Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Dit is ’n voorreg en uitdaging om in ’n multikulturele gemeente te mag dien skryf ds Willem Schoeman van die Reformed Church of Zambia waar hy saam met kollega ds Moses Zulu leraar is. Foto's: Verskaf

Die rol wat die kerk speel in die verhouding tussen die Christelike geloof en kultuur

Ons kyk soms met verskillende kulturele brille na die wêreld en selfs na die Bybel. Dit het Willem Schoeman waargeneem in die NG Kerk in Zambië waar hy leraar is. Hy vertel meer oor ’n boek wat hom behulpsaam was om ses verskillende rolle te identifiseer hoe mense mekaar in ’n multikulturele konteks kan bedien.

 

Ek het die voorreg en uitdaging om in ’n multikulturele gemeente te mag dien. Weeksoggende doen al die werknemers by die kerk saam “devotion” en soms kom ek agter dat ons met verskillende kulturele brille na die wêreld en selfs na die Bybel kyk.

Dit het my baie laat nadink oor die verhouding tussen die Christelike geloof en kultuur.

LEES OOK: Oos-Kaapse Sinode sê: ‘Hierheen stuur God ons …’

In ons konteks is daar aktuele vrae soos:

Is die Westerse kultuur en Christendom presies dieselfde of is daar dinge in ons Westerse kultuur wat nie noodwendig Christelik is nie? Die Christendom het tog in ’n heel ander kultuur – ’n Midde-Oosterse kultuur – ontstaan.

Hoe word die Christelike geloof eie aan ’n plaaslike kultuur?

Moet die Christelike geloof soms transformerend op ’n kultuur inwerk?

’n Boek wat ek baie waardevol gevind het is Stephen Bevans se Models of contextual theology. Met my aanvanklike lees van die boek het ek dit baie teoreties, abstrak en filosofies gevind. Dit was eers nodig om die idees wat daarin vervat is te herkou en my eie te maak. Dit het by my opgekom dat die ses modelle wat hy gebruik as ses rolle beskryf kan word. Daar is ses verskillende rolle wat ons as bedienaars, gelowiges en gemeentes kan speel in die verhouding tussen geloof en kultuur. Ek gaan die vryheid neem om my eie benamings aan die ses modelle te gee en dit te beskryf soos ons dit hier geïmplimenteer het. Let op dat die ses modelle nie wedersyds uitsluitend is nie. Die verskillende kontekste hoef ook nie net verskillende kulture te wees nie. Dit kan ook verskillende kontekste wees. Ons elkeen kom uit ’n eie konteks.

Ds Willem Schoeman en ds Moses Zulu van die Reformed Church of Zambia

Die vertaler (the translation model)

Volgens die vertalingsmodel moet die ewige en tydlose boodskap van verlossing van een kultuur (of konteks) na ’n volgende vertaal word. Dit is presies wat gebeur wanneer die Bybel vertaal word. Dit is ook wat met elke preek gebeur. Die boodskap wat aanvanklik geskryf is vir mense omtrent 2 000 jaar gelede in ’n antieke wêreld moet “vertaal” word vir die luisteraars wat vandag daarna luister.

In ons gemeente beteken dit dat uitdrukkings in Chichewa of Afrikaans na Engels vertaal moet word. Ons moet ook ons kulturele gebruike vir mekaar verduidelik om misverstande te voorkom.

Die ontdekker (the anthrolopogical model)

Volgens hierdie model het God lankal al met ’n volk gewerk voordat die evangelie daar aangekom het. Die boek Eternity in their hearts beskryf hoe God sekere kulture voorberei het op die koms van die evangelie. Die werk van die ontdekker is dan om te ontdek wat God reeds besig is om te doen en om daarby aan te sluit.

In ons gemeente beteken dit om te luister na die geskiedenis en storie van ons gemeente. Wat het God reeds tot dusver gedoen en hoe kan ons verder gaan?

Die kampvegter (the praxis model)

Volgens hierdie model moet ons geloof prakties word. Daar is sekere onregverdighede in die wêreld wat aangespreek moet word. God kies die kant van die onderdrukte teenoor dié van die onderdrukker. Indien daar ’n gebruik is dat mense uitgebuit word, kan die kerk nie haar oë daarvoor toemaak nie. Dit moet aangespreek en beveg word.

In ons gemeente vra ons telkens of die manier waarop die gemeente bestuur word regverdig, verantwoordbaar en tot opbou van die koninkryk is. Indien dit nie so is nie moet ons die bestuursprosesse verbeter. Onregverdige praktyke in die samelewing kan ook deur prediking of deur gesprek aangespreek word.

Die luisteraar (the synthetic model)

Volgens hierdie model is daar verskillende stemme uit verskillende kontekste om na te luister. Ons rol is om ’n veilige ruimte te skep waarin daar opreg en diep na elkeen geluister kan word. Natuurlik moet daar dan ook na die stem van die Woord en die Gees geluister word.

Ons kerkraad het ’n paar jaar gelede ’n visie van veilige ruimtes aanvaar. Ons streef daarna om veilige ruimtes te skep waarin ons na mekaar kan luister.

Die getuie (the transendental model)

Volgens hierdie model kan elke gelowige net vanuit sy of haar konteks getuig van dit wat die Here doen. Ons erken dat ons elkeen deur die bril van ons eie konteks na die wêreld kyk, maar ons getuig van dit wat God vir ons in ons konteks beteken.

In ons gemeente skep ons soms getuienisgeleenthede waarin iemand ’n getuienis kan deel.

Die transformeerder (the countercultural model)

Volgens hierdie model kan die kultuur van die kerk en die heersende kultuur van die samelewing nooit dieselfde wees nie. Dan is ons soos sout wat laf geword het en het ons nie meer ’n impak op die wêreld nie. Elke Christen moet in sy of haar dag-tot-dag lewe met Christelike beginsels soos integriteit, medemenslikheid en hulpvaardigheid leef. Daardeur kan ons die wêreld transformeer.

In ons gemeente preek ons oor Christelike waardes en daag mense uit om daarvolgens te leef. Ons raak ook betrokke by barmhartigheidsorganisasies wat die nood in die wêreld aanspreek om daardeur die wêreld te transformeer.

As ek kyk na die verskillende rolle wat ons kan speel word dit vir my duidelik dat baie van ons ’n spesifieke rol het wat ons soos ’n handskoen pas. Van my kollegas in die kerk is van nature kampvegters, luisteraars, getuies of transformeerders. Elkeen van hierdie rolle is belangrik om God se koninkryk te bou.

  • Ds Willem Schoeman is leraar by die Dutch Reformed Church of Zambia en is passievol oor die natuur en die skep van veilige ruimtes tussen mense. Hy is verantwoordelik vir die bediening in Afrikaans en Engels by die gemeente. Sy kollega, ds Moses Zulu kom uit die RCZ (Reformed Church in Zambia) en is verantwoordelik vir die bediening in Engels. Hy gee ook deeltyds klas by JMU (Justo Mwale Teologiese Universiteit).

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top