Covid-inperkings het nie die “Pause”-knoppie gedruk wat gebruiklike eredienste betref nie, maar eerder die “Reset”-knoppie, het prof Stephan Joubert gesê in ’n bespreking wat opgebou het na die tien “digitale gebooie” wat hy vir homself opgestel het.
“Die werklikheid het onherroeplik verander. Mense se brein het verander … Digitaliteit verander jou brein,” het die gewilde skrywer en digitale voorloper verduidelik.
LEES OOK: Leraars moet toegerus word om digitaal te groei
Nes die “orrelfondse” van weleer of hedendaagse begrotings vir musiekbediening vir gemeentes byna vanselfsprekend is, moet kerkleiers en lidmate geld en kundigheid ploeg in digitale bediening vir die kerk om te floreer, het Joubert op 28 September gesê.
As gasspreker op die eerste dag van die moderamen van Wes-Kaap Sinode se bymekaarkoms op Wellington, het Joubert 90 minute gehad om te gesels oor “nuwe landskappe (en goeie probleme) vir florerende kerkwees.”
Soos dit die dryfkrag agter ekerk.org betaam (“ekerk se doel is om mense regoor die aarde op die internet met die Here se Goeie Nuus te bedien”), sien Joubert meer geleenthede as uitdagings in van die aspekte van virtuele kerkwees waarteen sommige in die kerk skop.
Aan die kern van Joubert se oortuiging staan: “Alle vorms en inhoude van geloofsuitdrukking kan digitaal gebeur en/of gefasiliteer word.” Hy som dit later so op: As mense se hart in die digitale ruimte verander, is dit steeds regte harte wat verander.
Joubert het ’n deeglike oorsig gegee van onder meer die redes waarom daar dikwels weerstand teen verandering is. Vrees vir die onbekende, tesame met ’n vrees vir die kunsmatige – waar skerm-tot-skerm kommunikasie skielik gesig-tot-gesig moet vervang … Daar is ook ander handremme, meen Joubert. Sommige lidmate hanteer die kerk as ’n soort geestelike bomskuiling en beywer hulle vir die najaag van ’n nostalgiese idee van hoe dinge was. En dan is daar ook ’n ingesteldheid wat hy grappenderwys met sy hond se gedrag vergelyk: om te blaf vir als wat die hond nie verstaan nie.
LEES OOK: ‘Dis anders om digitaal te rou,’ sê leraars
Joubert het nie van die uitdagende aspekte van die snelbewegende digitale werklikheid waarbinne ons leef, verdoesel nie. Daar is datakoste, Generation Me se narsisme, kuberboelies, die onpeilbare pseudo-initimiteit van soveel sosiale media. Om nie te praat van die gevreesde “scatter brain”-effek nie, waar die medium of platform wel die gebruiker se aandag boei, maar die verskillende stimuli daarbinne die kyker as ’t ware oorrompel. Om hierdie stilstaar-gehoor werklik via slimfone of welke toestel ookal te bereik is nie ligte musiek nie. En taamlik min het waarskynlik die gemiddelde dominee wat rondom die grendeltyd sy/haar versigtige YouTube-buiging gemaak het, voorberei daarop om skielik ’n volledig geïntegreerde, veelskerm, datagedrewe bediening van stapel te stuur te midde van al die ander pastorale eise wat die grootste gesondheidskrisis in ons leeftyd meebring.
Daarom het Joubert ook ’n paar wenke gedeel. In die vorm van tien “gebooie” wat hy op beskeie wyse in die eerste persoon stel (eerder as opdragte) en in die aandagtige gehoor se midde gelaat het voor hulle met ’n stampvol agenda vir die tweedag-saamtrek weggeval het. Dit lui as volg:
- Ek dupliseer kerkwees in fisiese spasies nie net so op digitale platforms nie.
- Ek weet korter is beter.
- Ek deurdink plasings, twiets, foto’s, boodskappe, interaksies vooraf.
- Ek weet dit gaan nie oor getalle en likes nie, maar oor resonansie en opbou.
- Ek het ’n keurige digitale aanwesigheid as getuie vir die Here. (Ek is nie ’n geestelike straatvegter nie …”)
- Ek skinder nie digitaal nie.
- Ek systap “fake news”.
- Ek doen graag geestelike huisbesoek (“connect” persoonlik deur WhatsApp, e-pos …).
- Ek is vrygewig (ondersteun my kerk geldelik).
- Ek het nie ’n kunsmatige aanlyn persona nie (Wees aanlyn en aflyn eg en deursigtig).
prof Joubert het die kennis en belangrik dat die leidig duidelik verstaan dat die opdrag die uitkoms in tyd, standaard, presisie en kwaliteit deurentyd bestuur. Belangrik vir die toekoms in interaksie, deelname, soos gese korter is beter, kennis word gedeel en konstat opgegradeer
Hier in die Karoo waar ons gemeente geleë is, het die digitale bediening ‘n lewensaar geword en beleef ons benewens ekerk se bediening, self ook deur ons eie digitale bediening dag vir dag deur die Evangelieverkondiging wat by ons deur beide WA en YOUTUBE gebring word…. die Evangelie is die krag van God in ons lewens.