Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

“In Harare, Zimbabwe (deel van die sinodale streek se 103 gemeentes in 16 ringe) het ons ’n vreeslike leemte gehad, dat daar nie predikante was in gemeentes nie. Ons het toe dr Lourens Bosman (voormalige algemene bestuurder by die kantoor van die Algemene Sinode van die NG Kerk) beroep as brugleraar in Zimbabwe, sê ds Lizl-Louise Schoeman (regs onder) vanuit Noordelike Sinode. Foto's: Le Roux Schoeman

Leiers gee terugvoer van regoor die land: ‘Ons hoor baie identiteitsvrae onder lidmate’

Hoe gaan dit met die NG Kerk daar waar jy vandaan kom? Met daardie woorde het ds Jan Lubbe Dinsdagaand 11 November een verteenwoordiger uit elk van die NG Kerk se samestellende sinodes ’n kort geleentheid vir terugvoer gegee by die laaste vergadering van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) vir 2025.

Ds Jan Lubbe

Lubbe is die voorsitter van hierdie vergadering wat in Gauteng plaasvind en die halfpadmerk verteenwoordig tussen die vorige sitting van die Algemene Sinode (in Oktober 2023) en die volgende beplande sinode in 2027.

Opvallende temas uit die streeksinodale terugvoer was meestal positiewe takserings van die gehalte van verhoudings tussen gemeentes en ringe (die streeksgroepering van gemeentes) in die gebiede, wat min of meer maar nie presies met die land se provinsiale grense ooreenstem nie. In elk se kort spreekbeurt het streeksinodale leiers ook verwys na ekonomiese omstandighede in die dorpe en stede waar hulle gemeentes is (met gereelde klem op reënval en landbou-omstandighede omdat soveel gemeentes op die platteland is). Gereelde onderwerpe vir die kerk (gemeentes wat kleiner word) is ook aangeroer. Hier volg enkele uittreksels uit bydraes soos raakgehoor deur Kerkbode wat die vergadering bywoon.

 

Terugvoer uit Hoëveld Sinode (by monde van dr Tom Smith):

  • “In ons sinode kom ons agter dat ons lidmate in ’n tydperk is waar hulle baie identiteitsvrae vra oor wie is ons en wat beteken dit om hier te wees en die drie-enige God te volg?
  • Ons is besig met ons padberade en dit is lekker om te hoor wat op voetsoolvlak (by gemeentes) aangaan. Dit is ’n mengelmoes van positiewe stories aan die een kant en dan ook die uitdagings van gemeentes wat kleiner raak en saam dink oor hoe ons kan handevat. Ons probeer ook ringe meer sosiaal bymekaar kry en ons het toerusting (video’s) begin ontwikkel vir die toerusting van kerkrade.”
Dr Tom Smith

Terugvoer uit Noordelike Sinode (by monde van ds Lizl-Louise Schoeman):

  • “In Harare, Zimbabwe (deel van die sinodale streek se 103 gemeentes in 16 ringe) het ons ’n vreeslike leemte gehad, dat daar nie predikante was in gemeentes nie. Ons het toe dr Lourens Bosman (voormalige algemene bestuurder by die kantoor van die Algemene Sinode van die NG Kerk) beroep as brugleraar in Zimbabwe wat ’n baie goeie proses bestuur het om na kleinerwordende gemeentes te kyk en te help en te vra: Hoe lyk die pad vorentoe?
  • “Ons het ook Universiteit van Pretoria in ons sinodegrense en ons kon ’n heerlike ontbyt saam met die voornemende proponente eet en net van die sinodekant hulle deelwees van die kerk vier.
  • “Ons het saam met ons nuwe kommunikasiebeampte gesê ons het nodig om op ’n baie nuwe, kreatiewe manier te praat met ons mense. Ons nuusbrief is afgestof en oorgedoen. Deel van die uitdaging om hierdie brief by die regte mense te kry is om die regte databasis te hê, so ons het met ’n proses begin om via QR-kode mense se inligting op te dateer dat ons van ’n akkurate databasis kan werk.”
Ds Lizl-Louise Schoeman

Terugvoer uit Oostelike Sinode (by monde van dr Tertius Erasmus):

“As ons kyk na gemeentes, gaan dit eintlik baie goed. Hier en daar is daar gemeentes wat met vraagtekens lewe en ons is nog in gesprek met hulle, want ons is ’n familie wat mekaar vashou. Maar verder gaan dit goed met die dominees. ’n Paar vakante gemeentes en ’n ring waar daar net twee permanente predikante is … Twee eseltjies wat hulleself moeg loop. Maar ons werk hard om te kyk hoe kan ons sinvol met mekaar saamleef. Ons wil baie hard werk aan verhoudings.”

Dr Tertius Erasmus

Goudland Sinode (by monde van dr Grant du Plessis):

“Die streeksinodesitting (in Oktober) is verby. As ek terugkyk op die sinode van ons 142 gemeentes was daar baie goeie verteenwoordiging. Ons kon gesels, ons kon partykeer ’n bietjie warm raak in die vergadering ook, maar dit was ’n goeie vergadering. Ons fokus op verhoudings. Die atmosfeer in Goudland is positief.

Dr Grant du Plessis

KwaZulu-Natal (by monde van dr Barry Tolmay):

  • “Ons het ’n spesiale sinodesitting gehad (in September) en een saak wat vir ons belangrik is, is ringsfunksionering. Ons het ’n klomp ringe saamgevoeg en ons is in ’n proses om ringe te konsolideer.”
  • “Uit ’n provinsie met sowat 12 miljoen mense, waarvan 1% Afrikaanssprekend is, sê Tolmay: “Ons is ’n klein (streek), maar ons glo ons is fiks. Kerkwees in KZN werk anders. Dit wat in die hele land gebeur, gebeur vinniger in KZN. Maar ons sien ook God se hand daarin, dat ons geleentheid kry om anders te funksioneer.
  • Regstelling: In ‘n vorige weergawe van hierdie nuusberig is Tolmay aangehaal dat hy tydens die terugvoersessie gesê het dat daar geen dolerende gemeentes in KZN is nie. Tolmay het Kerkbode intussen laat weet sy stelling was foutief en regstelling verskaf: Port Shepstone en Kokstad doleer. – Red.
Dr Barry Tolmay

Vrystaat (by monde van ds Hannes du Plessis):

  • “Een van die groot uitdagings is dat ons baie gemeentes het wat doleer. En gemeentes wat baie innoverend maar baie onkerkordelik uit verband tree en hulle eie ding doen. Een van die narratiewe wat ons baie keer hoor, is ‘as ons uit sinodale verband klim gaan die mense weer kerk toe kom … dis hoekom die kerke so leegloop …’ Ons belewenis is, ek kan nie aan een só ’n gemeente dink wat groei nie.
  • Ons interimkomitee en sinodale personeel het besluit om al die ringe by te woon, so ons het onder mekaar al sestien ringe bygewoon, wat vir ons regtig ’n idee gee van wat in gemeentes aangaan.
  • By Villiers, Tweeling is daar ekonomiese groei en dit het baie met boerdery te doen.
  • Dit gaan moeilik in die suide, veral by die Lesotho-grens (hou verband met veediefstal). Ons sit met klein gemeentes wat sukkel om aan die gang te bly.”
  • Ons is besig met strategiese beplanning vir die streeksinodesitting van volgende jaar.”
Ds Hannes du Plessis

Wes-Kaapland (by monde van ds Marinus Theron):

 

  • “Ons wou interne eenheid versterk en het verlede jaar begin om ons 24 ringe te besoek. Ons het 22 reeds besoek, dis ’n baie diverse streek, van Port Nolloth af, en om tot Jeffreysbaai … Pofadder is deel van ons sinodale streek. Ons probeer die sosiale vesel versterk en wil die rol van ringe herbevestig en leiers toerus.
  • Oor kleiner gemeentes, wil ek die opmerking maak: Ons was in die ring van Namakwaland, ’n ring met drie voltydse predikante. Dit is ’n ring wat ons besef vir ons ’n prototipe gaan gee van hoe dit in die veraf platteland gaan werk. Gemeentes met bedienaars (in teenstelling met permanente predikantsposte). As ek ’n gemeente moet uitsonder praat ek van ’n gemeente soos Alexanderbaai waar die myn toemaak; vyftien jaar gelede 1 000 lidmate, tans weens demografiese redes 50 lede en hulle praat roepingstaal. Dit is iets wat ’n mens net kan inspireer.”
Ds Marinus Theron

Noord-Kaapland (by monde van ds Marais Kluge):

  • “Ons verlang na Namibië … dis ons mense. (Die streeksinode het vanjaar in Windhoek amptelik uit verband met die NG Kerk se Algemene Sinode getree).
  • Dit gaan goed met ons, dit is ’n harde provinsie met groot uitdagings. Ons is ’n hegte span … Een ding wat ek my met vuur voor beywer is om ons lidmate te bemagtig. Ons sit met ongelooflike begaafde kinders van die Here en ons gebruik hulle nie. Ons dink dominees moet en kan die werk doen. Dis nie waar nie.”
Ds Marais Kluge

Oos-Kaapland (by monde van dr Dewald Davel):

  • “Ons het (in Oktober) sinodesitting gehad. Ek is bitter dankbaar. Ons het nie met mekaar getwis nie. (Lees Kerkbode se sinode-dekking). Goed, ons het in ons ontwerp seker doelbewus wegbeweeg van konflikskeppende goed, nie omdat ons probeer slim wees nie, maar doodgewoon oor dit nie ons oortuiging is dat dit (konflik) is waarmee ons ons behoort besig te hou nie.
  • Verhoudinge en versorging, en roeping. Dis die kern.”
Dr Dewald Davel

Die ASM-vergadering duur tot Donderdag en gee onder meer terugvoer oor die vordering met opdragte wat kerklike taakspanne in Oktober 2023 by afgevaardigdes ontvang het.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Leiers gee terugvoer van regoor die land: ‘Ons hoor baie identiteitsvrae onder lidmate’”

  1. Wat my opval in hierdie opsomming van die sinodes se terugvoering, is hoe baie melding gemaak word van “mense” (7 maal), verhoudings (4), kerk(e) (8), gemeentes (26) en dominees/predikante (7), maar hoe min sprake daar is van God (2), die Here (1), Jesus (0), Christus (0), die Bybel (0), die Woord (0), die Skrif (0) en die Heilige Gees (0).

    1. In enige gesprek word sekere sake veronderstel. As Rassie met die Bokke praat, hoef hy hulle nie aan die basiese reëls van rugby te herinner nie. Dit word veronderstel as die konteks van sy gesprek.
      Wanneer die ASM vergader is dit as gelowiges wat in die Here se teenwoordigheid saamkom. Die Bybel – selfs ongenoemd – vorm die basis, en die Heilige Gees word vertrou vir leiding. Dit word veronderstel in alle gesprekke.
      (Onthou ook dat die berig die joernalis se opsomming van die verslae is).

Comments are closed.

Scroll to Top