Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In die kerklike jaar word die tyd tussen Pinkster en Advent as Koninkrykstyd beskryf. In dié tydperk dink die kerk na oor haar roeping in die hede in afwagting op die wederkoms.
Ter voorbereiding van sy dissipels op dié wagtyd het Jesus verskeie gelykenisse vertel. Een van die bekendste is die gelykenis van die talente in Matteus 25:14-30. Dit vertel van ’n man wat op reis wou gaan en toe sy besittings aan sy slawe toevertrou het. Die een het vyf, die ander twee, en een ’n enkele talent ontvang. Die verloop van die gelykenis is welbekend. Die eerste twee het gewoeker met hulle talente en dit verdubbel. Die een met ’n enkele talent het egter syne bloot versteek en is daarom, anders as die ander slawe, nie deur sy eienaar met sy tuiskoms geprys nie.
LEES OOK: Digitale bediening: ‘Dis nie pause nie … dis nuut begin’
Die betekenis van die gelykenis is oënskynlik duidelik. Gelowiges het verskillende talente, of te wel natuurlike vermoëns, van God ontvang en God sal van hulle rekenskap eis oor hoe hulle daarmee omgegaan het. Terwyl die verstaan van die woord “talent” as ’n besondere vermoë in Afrikaans na die gelykenis herlei kan word, is dit nie waarop die Griekse tálanton in die gelykenis dui nie. Die talente word immers aan elke slaaf gegee na aanleiding van hulle vermoëns (vers 15). ’n Talent is dus nie sinoniem met vermoë nie. Dit dui eerder op wat van die vermoëns verwag word. Letterlik was ’n talent ’n gewig van tussen 26 en 36 kg van goud, silwer of koper.
LEES OOK: Nuwe eenheidsmodel op die tafel om skeuring binne NG Kerk te vermy
Die geldeenheid in vers 18 dui daarop dat die talente in die gelykenis silwer was en elkeen dus gelyk aan 6 000 arbeiders se dagloon. Figuurlik dui die enorme bedrag op die verantwoordelikheid wat ons vermoëns meebring. Die gelykenis veronderstel dus dat geleenthede om ons vermoëns in God se koninkryk uit te leef uiters waardevol is. Om dié rede moet natuurlike vermoëns nie bloot vergader of versteek word nie. Ons moet eerder werksaam wag op die wederkoms. Die loon op dié gewoeker is verdere geleenthede om werksaam te wees. Daarom is die kerk en gelowiges se werk nooit voltooi nie. Hoe meer ons doen hoe meer geleenthede sal ons kry. Daar is egter ’n verdere loon vir dié wat werksaam wag. Hulle deel in hulle heer se vreugde (vers 21 en 23). In die gelykenis verteenwoordig die heer God self. Wie dus hulle vermoëns ten volle aanwend sal uiteindelik deel in die vreugde wat God beleef wanneer ons sy wil doen.
- Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.