Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Kerke moes die laaste agt maande radikale skuiwe maak om effektief te kan bly bedien in ’n wêreld wat onverwags verander het. Predikante moes groot veranderinge maak en baie vinnig nuwe vaardighede aanleer. In baie gevalle met groot sukses. Die kerk het duidelik laat blyk dat dit meer as ’n globale pandemie en ’n inperking sal vat om bediening aan gelowiges en die uitbreiding van die koninkryk te stuit!
Dit is wonderlik om te sien hoe die kerkstrukture hierdie veranderinge aanpak. Dit is egter nie genoeg nie … hoe verder ons groei in digitale bedienings, hoe meer word ons bewus van die belangrikheid van aanpasbaarheid en opleiding nie net vir predikante en leiers nie, maar vir lidmate ook.
Sonder lidmate wat toegerus word om sinvol deel te neem aan digitale bedienings sal selfs die effektiefste aanlynbedienings heel moontlik meer toeskouers hê as betrokke lidmate. Hierdie vorm van bediening loop die gevaar om blote verbruikers te kweek wat nie regtig deel is van ’n ware erediens nie.
So hoe kan kerke lidmate help om werklik ’n sinvolle digitale ervaring te hê?
1. Skep heilige plekke
Het jy al aanlyn kerk probeer kyk terwyl die kinders ’n kussinggeveg loods in jou sitkamer? Die voordeel van aanlynkerk is dat jy enige tyd of plek kan kyk. Dit is ook een van die redes waarom dit in baie gevalle glad nie die impak het van ’n erediens wat jy persoonlik bywoon nie.
Lidmate kan aangemoedig word om vir hulleself plekke of ruimtes te skep waar hulle in ’n stil omgewing ’n erediens kan kyk. Kies ’n plek waar jy jouself inrig om vir 45 minute sonder onderbrekings of steurnisse deel te kan wees van ’n erediens. Kies ook jou tyd reg. Die voordeel van digitale kerk is dat dit nie 9:00 op Sondagoggend hoef te wees nie. Jy kan dit enige tyd van die week kyk. Kies vir jou ’n tyd wanneer jy weet dat julle as gesin die hele diens rustig kan kyk.
2. Kry kopspasie
Nie net ’n omgewing nie, maar ook wat in ons kop aangaan kort ’n bietjie stilte. Maak seker jy kán nou die kopspasie skep daarvoor – jou fokus moet daar wees. Een van die groot voordele van aanlynkerk is juis dat jy dit enige tyd kan doen, maar as jy elke week net in die verbygaan daarna kyk terwyl jy ander goed moet doen gaan jy gou moeg raak daarvoor.
Om vinnig op te vang oor wat Sondag se boodskap was omdat ek hierdie week net nie die tyd kry vir kerk toe gaan nie, is ’n noodmaatreël, nie ’n goeie gewoonte nie. Om werklik geestelik te groei met behulp van aanlynkerk gaan jy meer dissipline aan die dag moet lê. Hierdie is ’n uitstekende tyd om die foon af te sit (as jy die erediens op ’n ander toestel kyk).
3. Gebruik simboliek
Een gewoonte wat help om die regte plek, tyd en kopspasie te hê vir aanlynkerk meemaak is simboliek. Die kerk het dit: preekstoel, kanselkleed, toga (as dit vir jou spiritualiteit werk), vensters, ’n kruis, doopbak en nagmaalbeker. Dit is alles beelde wat jou help voel jy is in ’n heilige tyd en ruimte saam met God, dit is dinge wat ons help fokus op Hom.
Jy kan dit by die huis met groot vrug gebruik. Steek vir julle as gesin ’n kers aan tydens kerktyd. Sit ’n glas en ’n bordjie met ’n stuk brood op die koffietafel. Maak jou Bybel oop voor jou al is die teks op die skerm. Ek het al selfs gehoor van iemand wat aantrek soos hulle sou aantrek vir kerk op ’n Sondag – as dit vir jou iets besonders is van kerk toe gaan, doen dit! Dit help jou sien en onthou waarmee jy nou besig is.
4. Deelname is baie belangrik
Hierdie is die ononderhandelbare wet van digitale kerk: Jy moet deelneem! Digitale dienste moet so opgestel word om deelname moontlik te maak en te stimuleer. Mense wat inskakel moet aangemoedig word om deel te neem. Daar is nie so iets soos ’n toeskouer in ’n erediens nie.
Deelname wissel natuurlik. Een vorm is om kommentaar te lewer op ’n uitsending of video. Facebook, YouTube en ander uitsendingsplatforms bied die geleentheid om dit te kan doen. Dit is effe moeiliker as jy op ’n televisie kyk as op ’n tablet of foon, maar as jy enigsins kan: groet, vra jou vraag as jy een het, wens die ander wat saam met jou inskakel sterkte toe vir die week. Dit wys jy is dáár, dit laat ander ook deel voel van iets groter en dit help jou beleef dat jy deel is van ’n gemeenskap.
Ander vorme van deelname is ook belangrik soos om te sing. Almal is nie die grootste solo-kunstenaars nie, maar dit is onmiskenbaar deel van ’n Christen se geloofslewe om tot God te sing. By die kerk kan jy wegkruip agter ander se groter stemme, maar by die huis is jy darem tussen geliefdes wat jou sal vergewe. Sing net!
Wanneer dit nagmaal is voorsien lidmate self in die brood en wyn. Kry dit voor die tyd gereed, neem heelhartig deel aan die sakrament. Dit was nog altyd God wat iets spesiaal van sakramente maak, nie predikante se hande nie. Bid saam wanneer daar gebid word, lees wanneer daar gelees word.
Wanneer gemeentes digitale eredienste met so ’n fokus aanbied en lidmate met so ’n gesindheid deelneem daaraan is daar geen rede waarom ons nie in ons eie huis die grootse teenwoordigheid van God kan beleef nie. Hy was in elk geval nog altyd daar … hierdie paar stappe help ons dalk om dit meer te beleef.
Die eerste Digiklesia-webinaar was ses gesprekke wat fokus op die geleenthede en uitdagings van aanlynbediening. Hierdie gesprekke is gratis beskikbaar by http://ngkerkpellissier.co.za/digiklesia en ons deel dit graag met jou.
- Ds Francois Lamprecht is ’n leraar by die NG gemeente Pellissier in Bloemfontein.
