Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In hierdie reeks rubrieke kyk die skrywer na die gebeure wat die wêreld gevorm het waarin die Nuwe Testament geskryf is. Hierdie is die tweede aflewering. Voriges kan gelees word by https://kerkbode.christians.co.za/category/dinkstof/
Die tweede historiese gebeurtenis wat die ontstaan van die Nuwe Testament volgens Warren Carter beslissend bepaal het, is nie ’n veldslag nie, maar ʼn vertaling.
Een nagevolg van Alexander die Grote se verowerings was dat Grieks die voertaal van baie gebiede oos van Griekeland geword het. Met tyd het dit meegebring dat baie Jode binne en buite Israel eerder Grieks as Hebreeus gepraat het. Hulle kon dus nie meer hul Hebreeuse geskrifte lees nie en is daar begin om hulle in Grieks te vertaal. Die Brief van Aristeas uit die tweede eeu voor Christus beweer dat die eerste vyf boeke van die Ou Testament, die Pentateug, in twee-en-sewentig dae rondom die jaar 250 voor Christus vertaal is. Daar is egter redes om te glo dat dit veel langer geneem het.
LEES OOK: Die wêreld agter die Nuwe Testament
So is die boeke van die Ou Testament nie op dieselfde wyse vertaal nie. Sommige is meer letterlik vertaal as ander en enkeles is selfs verkort. Die twee-en-sewentig geleerdes wat volgens die Brief van Aristeas in opdrag van die Egiptiese heerser Ptolemeus II die vertaling onderneem het, is later as sewentig gereken. Die rede vir die verandering is moontlik om dit te belyn met die getal oudstes wat die wet by Sinai ontvang het (Eksodus 24:9-11).
Dit is dié getal wat die naam van die vertaling in Latyn geword het: die Septuaginta. Die invloed van die totstandkoming van die Septuaginta op die Judaïsme en die Christelike geloof was enorm. Dit het aan Jode in ’n multikulturele wêreld die vermoë gegee om hulle unieke geloofsidentiteit te behou asook nuwe begrippe om dit mee te verwoord. Die volgeling van Jesus het ook meestal uit die Septuaginta aangehaal wanneer hulle na die Ou Testament verwys. Sodoende het hulle voortgebou op die herinterpretasie van die Hebreeuse geskrifte wat eeue vantevore begin het. Dit verduidelik ook waarom sekere Ou-Testamentiese aanhalings in die Nuwe Testament vandag nog verskil van hul bewoording in die Ou Testament self.
LEES OOK: Om vir die dood te lag
Baie van die Nuwe Testament aanhalings is naamlik vertalings van die Septuaginta weergawe wat in die Griekse Nuwe Testament opgeneem is en nie van die Hebreeuse teks wat onderliggend aan ons vertalings van die Ou Testament is nie. So verwys die aanhaling van Jesaja 7:14 in Matteus 1:23 na “’n maagd” wat swanger sou word, soos in die Septuaginta vertaal, terwyl die Hebreeuse teks na “’n jong vrou” verwys sonder om te vermeld dat sy noodwendig ’n maagd was.
- Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.