Om vir die dood te lag

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Daar is ’n verskil onder uitleggers oor hoe om die verhaal van Eutigus in Handelinge 20:7-12 te verstaan. Is die vertelling van hoe ’n jongman homself tydens Paulus se preek in Troas doodgeval het, nadat hy aan die slaap geraak het, veronderstel om humoristies te wees? Of is dit eerder ’n doodernstige waarskuwing teen afvalligheid?

Om die vraag te beantwoord het Alexander Thompson in ’n onlangse artikel die insident beskou vanuit die perspektief van hoe Lukas se lesers dit sou verstaan het. Humor is naamlik altyd konteksgebonde. Nie alle grappe is vir alle mense snaaks nie. Die vraag is daarom hoe antieke humor gelyk het.

Eerstens wys Thompson daarop dat woordspelings baie algemeen was. So het Paulus oor die wegloopslaaf Onesimus, wie se naam “voordelig” beteken, geskryf dat hy wel voorheen vir Filemon “geen voordeel” ingehou het nie, maar nou vir hom “groot voordeel” inhou (Filemon 11).

Eutigus, wie se baie algemene naam “gelukkig” beteken, was weer “ongelukkig” om homself dood te val, maar “gelukkig” dat Paulus hom kon opwek. Die rede vir sy sluimer is volgens Lukas ook nie sy skuld nie maar Paulus sʼn wat te lank gepraat het (vers 9). Die vermoë van langdradige toesprake om gehore aan die slaap te sus was ’n algemene grap in Griekse komedies. So ook die tragedie van jongmense, soos die jongste lid van Odusseus se bemanning, wat hulleself doodval in Griekse tragedies.

LEES OOK: ‘Wat moet ons doen?’

Saam fokus die ironiese naam van Eutigus, die gedeelde ervaring van insluimer tydens toesprake, en die tragedie van jongmense wat hulleself dood­val ons aandag op die onverwagte na­draai van die insident: Eutigus word opgewek uit die dood. Sy naam is dus nie ironies nie maar eerder gepas.

Lukas se humoristiese verhaal gee ons ’n unieke insig in die ervarings­wêreld van die eerste Christene. Gedeelde humor skep naamlik ’n besondere intimiteit tussen mense. As ons Lukas se humor in die staaltjie van Eutigus snap, sy lag vir die dood danksy die evangelie van die opstanding, deel ons oor die eeue ’n gemeenskaplike geloofs­ervaring.

Dan word ons saam met Paulus se gehoor, soos Lukas sy vertelling in vers 12 afsluit met die litotes (die beklemtoning van iets deur die ontkenning van sy teenoorgestelde) “nie min bemoedig nie” (vertaal as “uitermate bemoedig”) oor Eutigus wat na sy huis teruggeneem kon word.

Prof Marius Nel doseer Nuwe Tes­tament aan die Universiteit Stellenbosch.