Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Oos-Kaapse Sinode sê: ‘Hierheen stuur God ons …’

Na medemense

gemeentes

kwesbares

gesinne

boemelaars

ontnugterdes

onbekendes

armes

kinderloses

mense in nood

Geborg

leierskapsfigure

weerloses

werksplekke

families in hospitale

huise waar mense sterf

verontregtes

geestelike armes

mense wat minderwaardig voel

nuwe ouers

diegene wat diens en dienste lewer

na kwesbare mammas

na weduwees

gesinne met konflik

families wat mishandel voel

Geborg

werknemers

en werkloses …

Dit is die plekke, mense en situasies waarheen afgevaardigdes by die jongste sinodesitting van die NG Kerk in Oos-Kaapland gestuur voel na ’n week se luister na mekaar en “wandel in die Woord” (tydsame lees uit die Bybel).

Dit was ’n gemoedelik introspektiewe vergadering waar 180 verteenwoordigers van 101 gemeentes in middel-Oktober vir vier dae ’n nuwe soort sinode beleef.

Minder stoei

“Ek dink vir baie van ons is die sinodesitting iets heeltemal anders as wat ons oor die afgelope 30 jaar ken, van formele vergadering hou, besluite neem, stoei met mekaar, selfs baie stoei met mekaar … en ons het ’n bietjie van daai gewoontes gebreek en met nuwe ritmes begin werk. Waar die Woord sentraal staan binne ’n konteks van aanbidding en diep luister na mekaar,” het dr Frederick Marais op die laaste dag gesê. Marais het as fasiliteerder opgetree op versoek van die sinodale leiers. Dié teoloog en dosent aan Hugenote Kollege op Wellington het ’n veel-sessie-reeks aangebied wat afgevaardigdes vaardighede leer om in hulle gemeentes en gemeenskappe vorentoe te beweeg. Met die term “sosiale innovasie” verwys Marais na ook “klein moedige pogings om heel te maak” in gemeenskappe. Die lys hierbo is deur tafelleiers voorgelees op die laaste dag en is saamgestel op grond van die tafelgesprek-proses die afgelope paar dae. 

Leiers verkies

’n Lywige sakelys is wel vooraf uitgestuur en flink deurgewerk tydens die sitting. Die Protestantse werksetiek het geseëvier en daar is van sonop tot sononder gesit – daardie “tradisie” staan nog sterk. Die volgende afgevaardigdes is tot die moderamen verkies: Ds MG van Rooyen (ondervoorsitter), dr Elsje Büchner (addisionele lid), dr Dewald Davel (voorsitter), ds Jan Grobbelaar (aktuarius) en ds Danie Mouton (skriba en Direkteur Sinode – adviserende lid).

Mag van blindekolle

Twee goed het bygedra tot die atmosfeer van introspeksie: ’n swaar klem op eie konteks – die geskiedenis van die Oos-Kaap en hoe dit “voortleef” in die hede. En ’n lesingreeks deur die praktiese teoloog prof Yolanda Dreyer wat afgevaardigdes herinner het aan die mate waartoe hulle eie blindekolle hulle gedrag kan beïnvloed. Sy het die woorde van Carl Jung in die dominees, ouderlinge en diakens se midde gelaat: “Until you make the unconscious conscious, it will direct your life and you will call it fate.”

Handevat met ander

Nog ’n sterk tema was die idee dat klein gemeentes eenvoudig sal moet “handevat” met ander gemeentes en denominasies om te oorleef. Daar is twee redes hiervoor:

  • Minder gemeentes kan voltydse predikante bekostig. Sedert 1986 het predikanteposte met 800 verminder.
  • En daar is minder predikante beskikbaar om beroep te word. Die NG Kerk se reaksie hierop was “ampsverbreding” waar spanne – eerder as dominees – toenemend gemeentes lei (dink diensleraars, bedienaars ens).

So is daar geluister na ’n voorbeeldstorie / gevallestudie uit Stutterheim (’n klein dorp met nege tradisionele kerke) waar die NG gemeente en die Presbiteriaanse gemeente sedert 2018 nader en nader aan mekaar beweeg het. Die NG gemeente en die Presbiteriaanse gemeente het na ’n “proses van deeglike oorlegpleging en onderhandeling die reis aangepak om ’n verenigde gemeente te wees, hoewel elkeen se eie regspersoonlikheid bly voortbestaan en die ooreenkoms ook met kennisgewing beëindig kan word.” Die grootste wenk uit Stutterheim: “Neem dit stadig … Jy moet mense saam met jou neem.”

Terug by die sinodesitting self. Oor ’n Russian en eiers by ontbyt sou iemand dalk aan Kerkbode noem hulle wou ook in die vergadering darem oor ’n paar strydpunte gesels het, maar te lees aan die liggaamstaal van die groot groep en uitgesproke terugvoer was daar waardering vir ‘n nuwe aanslag. 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

4 thoughts on “Oos-Kaapse Sinode sê: ‘Hierheen stuur God ons …’”

  1. Christiaan Moolman

    Ek sien nogal niks van ‘Julle moet julle vyande liefhê. Dit wat julle reeds doen, maak die ongelowiges nie ook net so nie’ Dit is darem verblydend dat die ‘strydbyle’ hulle pad na die graf begin vind. Hoe sê Jesus by Sy ‘inhegtenis neming’. Bêre jou swaard.
    Seën vir die ‘Oos Kaap’ (en die res van die hopelik navolgers in die hele NG kerk’.) Om ‘dissipels te maak (Mat28:19) is toe heeltemal deur die ‘kerk’ misverstaan. Jesus het nie bedoel, ‘gaan druk ‘n bybel in almal se kele af nie. Nee, Hy het net bedoel; ‘GAAN Sê VIR DIE HELE WÊRELD, WAT IN ELK GEVAL AAN MY BEHOORT (Joh3:16), EK IS LIEF VIR HULLE !!!!!!!!!

  2. Christiaan Moolman

    Ek sien nogal niks van ‘Julle moet julle vyande liefhê. Dit wat julle reeds doen, maak die ongelowiges nie ook net so nie’ Dit is darem verblydend dat die ‘strydbyle’ hulle pad na die graf begin vind. Hoe sê Jesus by Sy ‘inhegtenis neming’. Bêre jou swaard.
    Seën vir die ‘Oos Kaap’ (en die res van die hopelik navolgers in die hele NG kerk’.) Om ‘dissipels te maak (Mat28:19) is toe heeltemal deur die ‘kerk’ misverstaan. Jesus het nie bedoel, ‘gaan druk ‘n bybel in almal se kele af nie. Nee, Hy het net bedoel; ‘GAAN Sê VIR DIE HELE WÊRELD, WAT IN ELK GEVAL AAN MY BEHOORT (Joh3:16), EK IS BAIE LIEF VIR HULLE !!!!!!!!!

  3. Na my mening adem die sinode ‘n gees van dankbare vind van mekaar ipv stryd en verdeeldheid, waarvan mense sat is.

  4. Etienne Nolte

    Dit is bitter jammer en teleurstellend dat die lys ons eerste prioriteits opdrag van die Here nie insluit nie. Ek sien geen passie vir die derduisende verlore siele wat oppad hel toe is nie. Gaan heen maak dissipels van die nasies……! Ek het oor die jare agter gekom dat daar ‘n totale verskuiwing in ons verstaan van missionaliteit na vore gekom het. So versaak ons die voorreg om as geroepenes (kerk) Sy opdragte uit te voer.

Comments are closed.

Scroll to Top