Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In hierdie reeks rubrieke kyk die skrywer na die gebeure wat die wêreld gevorm het waarin die Nuwe Testament geskryf is. Hierdie is die derde aflewering. Voriges kan gelees word by kerkbode.co.za
Die derde gebeurtenis wat Warren Carter uitlig as belangrik vir ons verstaan van die Nuwe Testament is die gebeure wat aanleiding gee tot die herindiensneming van die tempel in Jerusalem. Die aanloop tot die gebeurtenis begin met die dood van Aleksander die Grote (323 vC). Aangesien hy geen opvolgers verwek het nie, is sy ryk verdeel tussen sy generaals. Egipte is aan Ptolemeus en Assirië (die hedendaagse Turkye en Sirië) aan Seleukos gegee. Die dinastieë, met Palestina as landbrug tussen hulle, was vir dekades in konflik met mekaar. Palestina was aanvanklik onder Ptolemeuse oorheersing voor dit vanaf 200 vC deur die Seleukiede oorheers is.
LEES OOK: SA skuif na vlak 1: 100 nou by eredienste toegelaat
In dié tyd het een Seleukiede heerser ongekende ellende oor die Jode gebring. Vanaf 175 tot 164 vC het Antiogos Epifanes IV met geweld gepoog om die Jode te Helleniseer. Hy verban die viering van die Paasfees en die Sabbat, stroop die tempel se skatte en laat Zeus daarin aanbid word. In reaksie hierop het die priester Mattatias en sy vyf seuns die swaard opgeneem. Uiteindelik slaag sy seun Judas Makkabeër (letterlik “die hamer”) daarin om die Seleukiede te verdryf. Op 14 Desember 164 vC word die tempel weer in gebruik geneem en was die Jode na eeue weer vry.
Carter wys daarop dat die vryheidstryd verskillend deur twee nie-kanonieke boeke vertel word. 1 Makkabeërs onderskryf die gewelddadige weg wat die Makkabeërs gekies het. 2 Makkabeërs beklemtoon egter eerder die rol van martelare. Dit vertel van die bejaarde Eleasar wat kies om te sterf eerder as om varkvleis te eet, en van ’n ma en haar sewe seuns wat doodgemartel word om dieselfde rede. 2 Makkabeërs beklemtoon dat dit beter is om te sterf vir jou geloof as om daarvoor te veg, en dat God diegene wat sterf as regverdiges uit die dood sal opwek. Die dood van die regverdiges sal God verder beweeg om genade aan sy volk te betoon.
LEES OOK: Gebed van ’n woedende man
Beide denkrigtings het Jode in die tyd van Jesus steeds beïnvloed. Een manier om Paulus te verstaan, is dat hy voor sy bekering volgens die denkrigting van 1 Makkabeërs die Joodse geloof wou beskerm deur die volgelinge van Jesus gewelddadig te vervolg. Na sy bekering beklemtoon hy egter in lyn met die denke van 2 Makkabeërs die genadige uitwerking van Jesus se dood as martelaar, en sy opstanding uit die dood as regverdige, op gelowiges se verhouding met God.
- Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.