SA skuif na vlak 1: 100 nou by eredienste toegelaat

President Cyril Ramaphosa het weer op Sondagaand (28 Februarie) Suid-Afrikaners tydens ’n regstreekse uitsending uit Pretoria toegespreek en aangekondig dat, op grond van ’n beoordeling van die huidige toestand van die pandemie in die land, die kabinet besluit het om die land van Koronavirus-vlak 3 na vlak 1 te skuif. Die nuwe vlak 1-maatreëls is dieselfde aand in die Staatskoerant gepubliseer en was van 1 Maart 2021 af geldig.

Wat beteken die vlak 1-maatreëls vir kerke?

  • Maksimum 100 mense by eredienste toegelaat

Volgens die nuwe maatreëls is die maksimum aantal mense wat by enige byeenkoms toegelaat word, 100 mense binne of 250 mense buite. Waar die lokaal te klein is om hierdie getalle met gepaste sosiale afstand te akkommodeer, mag nie meer as 50% van die kapasiteit van die lokaal gebruik word nie.

  • Nagwake bly verbode

Nagwake voor en byeenkomste ná begrafnisse bly steeds verbode.

  • Onthaal by troues word toegelaat

Sosiale geleenthede, asook ander religieuse, sosiale, politieke en kulturele byeenkomste word nou toegelaat, maar bly onderhewig aan beperkings op grootte, die nakoming van sosiale afstand en ander gesondheidsprotokolle.


Word 'n vriend van Kerkbode