Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Begrafnisse lyk tydens die Covid-19-pandemie geweldig anders, vertel leraars wat ook families tydens hulle rouproses digitaal moet ondersteun. Ds Marco Koch, predikant by NG gemeente Eros in Windhoek, Namibië, vertel dat hy die laaste week vyf begrafnisse in een week aanlyn moes hanteer. Foto: Marco Koch

‘Dis anders om digitaal te rou,’ sê leraars

Predikante moes sedert Maart verlede jaar, toe die Covid-19-pandemie verwoesting in Suid-Afrika begin saai het, nie net gewoond raak om digitaal tydens eredienste te bedien nie, maar moes ook hulle nuutgevonde digitale vaardighede gebruik om aanlyn begrafnis te hou.

Behalwe vir praktiese kommer oor of die Wi-Fi sterk genoeg gaan wees om die begrafnisse digitaal uit te saai en of daar skielik beurtkrag ingestel gaan word, sê ds Rudi Swanepoel, predikant by Andrew Murray-gemeente in Johannesburg, dat die hele aard van die rouproses vir families en die hantering daarvan deur predikante verander het.

LEES OOK: Vredendal: Verslaenheid ná Covid dorp tref

“Die hele rouproses is anders tydens digitale begrafnisse,” sê Swanepoel. “Families besef begrafnisse lyk nou anders. Daar is minder fieterjasies. Daar word nou meer op die kern, die persoon wat oorlede is, gefokus. Mense rou anders. Hulle weet die rouproses gaan langer neem. Ek dink die pandemie het ons kom leer dat daar nie iets soos closure bestaan nie. Elke rouproses is uniek,” sê Swanepoel.

Ds De la Harpe le Roux van die Tweetoringkerk in Bloemfontein beaam dit en sê hy mis dit om ordentlik saam met die familie van die afgestorwene te sit en rustig oor alles wat hulle tydens die begrafnis beleef het, te praat. “Dis moeilik om digitaal met die familie tydens hulle rouproses, wat lank na die begrafnis voortduur, te gesels. ’n Mens probeer maar met WhatsApp en oproepe, maar dis totaal onbevredigend,” sê Le Roux.

LEES OOK: Verwerk die ‘voortslepende Covid-trauma’ só

Die digitale rouproses is egter nie net tans uitdagend vir die families wat die predikante tydens begrafnisse moet begelei nie, maar het ook ’n invloed op die emosionele welstand van die predikante sélf. Dr Marina Strydom, leraar by NG gemeente Ooskerk in Pretoria, vertel sy het onlangs spottenderwys na die uitdagings wat die Covid-19-pandemie vir leraars inhou verwys en gesê dat dominees ná die pandemie mental health holidays gaan nodig hê. Minwetend dat sy tydens die derde vlaag van die Covid-pandemie, wat Gauteng tans oorweldig, sal besef hóé waar die woorde eintlik is.

Swanepoel stem saam. Hy vertel dat die meeste predikante in Gauteng, waarvan hy weet, deur uiters moeilike tye gaan. “Dis ’n worsteltyd. Die meeste predikante word tans gerek soos ’n rekkie wat ’n mens verder en verder uitrek en ’n mens weet nie wanneer dit gaan snap nie,” verduidelik Swanepoel.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top