Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Lig wat skyn eerder as vuur wat verteer

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In hierdie reeks rubrieke kyk die skrywer na die gebeure wat die wêreld gevorm het waarin die Nuwe Testament geskryf is. Hierdie is die vierde aflewering. Voriges kan gelees word by kerkbode.co.za onder die Dinkstof-hofie in die navigasiekolom.


Die vierde gebeurtenis wat Warren Carter uitlig vir die verstaan van die Nuwe Testament is die Romeinse oorname van Palestina. Na ’n eeu van Joodse onafhanklikheid het ’n burgeroorlog uitgebreek tussen twee broers, Hirkanus II en Aristobulus II. Beide het die Romeine genader om militêre hulp en uiteindelik het die Romeine eersgenoemde se kant gekies en word Aristobulus II se magte finaal verslaan toe die Romeinse generaal Pompejus in 63 vC Jerusalem verower het. Hierop het die Romeine uitgesoekte Joodse leiers aangestel wat hulle be­lange gedien het. Die vernaamste was Herodes die Grote wat in 42 vC as ko­ning van Juda benoem is. Sy heerskappy is gekenmerk deur geweld deurdat hy etlike lede van sy familie vermoor en opstande genadeloos onderdruk het.

LEES OOK: Aflewering 1: Die wêreld agter die Nuwe Testament

Sommige Jode, soos die Selote, het op die Romeinse oorheersing met ge­weld gereageer. Ander, soos die Hero­diane en Sadduseërs, het weer met die Romeine meegewerk ten einde hulle welvaart te vermeerder. Die gebeure het met verloop van tyd onder sommige Jode die hoop laat opvlam dat God danksy sy verbondstrou ’n ideale ko­ning sou stuur wat die huis van Dawid sou herstel. Die koning, God se gesalfde, was bekend as die Messias. Die aan­spraak van Jesus se volgelinge, dat Hy dié Messias was, moet daarom teen die agtergrond van die Romeinse besetting van Palestina verstaan word.

LEES OOK: Aflewering 2: Wêreld van die teks: Impak van Grieks as voertaal

Dit is vervolgens ’n vraag hoe Jesus as Messias daarop gereageer het. Dit is in dié verband duidelik dat Jesus nie ’n gewelddadige stryd wou begin nie. Hy wou egter wel die geweld en korrupsie van die Romeine en hulle meelopers aan die kaak stel. So leer Jesus dat as ’n Romeinse soldaat jou dwing om sy rugsak een myl te dra, jy dit vir twee moes doen sodat mense die vergryp kon sien (Matt 5:41-42). Of as jy verneder word deur ’n klap deur die gesig moet jy die ander wang draai sodat dit herhaal kon word (Matt 5:39). Dieselfde geld as skuldeisers jou onderkleed neem. Gee ook jou bokleed dat dit vir almal sigbaar is dat jy kaalgestroop word (Matt 5:40).

LEES OOK: Aflewering 3: Hierdie verstaan bied ook ’n lens op Paulus

Volgelinge van Jesus moes weet dat alles wat bedek en verborge is in ’n gekaapte land bekend gemaak sou word. Daarom moes hulle eerder die goeie nuus van God se geregtigheid, luid­keels in die openbaar ver­kondig (Matt 10:26-27). Hulle is dus eerder ’n lig wat ’n donker wêreld belig as ’n vuur wat dit verteer.

  • Prof Marius Nel doseer Nuwe Tes­ta­ment aan die Universiteit Stellenbosch.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top