Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Die wêreld agter die Nuwe Testament

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Die Nuwe Testament het nie in ’n vakuum ontstaan nie en daarom is dit nodig om te let op die gebeure wat die wêreld gevorm het waarin dit geskryf is. In sy boek Seven events that shaped the New Testament world bespreek die Nuwe-Testamentikus Warren Carter die belangrikste van die gebeure.

Die eerste wat hy uitlig is die impak van Aleksander die Grote. Met sy dood in 323 vC was hy skaars 33 jaar oud maar het hy toe reeds die Persiese Ryk verslaan en ’n ryk van sy eie gevestig wat van Griekeland tot Indië gestrek het. Drie eeue na sy dood het sy optrede steeds ’n direkte uitwerking op die eer­ste volgelinge van Jesus gehad. Só het dit bygedra tot die vermenging van die Griekse kultuur, taal en instellings met dié van die nasies van die Ooste met wie hulle in kontak gekom het.

Om dié rede skryf Jesus se volgelinge hulle geskrifte in Grieks en nie Hebreeus, die voorkeurtaal van die Ou Testament, nie. Hulle lees ook ’n Griekse vertaling van die Hebreeuse Ou Testament. Die geloof in Jesus versprei later ook van die een stad na die ander wat beïnvloed is deur die Grieke se inrigting van hulle stede. So benut Paulus telkens die agora, die sentrale markplein vir goedere en idees, van meer as een Griek­se stad en verwys hy na verskeie van die sportsoorte waarin die Griekse stadstate teen mekaar meegeding het (1 Kor 9:24-27).

Ondanks dié benutting van die Griek­se taal en siviele instellings deur sy volgelinge, was Jesus egter geensins ’n nabootser van Aleksander die verowe­raar nie. Terwyl talle maghebbers vir Aleksander die Grote as tiran en kryger as ’n rolmodel beskou het, het Jesus sy volgelinge geleer dat hulle juis nie soos die heersers van die nasies oor hulle onderdane moet baasspeel nie. Diegene wat belangrik wou wees in sy koninkryk moes eerder almal se dienaar wees (Matt 20:25-27).

Die radikale aard van die nuwe weg wat Jesus bewandel het raak dus eers duidelik wanneer dit teen die templaat vir leierskap beskou word wat Aleksan­der vir die wêreld nagelaat het. Kennis van die gebeure wat na Aleksander die Grote se optrede herlei kan word help ons dus om die eiesoortige aard van die Christelike geloof beter te verstaan.

  • Prof Marius Nel doseer Nuwe Tes­tament aan die Universiteit Stellenbosch.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.