Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Jesus ontken nie klag dat Hy wêreld­orde wou uitdaag

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


In hierdie reeks rubrieke kyk die skrywer na die gebeure wat die wêreld gevorm het waarin die Nuwe Testament geskryf is. Hierdie is die vyfde aflewering. 

Die kruisiging van Jesus is die vyf­de gebeurtenis wat Carter uitlig wat krities noodsaaklik is vir die verstaan van die Nuwe Testament. Volgens die Nuwe Testament en ander buite-Bybelse bronne was dit tydens die goewerneurskap van Pontius Pilatus (26-37 nC). Die presiese wyse waarop Jesus gekruisig is, word egter nie deur enige bron stap-vir-stap vermeld nie. Markus 15:14 byvoorbeeld vermeld bloot dat Jesus gekruisig is. Terwyl veroordeeldes op ’n veelvoud van maniere gekruisig is, was die gewone werkwyse om hulle eers te verswak deur hulle te gesel sodat hulle hulle nie teensit nie. Hierop is hulle aan ’n dwarsbalk vasgemaak en gelei na waar hulle gekruisig sou word. Hier is hulle aan die kruis self vasgespyker waarna hulle na ’n lang lyding vanweë asemnood, of skok vanweë die trauma van die kruisiging self, gesterf het. Hulle asemnood is veroorsaak deur die fisiese inspanning wat dit vereis om uit te asem as hulle teen ’n kruis vasgespyker is.

Dat Jesus deur die Romeine gekruisig is, is insiggewend om te verstaan hoe hulle Hom beskou het. Hulle het Jesus immers nie gekruisig oor die teologiese betekenis wat Christenskrywers later aan sy dood sou heg nie. Vir die Romeine was kruisiging ’n straf gereserveer vir diegene sonder status, misdadigers of rebelle. Dit was nie die vinnigste of effektiefste manier om mense tereg te stel nie. Dit was eerder ’n publieke wyse om almal wat hulle heerskappy wou uitdaag te waarsku om in hulle spoor te trap.

Dit is opvallend dat tydens Jesus se verhoor en kruisiging die aanklag by herhaling gemaak is dat Hy Hom as koning van die Jode voorgedoen het. Die opskrif bo sy kruis verklaar dan ook dat dié aanspraak die rede vir sy kruisi­ging was. Volgens die Romeine het Jesus dus oënskynlik ’n wesenlike gevaar vir hulle heerskappy ingehou. Terwyl die Romeine nie gewoonlik rabbi’s wat geleer het dat die volle uitvoering van die Wet liefde is gekruisig het nie, het hulle Jesus waarskynlik as ’n bedreiging gesien oor sy verkondiging van ’n nuwe koninkryk wat radikaal verskil het van hulle s’n. Terwyl ons dikwels gou is om Jesus se optrede en dood bloot te vergeestelik as dat Hy gesterf het om ons siel te red, is dit betekenisvol dat Jesus die klag dat Hy die wêreldorde wou uitdaag nooit ontken nie. Hy het eerder gesterf om die ganse geskape wêreld te bevry van die greep van sonde.

  • Prof Marius Nel doseer Nuwe Tes­tament aan die Universiteit Stellenbosch.

Aflewering #1

Aflewering #2

Aflewering #3

Aflewering #4


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.