‘Wat moet ons doen?’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In haar onlangse studie, The path to salvation in Luke’s Gospel, waarin sy Lukas se verlossingsleer opnuut bestudeer, wys Mija Wi daarop dat ons versigtig moet wees om geloof bloot tot ’n innerlike oortuiging te vervlak.

In Lukas se vertelling van Johannes die Doper en Jesus se verkondiging van God se komende koninkryk ontlok dit telkens die vraag “wat moet ons doen?” by diegene wat daardeur aangeraak word. So vra die skare, tollenaars en selfs soldate opeenvolgend dié vraag aan Johannes die Doper in reaksie op sy prediking (Luk 3:10, 12 en 14).

Vir elkeen spel Johannes dan uit wat hulle moet doen – deel kos en besittings, moenie te veel belasting invorder, mense afpers, vals aankla of selfs kla oor lone nie (Luk 3:11, 13 en 14). ’n Wetsgeleerde (Luk 10:25) en maghebber (Luk 18:18) vra weer aan Jesus wat hulle moet doen om die ewige lewe te beërf. Vir beide verwys Jesus na die vereistes van die Wet (Luk 10:26; 18:20), nie omdat dit die gronde vir hulle verlossing is nie (Luk 18:24-25), maar omdat geloof natuurlikerwys ’n lewe in ooreenstemming met God se wil veronderstel.

Jesus vertel ook in Lukas twee gelykenisse waarin karakters hulleself afvra wat hulle moet doen – die ryk man met sy oorvloed (Luk 12:17) en ’n oneerlike bestuurder wat ontslag in die gesig staar (Luk 16:3). Beide reageer met doelgerigte ekonomiese handelinge. Die ryk man gaar op en word ’n dwaas genoem (Luk 12:18-21), terwyl die oneerlike bestuurder geprys word vir sy verstandige optrede deurdat hy sy eienaar se skuldenaars se skuld verlig het (Luk 16:5-8). In beide gevalle is die hantering van welvaart deurslaggewend in hoe hulle gedrag beoordeel word (Luk 12:33; 16:9).

Dit klop met Lukas se klem in sy Evangelie dat God se genade gelowiges onder die verpligting plaas om genade aan ander te betoon (Luk 6:36). Geloof is vir hom nie net die dankbare ontvangs van God se genade nie. Dit is ook die daadwerklike uitleef daarvan. Dit is ook nie net ’n innerlike oortuiging nie. Dit vra om konkrete optrede in die alledaagse sosio-ekonomiese wêreld wat ander se nood verlig. Geloof is ook nie net ’n persoonlike saak nie. Dit vra om die deurgee van God se genade aan ander deurdat ons hulle nood verlig. Gelowiges moet naamlik eerder bekend wees vir hulle gee van aalmoese as vir boosheid en inhaligheid (Luk 11:39-41).

  • Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.