westhuizen (M vd W): Wanneer ons dink aan wat dit beteken om in ons eie land as getuies van Christus te volhard, dink ons outomaties aan ons eie konteks – die unieke uitdagings van ons gemeente, dorp of stad. Soms kan daardie uitdagings baie intens voel, amper oorweldigend.

Deur kontak met gelowiges reg oor die wêreld het ek egter weer besef dat elke konteks sy eie swaar dra. Daar is mense wat getuig te midde van oorlog, en ander wat leef in lande waar slegs twee persent van die bevolking Christene is. Tog bly hulle getrou.

Die veerkragtigheid van hierdie mense het my diep aangeraak. Dit het my hoop gegee juis op plekke waar ek self sukkel om vol te hou in my eie getuienis. Ek het opnuut besef: Jesus stap deur sy Gees saam met ons in hierdie wêreld – en ons as gelowiges het mekaar nodig om mekaar te versterk, op te bou en aan te moedig om vol te hou.

Hoewel ek dit op ’n verstandelike vlak geweet het, het ek opnuut besef dat God se werk nie beperk is tot een kultuur, taal of denominasie nie. God se koninkryk is veel groter as enige gemeente of kerkverband – dit strek reg oor grense heen. Daarom moet ons so versigtig wees om God net vir onsself toe te eien. Foto: NG Kerk Algemene Sinode Facebook

KB: Wat het so ’n wye ekumeniese ervaring vir jou beteken?

M vd W: Dit was ’n ervaring wat moeilik in woorde vasgevang kan word. Ek het soveel geleer – oor ander kulture, oor die unieke uitdagings en kontekste van verskillende lande, en oor hoe verskillende denominasies oor geloofsake dink en watter temas vir hulle tans belangrik is.

Hoewel ek dit op ’n verstandelike vlak geweet het, het ek opnuut besef dat God se werk nie beperk is tot een kultuur, taal of denominasie nie. God se koninkryk is veel groter as enige gemeente of kerkverband – dit strek reg oor grense heen. Daarom moet ons so versigtig wees om God net vir onsself toe te eien.

Ek het ook met belangstelling gekyk na hoe die (WGGK) se leierskap funksioneer en hoe die vergadering verloop. Dit het my eintlik dankbaar laat voel oor hoe goed die NG Kerk se eie prosedures en strukture funksioneer.

Geborg

Ek het ook besef dat die NG Kerk nooit op ’n plek moet en mag kom waar ons nie in ekumeniese verhoudings met ander kerke staan nie.

Ek het ook besef dat die NG Kerk nooit op ’n plek moet en mag kom waar ons nie in ekumeniese verhoudings met ander kerke staan nie. Foto: NG Kerk Algemene Sinode Facebook

KB: Wat het jou die meeste beïndruk tydens die konferensie?

M vd W: Ek was al ’n paar keer in my lewe betrokke by die reël van ’n sinodesitting, en ek weet uit ondervinding hoeveel beplanning en harde werk agter so ’n byeenkoms lê. Juis daarom het ek met groot waardering en verwondering gekyk na hoe hierdie komitee ’n wêreldwye vergadering gereël het – met afgevaardigdes van regoor die wêreld – en hoe alles so vlot verloop het.

Die logistiek was indrukwekkend: vertaling het foutloos gewerk sodat almal mekaar kon verstaan, elke uitstappie was uitstekend beplan, en al die dokumente – agendas, notules, verslae en Bybelstudies – was in verskillende tale beskikbaar.

Maar wat vir my die meeste uitgestaan het, was die gasvryheid. Van die oomblik dat ons by die lughawe verwelkom is tot by die eredienste wat ons saam bygewoon het, was daar oral ’n gees van warmte, sorg en opregte vriendelikheid.

Een middag het ons ’n feestelike viering gehad met sang, sprekers en dans. ’n Koor het in Thai die bekende lied “O Heer, my God” gesing – en toe nooi die koordirigent almal uit om saam te sing, elk in sy of haar eie taal. Dit was ’n oomblik wat ek nooit sal vergeet nie. NG Kerk Algemene Sinode Facebook

KB: Was daar ’n persoonlike belewenis wat vir jou uitstaan en jou diep geraak het?

M vd W: Een middag het ons ’n feestelike viering gehad met sang, sprekers en dans. ’n Koor het in Thai die bekende lied “O Heer, my God” gesing – en toe nooi die koordirigent almal uit om saam te sing, elk in sy of haar eie taal. Dit was ’n oomblik wat ek nooit sal vergeet nie.

Terwyl die verskillende tale deur die saal weerklink het, het dit vir my soos ’n voorsmakie van die hemel gevoel – mense van oral oor die wêreld, saamgebind in Christus, wat Hom met een hart aanbid.

KB: In ’n verslag oor hierdie byeenkoms word genoem die kerk se missie vandag “… continues to be disruptive and transformative.” Hoe verstaan jy wat dit beteken om ’n “ontwrigtende” kerk te wees?

M vd W: Om ’n ontwrigtende kerk te wees, beteken om profeties te leef – om die wêreld se vals sekerhede te skud waar dit lewe vernietig. Die WGGK herinner ons dat die evangelie self op die spel is wanneer onreg, ongelykheid en magsmisbruik heers. ’n Ontwrigtende kerk spreek daarom met vrymoedigheid teen strukture wat mense en skepping onderdruk: teen ekonomiese uitbuiting, militarisering, kolonialisme en selfs die nuwe dreigemente van tegnologie sonder etiek. Só ontmasker die kerk die “vals vrede” van die magte en verkondig die ware vrede van Christus – ’n vrede van geregtigheid, versoening en lewe vir almal. Maar ontwrigtend wees beteken ook selfhervorming: om eerlik te erken waar ons stil gebly of saamgespeel het, en om nuut gevorm te word deur die Gees. Só word die kerk tegelyk ontwrigtend én transformerend – ’n teken van hoop en lewe in ’n wêreld vasgevang in vrees en verdeeldheid.

KB: Die verslag verwys na ‘onmoontlikhede wat moontlikhede’ geword het. Het jy hier iets gehoor wat jou hoop gee vir van ons plaaslike uitdagings met armoede, ongelykheid, verdeeldheid ens?

M vd W: Wat my hoop gee, is hoe kerke wêreldwyd getuig dat God nuwe lewe bring op onmoontlike plekke. In die vergadering en verslae het ek gehoor van gemeentes wat, te midde van oorlog, klimaatsrampe en armoede, steeds saam brood breek, gemeenskappe bou en vrede herstel. Dit herinner my dat verandering dikwels begin met gewone mense wat klein dade van geregtigheid waag. Armoede bly ’n groot en komplekse uitdaging, maar projekte soos die GRAPE-inisiatief (Global Reformed Advocacy Platforms for Engagement) gee my hoop. GRAPE help kerke om praktiese strategieë vir sosiale geregtigheid te ontwikkel – van navorsing oor ’n basiese inkomste in Suid-Afrika tot aksies vir skoon water in Kenia. Só word geloof sigbaar in konkrete dade van hoop en geregtigheid.

Wat my hoop gee, is hoe kerke wêreldwyd getuig dat God nuwe lewe bring op onmoontlike plekke. In die vergadering en verslae het ek gehoor van gemeentes wat, te midde van oorlog, klimaatsrampe en armoede, steeds saam brood breek, gemeenskappe bou en vrede herstel.

KB: Die verslag beklemtoon ook dat hierdie byeenkoms die rol van vroue, jongmense, mense met gestremdhede en inheemse volke wou uitlig en vier. Het jy hier iets gehoor wat jou laat nadink het of dankbaar maak?

M vd W: Die vergadering het sterk beklemtoon dat elke mens deel is van God se koninkryk en unieke gawes het om by te dra – ongeag geslag, ouderdom, gestremdheid of kultuurgroep. Almal behoort ’n stem te hê en regverdig behandel te word. Ek was teenwoordig by die Women’s Caucus-groep en wil graag iets uit hulle verslag uitlig: Die groep herinner ons dat vroue steeds gemarginaliseer word in die kerk en samelewing, en doen ’n dringende beroep op volle deelname van vroue, geslagsgeregtigheid, en die afbreek van patriargale magstrukture binne geloofsgemeenskappe.

Geborg

KB: Die verslag roep kerke op om met “moed” voort te gaan – watter boodskap van bemoeding sal jy graag aan die kerk hier wil oordra?

M vd W: Om met moed voort te gaan, vra nie dat ons sterk voel nie, maar dat ons bly glo – selfs wanneer dinge broos is. Ek hoor in hierdie oproep die Gees se fluister: “Moenie bang wees nie, Ek is saam met julle.”

Die kerk se moed lê nie in groot dade of seker antwoorde nie, maar in die bereidheid om steeds liefde te leef te midde van onreg, pyn en onsekerheid. Wanneer ons saamstaan vir geregtigheid, omgee vir die aarde, en die stem van die kwesbares hoor, dan leef ons dié moed uit.

Mag ons bly glo dat Christus alreeds aan die werk is, dat Hy ons Here is en dat elke klein daad van hoop deel is van God se groot verhaal van genesing.

 


* Wat is ekumene?

EKUMENE kom van die Griekse werk­woord oikeo (“om te bewoon”) en is in die antieke tyd gebruik om die bewoonde wêreld aan te dui. Griekse skrywers het die begrip ingespan om na die beskaafde (Grieks­sprekende) wêreld te verwys. Eeue later het die Romeine die begrip “eku­mene” vir die Romeinse Ryk wat oor die wêreld versprei was, gebruik. In die Nuwe Testament* verwys “ekumene” na die hele wêreld of die volkewêreld (vgl Matt 24:12; Luk 2:1; Hand 17:31; Op 12:9). Toe die Romeinse Ryk gekersten is, het “ekumene” die betekenis van die hele Christelike wêreld verkry. In die 19de en 20ste eeu is die woord algemeen gebruik om na die kerk* van die Here Jesus wat op al ses kontinente wortel geskiet het, te verwys. Die begrip word as indikatief én imperatief verstaan. As indikatief verwys “ekumene” na die feit van die bestaan van die kerk in alle lande van die wêreld, én na die eenheid* wat daar prinsipieel in die “gemeenskap van die heiliges” bestaan. As imperatief verwys “ekumene” na die Bybelse opdrag om aan dié eenheid gestalte te gee, en om die onenigheid en verskeurdheid wat daar tussen Christelike tradisies en denominasies bestaan, teen te werk. In ’n afgeleide sin verwys die woord “ekumene” ook na die verhouding (“ekumeniese betrekkings”) tussen kerke. Gedurende die 19de en veral die 20ste eeu het verskeie ekumeniese organisasies tot stand gekom, soos die Wêreldraad van Kerke, die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke, die Lutherse Wêreldfederasie, die Anglikaanse Lambeth Conference, die Gereformeerde Ekume­niese Raad* en talle ander, wat almal ’n rol gespeel het en speel om denominasies en kerklike tradisies nader aan mekaar te bring en om hulle in staat te stel om saam te werk.  | Bron: https://kerkbode.christians.co.za/elektroniese-christelike-kernensiklopedie/ | Skrywer: PGJ Meiring

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top