Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Hoe het ’n eenvormige ‘kanon’ ontstaan?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


In hierdie reeks rubrieke kyk die skrywer na die gebeure wat die wêreld gevorm het waarin die Nuwe Testament geskryf is. Hierdie is die laaste aflewering.

Die sewende, en laaste, gebeurtenis wat Warren Carter uitlig as belangrik vir die verstaan van die Nuwe Testament is een wat oor ten minste 350 jaar strek: die ontstaan van die Nuwe-Testamentiese kanon.

Die woord “kanon” kan as “reël” of “norm” verstaan word en verwys na die lys van 27 boeke wat as gesaghebbend vir die Christelike leer deur die kerk beskou is.

Die proses waarvolgens die versameling byeengebring is, is vandag moeilik om te rekonstrueer aangesien dit oënskynlik sowel onbeplan as ongekoördineerd was. Die proses het volgens Carter in fases oor meer as een eeu plaasgevind. Die eerste fase was die skryf van die geskrifte wat later die Nuwe Testament sou vorm. Die fase was teen ongeveer die jaar 130 nC voltooi. Die geskrifte was egter nie deel van versamelings nie. Die volgende fase het aangebreek met hulle gebruik in ander gemeentes as dié aan wie hulle aanvanklik gerig was. Dit het weer ’n behoefte aan kopieë laat ontstaan en soos wat die kopieë onderling tussen gemeenskappe versprei is, is van hulle geleidelik in versamelings opgeneem. Met die aanvang van die tweede eeu het die kerkleier Ignatius byvoorbeeld geweet van verskeie briewe van Paulus. Die verskillende versamelings was egter nie eenvormig nie. So het Marcion al in die tweede eeu nC sy eie versameling geskrifte, meestal briewe van Paulus, as gesaghebbend voorgehou in weerwil van die breë kerk wat meer geskrifte as gesaghebbend beskou het.

Teen die vierde eeu het die druk begin toeneem vir ’n eenvormige kanon vanweë keiser Konstantyn se strewe om die kerk te verenig. In reaksie hierop het ’n kerkvergadering in 363 nC te Laodisea ’n lys opgestel. Die lys het egter nie al die boeke van die Nuwe Testament bevat nie. Die eerste lys wat na hulle almal verwys is eers enkele jare later deur die biskop van Aleksandrië, Athanasius, opgestel. Hierna sou dit nog drie deka­des neem voor dit bekragtig is deur ’n kerkvergadering in Noord-Afrika. Die presiese kriteria wat gebruik is om spe­sifiek die 27 geskrifte te kies, is ondui­delik. Waarskynlik was dit ’n kombinasie van of hulle oorsprong naby die tyd van Jesus en die apostels was, of hulle met ’n apostoliese figuur verbind kon word en of hulle oor ’n teologiese inhoud beskik het wat wyd aanvaar is. Wat wel duidelik is, is dat die versame­ling met verloop van tyd die mees in­vloedryke in die geskiedenis geword het.

  • Prof Marius Nel doseer Nuwe Tes­tament aan die Universiteit Stellenbosch.

Aflewering #1

Aflewering #2

Aflewering #3

Aflewering #4

Aflewering #5

Aflewering #6


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.