Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In hierdie reeks rubrieke kyk die skrywer na die gebeure wat die wêreld gevorm het waarin die Nuwe Testament geskryf is. Hierdie is die sesde aflewering.
Die sesde gebeurtenis wat Warren Carter uitlig in sy Seven events that shaped the New Testament world is in werklikheid ’n reeks van gebeure.
Sonder dat dit sentraal gekoördineer is, het die eerste Christene oor byna ’n eeu ’n verskeidenheid van geskrifte geskryf. In vergelyking met die Ou-Testamentiese geskrifte is hulle nie net in ’n ander taal geskryf nie, Grieks eerder as Hebreeus, maar hoort hulle meestal tot ander literêre genres.
So is daar verskeie briewe en vier biografieë van Jesus. Daar is egter ook ’n enkele geskiedenis van die vroeë kerk (Handelinge) wat ooreenstem met die genre van die Ou-Testamentiese ge-skiedskrywing en ’n apokalips (Openbaring) wat soortgelyk aan dele van Daniël is.
Deur die geskrifte het die Christelike geloof, soos die Judaïsme, oor tyd ’n teksgebaseerde geloof geword. Dié ontwikkeling is nie kenmerkend van alle godsdienste nie. Dit het ook eers na die dood van Jesus plaasgevind. Jesus self het naamlik niks neergeskryf nie. Die vroegste tekste waaroor ons beskik was verskeie briewe wat ongeveer twee dekades na die dood van Jesus geskryf is.
Die Evangelies, wat eerste in die Nuwe Testament geplaas is omdat hulle die lewe van Jesus beskryf, is veel later as dié gebeure geskryf. Markus, die oudste van die Evangelies, is byvoorbeeld dekades na die dood van Paulus geskryf. Paulus se eerste brief (1 Tessalonisense) is egter meer as ’n dekade voor sy dood in 64 nC geskryf. Dit is opvallend dat ons nie oor die volledige korrespondensie beskik nie (byvoorbeeld Paulus se briewe en dié van die gemeente in Korinte aan hom) maar net dié van een korrespondent (Paulus).
Die doel van die briewe was om kontak met verskillende geloofsgemeenskappe te behou en hulle by te staan in hulle geloofsgroei en nie om ’n uitvoerige of sistematiese uiteensetting van die Christelike leer te gee nie. Paulus se briewe tref eerder ’n delikate balans tussen wat algemeen geldend is vir alle gelowiges en wat spesifiek bedoel is vir die gemeentes aan wie hy geskryf het. In dié sin het die verskillende briewe van Paulus ’n koherente leerstellige kern wat hulle aan mekaar bind en ’n kontekstuele, praktiese aard deurdat hulle aan spesifieke gemeenskappe geskryf is. In die lees van die briewe, en daarmee saam die skryfgebeure wat die kerk gevestig het, moet ons die koherensie en kontekstualiteit in ag neem.
- Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.