’n Algemene praktisyn van Sasolburg in die Vaaldriehoek vertel sy het die afgelope ruk vele pasiënte en boonop haar vennoot as gevolg van Covid-19 aan die dood afgestaan.
“Ek vrees dat my pasiënt, vir wie ek ken en vir wie ek omgee, gaan swaar kry of selfs sterf, soos van ons geliefde pasiënte, oud en jonk, gedurende die afgelope paar maande gesterf het. Self is ek so bang om dit weer te kry. Tog net nie wéér siek of hospitaal toe nie, asseblief, Here?” is hoe dr Anske van As, wat ’n privaat praktyk in Vaalpark het, haar emosies verwoord.
Van As het ook vroeër vanjaar met Covid-19 in die hospitaal beland. Sy het ’n vorm van hartspierontsteking gehad en ’n breinskandering het klein klontjies in haar are ontdek. Maar sy het intussen deur die “genade van Bo” herstel.
LEES OOK: Godsdiensleiers verwelkom strenger regulasies om Covid te bekamp
Ds Maartje van der Westhuizen, predikant van die NG gemeente Elarduspark in Pretoria, het so pas herstel van Covid-19. Sy vertel dat dit moeilik is om heeltyd te bepaal hoeveel lidmate siek is, hoewel hulle hulle bes probeer om ’n lys by te hou. “Ek het onlangs in een week met 10 gesinne gesels waar daar Covid-19 was. Die meeste lidmate ken ook iemand wat dood is aan Covid. Die situasie met min plek in hospitale skep baie angs.
“Ek dink wat vir predikante moeilik is, is dat ons so graag wil help, maar ons weet nie altyd hoe nie omdat interaksie beperk word. Ons moet nou baie kreatief dink hoe om mense te bereik,” sê Van der Westhuizen.

Volgens haar gaan dit in die toekoms, wanneer ons weer met groepe in aanraking kan kom, uiters belangrik wees om ná die hewige trauma te “debrief”.
Die voortdurende koronaviruspandemie het inderdaad ’n hewige effek op alle Suid-Afrikaners se emosionele toestand, beaam kundiges.
Volgens Melody Ngcuka, ’n sielkundige in privaat praktyk, is daar sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie ’n groot toename in pasiënte (dokters en verpleegpersoneel ingesluit) met angs-, paniek- en posttraumatiese stresversteurings.
LEES OOK: #covidkinders vertel húl stories (Deel 1)
“Mense ervaar tans al die emosies wat met verlies gepaardgaan – skok, woede, emosionele pyn. Maar dit strek nou verder as slegs verlies, omdat dit op ’n groter skaal is. Dit (die virus) is genadeloos en barbaars, wat beteken dat daar geen gevoel van ‘begin’ of ‘einde’ is nie. Die Covid-ervaring is ook ’n voortslepende trauma. Dit beteken dis nie slegs verlies nie, dit is ’n traumatiese verlies vir almal,” verduidelik Ngcuka.
Ngcuka sê dit is uiters belangrik om aan die pyn, wat as gevolg van dié traumatiese verlies ervaar word, uiting te gee. “Gee uiting deur te huil, jou pyn te verbaliseer, hou ’n joernaal of praat met ’n terapeut, predikant of vriende. Vind betekenisvolle maniere sodat jy vorentoe kan beweeg.”
LEES OOK: #covidkinders vertel húl stories (Deel 2)
Ngcuka, wat reeds die afgelope 24 jaar berading gee, bied die volgende wenke wat jou kan help om die Covid-trauma te verwerk.
Wenke op jou pad na genesing
- Jou ingesteldheid teenoor verandering
Wanneer jy sielkundige trauma ervaar het, is dit soms moeilik om die lewe met positiwiteit aan te pak, sê Melody. Volgens die Bybel is daar ’n tyd en ’n seisoen vir alles. Die lewe is dinamies en ons moet gedurig by verandering aanpas – binne onsself maar ook buite onsself. Perspektief is alles! Die betekenis wat jy toeskryf aan wat of wie jy verloor het sal bepaal of jy vorentoe beweeg of ineenstort. Ons vind soms betekenis in swaarkry en dis ’n proses wat nie aangejaag moet word nie, maar waaraan jy doelbewus moet deelneem. Voorgestelde leesstof: A man’s search for meaning van Victor Frankl.
- Verminder onsekerheid
Dit gaan tans eerder ’n individele reis as ’n groeppoging wees. Deel daarvan om onsekerheid te verminder is om ingelig te bly. Dit beteken egter nie jy moet die nuus slaafs navolg nie. Weet dus wat om jou aangaan sonder om consumed te word.
- Dink rasioneel
Dit wat jy dink bepaal hoe jy voel, wat weer direk jou optrede bepaal. Dit is onmoontlik om te ontken wat om jou aangaan, maar onthou – as jy glo ons is verslaan, sal ons verslaan word. Probeer om die veranderinge in jou lewe rasioneel te prosesseer en begin om aan alternatiewe planne te dink.
- Ondersteuning
Ondersteuningsnetwerke is uiters belangrik. Daar is verskeie maniere om steeds met ons geliefdes te kommunikeer. Probeer egter om negatiewe mense te vermy wanneer jy nie op die regte emosionele plek is nie. Ondersteuningsgroepe wat bestaan uit mense met dieselfde geloof werk baie goed omdat dié mense dieselfde waardes het.
- Organiseer en beplan
Die meeste mense werk tans van die huis af. Vind ekonomiese maniere om ’n gemaklike huiskantoor te skep. Struktureer jou werksure en skep grense wat gesinslede betref.
- Ontspan en oefen
Selfs wanneer jy tuis is, is alleentyd baie belangrik om kwessies soos irritasie hok te slaan. Probeer stokperdjies beoefen en oefen gereeld omdat dit noodsaaklik vir stresverligting is.
- Berading
Dit is nooit ’n slegte idee om professionele hulp te kry wanneer jy sukkel om te funksioneer nie.
- Voedsel uit die Woord
Bo alles moet jy jouself met die Woord voer. Wanneer jy totaal oortuig is dat jou lewe in God se hande is, sal jy innerlike vrede ervaar, ten spyte van die eksterne chaos om ons.
Skitterende artikel en baie bruikbare raad vir dominees, kerkraadslede, familielede en vir selfsorg. DANKIE!
Hierdie was tot dusver die beste artikel oor die verwerking van die pandemie wat ek die afgelope 18 maande gelees het. Die artikel gee praktiese wenke deur rasionele denke weer.